Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 2 - Annelize Morgan страница 17

Annelize Morgan Omnibus 2 - Annelize Morgan

Скачать книгу

gras bly sit.

      Celèste probeer nie eens van die venster af wegkom nie en toe die graaf by die voordeur instap, sien hy haar dadelik by die venster raak.

      “Dan wás dit jy wat gegil het,” sê hy en stap by haar verby na die studeerkamer.

      Sy gaap hom aan. Hy sê nie eens dankie dat sy hom gered het nie.

      “U moes hom doodgemaak het, monsieur,” sê sy skielik net voordat De Bordeaux by die studeerkamer ingaan.

      Hy steek vas en kyk om na haar. ’n Glimlag raak aan sy mond.

      “De Villiers en Emile sou nie geaarsel het om my te oorrompel en Kasteel toe te neem nie. Daar is te veel ander belangrike dinge wat ek nog moet doen. Ek kan nie nóú al in die Donker Gat gegooi word nie.”

      Hy gaan by die studeerkamer in, maar laat die deur oop.

      Celèste gaan in die deuropening staan.

      “Hy sal terugkom … en hy sal nie weer onnodige foute maak nie.”

      De Bordeaux kyk ietwat nuuskierig na die eenvoudige kamermeisie wat hom met soveel afkeer aankyk.

      “En waarom sou jy jou oor mý welsyn bekommer, mademoiselle Du Toit? As ek sou sterf, is jy tog ontslae van die verantwoordelikheid van die leersak.” Hy sak in ’n leunstoel neer en frons skielik diep. “Dit laat my dink … indien ek sou sterf, moet jy die sak vernietig. Dan het ek geen nut meer daarvoor nie en dit kan jou net in die moeilikheid laat beland.”

      “En wat van monsieur Le Blanc? Die sak is tog vir hóm van belang.”

      “Le Blanc is ’n skurk,” antwoord De Bordeaux minagtend. “Ek gun hom nie die sak as ek moet sterf nie. Nee, as ek dood is, mag hy die sak nie kry nie.” Hy kyk na haar en daar is ’n dringende uitdrukking in sy oë. “Belowe my dat jy dit sal vernietig as ek sou sterf.”

      Sy sluk hard en aarsel. Die storie oor Le Blanc hinder haar …

      “Belowe my, Celèste!”

      Sy kyk ietwat verskrik na hom. “Hoe kan ek, monsieur? Ek weet mos nie watter waarde die sak vir monsieur Le Blanc het nie. Dalk is dit vir hom ook lewensbelangrik.”

      De Bordeaux lag hardop en dan raak hy skielik weer ernstig toe hy hoor hoe die De la Roques en monsieur De Villiers met die koets vertrek. Dis asof hy weer ontspan.

      “Jy is erger as ’n hof, Celèste. Jy vra meer vrae as selfs ’n regter.” Hy kyk af na die tapyt onder sy voete en sê: “Etienne le Blanc is ’n glibberige, liederlike, klein mannetjie met ’n smerige verstand. Ek verseker jou jy is niks aan hom verskuldig nie.”

      “Ek … het gedag dat hy ’n vriend van u is, monsieur …”

      “Ek sal hom nooit ’n vriend noem nie … ek is bloot net nie sy vyand nie. Dit kan baie gevaarlik wees. Le Blanc is ’n afperser en ek kan jou verseker dat as daar dokumente in daardie sak is, sal hulle wel iemand in ’n slegte lig stel. Dan kan monsieur Le Blanc sy volgende slagoffer begin droogsuig.”

      Celèste ril liggies. “U laat hom klink na ’n vampier.”

      “ ’n Baie raak beskrywing, moet ek sê. Loop jy maar net lig vir hom en sorg dat die sak vernietig word as ek sou sterf.”

      Celèste knik. Sy wens sy kon vir hom sê hoe graag sy wil hê dat hy liewer moet lewe, dat sy hom veel eerder hier op La Montagne aan Madeleine Tredoux se sy sal wil sien as onder die grond in ’n begraafplaas, maar sy sê niks. Sy het reeds te veel gesê vandag en kan baie bly wees dat hy hom nie daaroor vererg het nie.

      Toe sy later na die kombuis terugkeer, is Jeanne daar besig om koffie te maak. Die ouer vrou kyk afkeurend na die meisie.

      “Jy is deesdae baie danig met monsieur De Bordeaux. Het jy dan jou plek in die huis vergeet, Celèste?”

      Celèste skud haar kop vinnig. “Non … ons het maar … maar net oor iets gepraat, dis al.”

      “Jy raak heeltemal te eie met monsieur. Pasop dat jy nie afgedank word nie. Jy sal ver moet gaan soek om ’n beter werk te kry.”

      “Ek ken my plek, Jeanne.”

      “Ek hoop so.”

      Celèste antwoord nie. Wat kan sy sê sonder om met die hele sak patats vorendag te kom? Laat Jeanne maar van haar swye dink wat sy wil. Dis beter so as dat die geselserige Jeanne dalk net aan die verkeerde persoon die verkeerde dinge sê.

      Celèste voel glad nie gerus nie. De la Roque sal weer en weer kom. As sy net geweet het wie daardie aand toe Garcon vermoor is, die huis deursoek het vir die leersak, sou sy darem al gevoel het sy weet van watter kant die gevaar gaan kom. Maar sy weet niks. Sy weet nie eens presies hoekom die sak vir monsieur De Bordeaux so verskriklik belangrik is nie.

      Die huis laat haar benoud voel. Telkens loop sy haar in Jeanne vas, wat haar ondersoekend bly aankyk, en dit ontsenu haar. Monsieur De Bordeaux probeer ook nie eens om haar gerus te stel nie. Sy kan hom dit nie eintlik kwalik neem nie, want wanneer daar ’n swaard oor ’n mens se kop hang, dink jy sekerlik nie nog aan ander mense nie.

      Teen Donderdagmiddag gaan sy ’n ver ent stap net om haar gedagtes weer skoon te kry en ’n bietjie vars lug te skep. Garcon se beeld keer telkens na haar gedagtes terug, hoe hard sy ook al probeer om dit daaruit te verban.

      Sou iemand dalk die leersak ook daar in Garcon se kamertjie gaan soek het die nag toe hy vermoor is? Dalk het Garcon die persoon daar verras. Dis waarom hy met sy lewe moes boet. Garcon was die enigste een wat geweet het wie vir die soekwerk verantwoordelik was en daarom moes hy doodgemak word. Celèste is seker daarvan dat Garcon sy aanvaller herken het.

      Celèste bestyg ’n hoogtetjie waarvandaan sy die buurplaas waar Madeleine Tredoux woon, kan sien. Blote nuuskierigheid het haar hierheen laat kom. Die Tredouxs woon in weelde en daarom was dit vir haar nuus toe Madeleine die aand aan De Bordeaux vertel het dat haar pa in groot finansiële moeilikheid verkeer. By die Tredouxs se opstal is daar geen teken van ’n tekort nie.

      Sy klouter aan die ander kant van die koppie af en stap tot op die grens van La Montagne. Daar kyk sy rond of iemand haar gewaar en dan draf sy vinnig na die volgende koppie. Bo van dié koppie af kan sy die werf van die Tredouxs se landgoed sien. Die omgewing is doodstil en sy wil net teleurgesteld teruggaan na La Montagne, toe die voordeur van die herehuis skielik oopgaan en ’n man uitsteier.

      Celèste se oë rek groot. Dit lyk asof die man dronk is. Sou die Tredouxs dan nou so vroeg in die dag al begin drink het? Maar dan kom Jacques Tredoux ook by die deur uit. Hy by doodstil staan toe sy besoeker skielik struikel en met die trappe afval tot onder op die grasperk, waar hy doodstil bly lê.

      Tredoux gaan stadig nader en toe hy die man bereik, lig hy sy voet en skop hom genadeloos in die ribbes. Die man krul van pyn en probeer orent kom. Tredoux skop hom weer en weer.

      Die beseerde man kry dit uiteindelik reg om orent te sukkel en met die woede van ’n slang spuug hy na Tredoux, wat hom met ’n vinnige regter weer teen die grond neervel.

      Celèste voel siek oor wat sy voor haar sien gebeur. As dit nie was dat sy op Tredoux se grond was nie, sou sy op hom gegil het. Nou durf sy dit nie doen nie. Hy sal haar hier kom haal en wie weet wat hy met háár sal doen.

Скачать книгу