Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 2 - Annelize Morgan страница 5
“Maar u behoort tog te weet, monsieur! U het dan die twee mans na my gestuur om die leersak te kom haal! Ek moes net eenvoudig self uitvind wat gebeur het. Dis ondenkbaar dat u in die Kasteel opgesluit kon word! Dis onmenslik en –”
“Wag nou!” keer hy haar woordevloed. “Het jy gesê twee mans het jou om die sak kom vra?”
“Oui, monsieur.”
“Het jy dit aan hulle gegee?” vra hy dringend en kyk bekommerd na haar.
Sy skud haar kop vinnig. “Non, monsieur! U het dan uitdruklik gesê dat ek dit aan niémand mag gee nie!”
Hy slaak ’n sug van verligting. “Jy het my ’n oomblik lank bekommerd gehad! Daardie sak is verskriklik belangrik.”
“Dan was u glad nie in die Donker Gat nie?” wil sy verbaas weet.
Hy lag sag. “Natuurlik nie. Waarvoor sal ek in die tronk gegooi word?”
Sy glimlag en haar ernstige gesiggie helder op. “Ek is bly, monsieur. Ek kon dit net nie aanvaar nie. Die twee menere het my sowaar hulle storie laat glo. Ek kry sommer skaam daaroor.”
“Jy het niks om jou oor te skaam nie. Kom, klim op jou perd sodat ons huis toe kan gaan. Ons het genoeg opwinding vir een nag gehad.”
Hy help haar in die saal en oomblikke later is hulle op pad terug na die herberg waar Celèste laaste aangedoen het.
Die angs in haar het bedaar. Noudat die graaf De Bordeaux by haar is, het sy niks te vrees nie. Hy is ’n gedugte swaardvegter. Niemand kon hom nog ooit verslaan nie.
Terwyl hulle teen ’n veel stadiger pas na die herberg terugkeer, vertel Celèste aan die graaf wat daar op La Montagne gebeur het. Hy luister sonder om kommentaar te lewer. Net die diep frons tussen sy blou oë verraai dat haar verhaal hom bekommerd laat voel.
By die herberg word hulle gul deur ’n ietwat verbaasde herbergier ontvang. Die graaf stel voor dat hulle liewer in die herberg oornag aangesien Celèste reeds te moeg is om veel langer regop in die saal te kan bly. Sy sal onmoontlik nog meer as ’n uur en ’n half op ’n perd se rug kan wees.
Nadat Celèste bed toe is, bly die herbergier en die graaf nog ’n ruk aan die gesels. De Bordeaux vind by hom uit dat daar vroeër die aand drie mans by die herberg was, maar dat hy nie een van hulle geken het nie.
Dis reeds lank na middernag toe die graaf ook uiteindelik gaan slaap.
Vir Celèste breek die nuwe dag vol belofte aan. Sy sal nog ’n hele ruk lank alleen in die graaf se geselskap wees en dis meer as wat al ooit met haar gebeur het. Hy het haar nog nooit eens raakgesien nie en nou gesels hulle asof hulle ou vriende is … Darem nie heeltemal nie, moet sy erken. Hy ís nog haar werkgewer en sy een van die geringstes in sy diens.
Die bietjie aandag wat hy noodgedwonge aan haar moet gee omdat hulle saamreis, laat haar op wolke loop. Daar is sterre in haar oë en ’n blos op haar wange. Sy is totaal onbewus daarvan dat haar hart se geheim glad geen geheim meer is nie en dat dit die graaf elke dan en wan diep laat frons.
By die laaste herberg wag daar ’n onaangename verrassing op Celèste. Reeds van ver af herken sy die spoggerige koets en toe Madeleine op die stoep uitgehardloop kom, sak haar moed in haar skoene. Sy moes geweet het dat Jeanne en Garcon die hele buurt sou vertel wat die vorige nag gebeur het. Natuurlik het hulle ook nie gras onder hulle voete laat groei om die skone mademoiselle Madeleine Tredoux te gaan verwittig nie.
En hier is die meisie in lewende lywe om haar kommer oor die graaf uit te kloek. Madeleine sien Celèste nie eens raak nie. Sy gesels opgewonde en vra hom aanhoudend uit oor wat gebeur het.
Celèste kom skoorvoetend agterna die herberg ingestap. Sy gaan eenkant sit en wag dat hulle verder moet ry, maar Madeleine is glad nie haastig nie. Sy wil graag ’n klein bietjie deel hê aan al die opgewondenheid.
Net een keer kyk die graaf na Celèste, glimlag half en bepaal dan weer sy aandag by die meisie by hom.
Celèste haal haar skouers skaars merkbaar op. Sy kan seker niks anders verwag nie. Sy ís maar net ’n kamermeisie en hy is niks aan haar verskuldig nie. Hy het die reg om haar te ignoreer as hy so voel. Tog maak dit haar ongelukkig. Het alles wat gebeur het, dan geen indruk op hom gemaak nie? Kan hy dan nie sien dat sy sy belange werklik op die hart dra nie?
Dit lyk nie asof Armand de Bordeaux en Madeleine Tredoux juis haastig is nie en uiteindelik raak Celèste moeg van die gewag. Sy staan op om buitetoe te gaan, maar toe sy by die tafeltjie verbyloop waar haar werkgewer en die meisie nog sit, keer Madeleine haar voor.
“Neem my bagasie na die koets. Ons sal binne ’n kwartier ry.”
Sy kyk terug na Armand asof sy reeds van Celèste vergeet het.
Celèste staan ’n oomblik lank besluiteloos. Sy is verskriklik moeg, maar sy weet dat sy Madeleine se bevel nie durf verontagsaam nie.
Madeleine kyk op en lyk ergerlik toe sy Celèste nog daar sien staan. “En toe? Waarvoor wag jy? Daar is vier reissakke wat uitgedra moet word.”
Celèste kyk net vlugtig na die graaf en dan weer na Madeleine. Sy maak ’n onderdanige kniebuiging.
“Oui, mademoiselle, ek gaan dadelik.”
Sonder om weer na een van hulle te kyk, draai sy om en gaan met die trap na bo. ’n Paar minute later kom sy steierend met twee van Madeleine se reissakke met die trap na onder.
Ernest, Madeleine se koetsier, snel haar te hulp.
“Dis nie nodig nie, Ernest, sy sal regkom,” klink Madeleine se stem op.
Ernest steek vas en Celèste kyk ongelowig na die ander meisie. Is dit nou nodig om só moedswillig te wees? Sy pers haar lippe opmekaar en verander haar greep op die handvatsels van die sakke.
Armand staan van die tafel af op en loop na Ernest. “Neem asseblief die reissakke by haar.”
Ernest kyk onseker na Madeleine, wat die graaf aangluur, en dan knik hy net vinnig.
“Oui, monsieur.” Hy draf teen die trap op en neem die sakke by Celèste.
Toe hy weer by Armand verbykom, sê hy vinnig: “Mademoiselle Tredoux gaan my hieroor ontslaan, monsieur.”
“Dan sal ek vir jou werk hê, Ernest.”
Die koetsier grinnik breed, kap sy hakke teen mekaar en stap by die voordeur uit.
Armand gaan weer by Madeleine sit.
“Hoekom het jy my bevel teëgegaan, Armand?” wil Madeleine weet.
“Omdat dit onredelik was.”
“Dis nie onredelik om van een van jou bediendes te verwag om my bagasie na die koets te neem nie,” kap sy teë.
Hy kyk fronsend na die silwersuikerpot voor hom op die tafel. “Celèste is een van mý werknemers, Madeleine, en jy weet net so goed soos ek dat sy te tengerig is om jou swaar reissakke te kan dra.”
Madeleine frons ergerlik. Sy hou nie daarvan om reggehelp