Annelize Morgan Omnibus 2. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 2 - Annelize Morgan страница 7
Sy gee die portret terug aan De Bordeaux. “Dit sal moeilik wees om hom te onthou, monsieur. Hy lyk maar doodgewoon … net vreeslik verveeld.”
Armand lag skielik sag. “Heeltemal korrek. Hy het veel meer geld as wat hy kan uitgee en dit het hom bederf. Hy is egter baie kort … ek glo nie hy is ’n duim langer as jy nie. Sy hande is ook besonder klein en daaraan sal jy hom baie maklik kan uitken.”
Sy kyk onbegrypend na hom. “Maar … maar hoekom moet ek hom kan herken?” wil sy weet.
Hy beduie na ’n stoel. “Sit …”
Haar oë rek. “Pardon, monsieur?”
“Sit, vroumens,” sê hy ongeduldig. “Al wat jy in hierdie stadium hoef te weet, is dat my lewe van daardie sak afhang. Verloor ek die sak, sal ek nie nog ’n jaar ouer word nie.”
Sy word yskoud. Hy bedoel werklik wat hy sê.
“Weet u wat in die sak is?” vra sy na ’n kort stilte.
Hy haal sy skouers op. “Dis nie van belang nie. Die inhoud het niks met hierdie saak te doen nie. Sover dit my betref, kan daar skoon papier in wees. Ek het egter ’n verpligting en ek moet dit nakom as ek my lewe liefhet. Begryp jy?”
“Non …”
Hy lag ten spyte van die erns van die situasie. “Dit sal ook nie help om te verduidelik nie. Bewaar jy maar net daardie sak met jou lewe … dis al wat ek het wat tussen my en die galg staan.”
Celèste aarsel voordat sy sê: “Dis ’n groot verantwoordelikheid vir my, monsieur.”
Daar is ’n vreemde lig in sy blou oë toe hy na haar kyk.
“Ek vertrou op jou, Celèste … jy sal beloon word.”
Sy bloos en staan haastig op om haar verleentheid te verberg.
“Mag ek nou maar gaan, monsieur?”
“Jy mag … Dis seker nie vir my nodig om jou te waarsku om geen woord met ’n ander sterfling hieroor te praat nie, is dit?”
“My mond is verseël, monsieur,” sê sy met soveel erns dat ’n glimlag aan sy mondhoeke pluk.
“Nou goed dan. Dit sal voorlopig al wees.”
Celèste verlaat die studeerkamer met haar gedagtes ’n deurmekaar warboel. Sy wonder of enige ander lewende siel weet van alles wat De Bordeaux haar vanmiddag hier vertel het. Sou Madeleine weet hoe verskriklik belangrik daardie sak in werklikheid vir Armand is? Sy glo nie. Dan sou die meisie dit nie wou gehad het om haar pa te verryk nie.
Terwyl sy na haar kamertjie toe stap, wonder Celèste wat alles beteken wat hy gesê het. Hoekom sal hy galg toe gaan as hy die sak verloor? Wat het haar goeie, wonderlike, vriendelike werkgewer gedoen dat hy die doodstraf verdien?
Sy ril liggies. Sy ken hom glad nie … sy is verlief op hom en dan sien ’n mens net die mooi raak. Sou daar dalk ’n ander Armand skuil agter die een wat sy gedink het sy ken?
Die verantwoordelikheid van die leersak rus swaar op Celèste se skouers, maar sy wil ook nie daaroor kla nie. Dit is tog nog vir haar ’n vreugde om iets só belangrik vir die graaf De Bordeaux te kan doen.
Dis net Madeleine Tredoux wat ’n skaduwee oor haar geluk werp. Dis amper asof sy die meisie haat wanneer sy glimlaggend en stralend aan Armand de Bordeaux se sy deur die tuin wandel, of voor die spinet sit terwyl Armand met half-toe oë luister na die musiek wat sy maak. In die verlede het dit dikwels gebeur dat Madeleine lang rukke nie op La Montagne gesien is nie en dan het Celèste altyd geweet dat Madeleine en Armand rusie gehad het. Sedert Celèste egter die nag na haar werkgewer gaan soek het, het dit nie weer gebeur nie. Madeleine is die liefde en vriendelikheid self.
Na al die drama van die afgelope paar dae, onthou Garcon weer wat hy van plan was om te doen voordat sy rustige lewe se gang versteur is. Hy wag Celèste in toe sy eiers gaan uithaal. Hy sal sy sê moet sê voordat daar dalk weer iets gebeur wat sy sake gaan verongeluk.
“Ek wil met jou praat,” sê hy en neem die mandjie by haar.
“Waaroor?” wil sy ongeërg weet.
“Ek wil met jou trou,” kom die antwoord sonder aarseling.
Celèste staar ongelowig na hom. “Jy maak seker ’n grap!”
Hy frons vies oor haar reaksie. Hy het darem verwag dat sy ’n bietjie opgewonde sou wees.
“Is dit nou hoe ’n meisie reageer wanneer ’n man haar vra om te trou?” wil hy weet.
Celèste onderdruk ’n laggie. “Wag nou so ’n bietjie, Garcon! Jy kom vra my so onverwags om te trou en jy word vies omdat jy my onkant betrap.”
“Wel, sal jy darem daaroor nadink?” kom hy haar tegemoet.
Celèste is nie lus vir redekawel nie en sê: “Nou goed, Garcon, ek sal daaroor dink, maar ek belowe jou niks.”
Hy knik somber. Sy het hom darem nie summier weggestuur nie. Hy gee die mandjie aan haar terug en gaan weer na die stal om sy werk te gaan klaarmaak.
Celèste haal die eiers ingedagte uit die neste. Garcon was nog maar altyd ’n bietjie onvoorspelbaar. Sy huweliksaansoek het egter as ’n groot verrassing gekom. Sy het dit glad nie verwag nie. Om die waarheid te sê, sy het Garcon die afgelope weke skaars raakgesien.
Sy het geen benul van hoe sy hom gaan weier sonder om hom seer te maak nie. Hy was nog altyd ’n baie goeie vriend vir haar en sy wil nie in kwaaivriendskap met hom leef nie. Hy, Jeanne en sy is op mekaar aangewese hier op die afgeleë landgoed van Armand de Bordeaux.
Daar is ’n besoeker in die herehuis toe sy teruggaan. Jeanne is in die kombuis doenig en lyk nie baie in haar skik nie.
“Iets verkeerd?” wil Celèste weet.
“Dis ’n ongeskikte vent wat hier op meneer De Bordeaux sit en wag. Sy ma het hom nooit maniere geleer nie.”
Celèste lag onbekommerd. “Ag, kom nou, Jeanne, dit kan tog nie só erg wees nie.”
“Ek hou nie van hom nie,” hou Jeanne vol.
Celèste haal haar skouers liggies op en sit die mandjie op die tafel neer.
“Garcon het my gevra om met hom te trou,” sê sy.
Jeanne ruk orent en staar ongelowig na die meisie. “Jy moenie sulke grappe maak nie, meisiekind!” raas sy.
“Dis nie ’n grap nie. Ek wonder net hoe ek hom moet sê dat ek nie belangstel nie.”
“Garcon is ’n goeie, hardwerkende man. Jy sal nooit ’n tekort hê as jy met hom trou nie.”
Celèste trek ’n gesig. “Ek wil tog nie my lewe lank