Sonnet sonder woorde. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Sonnet sonder woorde - Ettie Bierman страница 5
“Daai ou wás mos Hofmeyr, as ek reg onthou.”
Hoe kán Fiela so wreed wees, of so onnosel!
“Jy onthou verkeerd,” korrigeer Valdi, diep gegrief. “Ek het g’n gehuil nie, ek was dankbaar om van hom ontslae te wees, en Tiaan het my mos toe gevra om te kys.”
“Tiaan? Wie’s hy? Ek onthou g’n Tiaan nie.”
“En toe Pietman Botha,” las Valdi by, voor Fiela verder kan uitvra.
Fiela trek haar neus op. “Piet Bleeksiel? Hoe lank het hy gehou?”
“Lank genoeg. Dis hy wat my aan Niek voorgestel het.”
“Daai droërangskikking?”
Valdi vererg haar. Die oorsese trip was Fiela se simpel idee en Valdi wens sy’t nie saamgekom nie. Fiela is heeltemal taktloos, met ’n selektiewe geheue en ’n vrye sê oor almal. Valdi wil beslis nie hier voor Duard staan en derms uitryg nie; hy staan juis en beskou hulle met ’n halwe glimlag, asof hulle nie eens van sy bestaan bewus is nie.
Haar niggie het gelukkig belangstelling in die gesprek oor die verlede verloor – groener weivelde is in sig. Sy gee haar bloes se V-vormige halslyn skelm ’n afwaartse plukkie en fladder haar wimpers vir Duard.
“Wel, hóm sou ek beslis onthou het …”
Duard se mondhoeke skiet boontoe. Dieselfde gene, maar die niggies verskil soos dag en nag.
“Wat maak julle meisies op Capri?” vra hy. “Vakansie?”
Dis Fiela wat antwoord. “Salige vakansie, ja. Ons was drie dae in Egipte en vandaar Napels toe. Toe sien ons op die lughawe hierdie special wat geadverteer word, koop twee kaartjies op die boot na Capri, betaal vir net een. Ek’s altyd ’n bok vir specials, so hier’s ons: boobs and all.”
“Fiela!” roep Valdi geskok uit.
Duard lag. “Dis buite seisoen, vandaar die spesiale aanbiedings en taxi’s en hotelle wat desperaat is vir klandisie. Hoe lank is julle op die eiland?”
Fiela haal haar skouers op. “Soos die gees ons lei. Ons het ’n maand vakansie om te bly, te gly of te ry soos ons lus het.”
“Maar ons is haastig om in Rome en Venesië te kom,” herinner Valdi haar, “dan nog Engeland, Frankryk en Switserland. En Spanje en Griekeland … Ons kan nie langer as ’n dag hier mors nie.”
“Mórs?” eggo Fiela. “Wat praat jy … Jy, wat so in vervoering was oor die deurskynende turkoois baai, die piazzas en stegies en sypaadjiekafees. Wat van die Blou Grot? Het jy daarvan vergeet?”
“Die hele Europa is vol piazzas en stegies.”
Fiela ignoreer haar suurpruimniggie en draai liewer na Duard. Die mansmens is sondig mooi. G’n wonder Valdi het haar oë leeggehuil oor hom nie. En g’n wonder geen ander man daarna was ooit weer goed genoeg vir haar nie. Nie eens Niek Greyling nie, al gee sy voor daar is iets aan die broei tussen hulle. Niek is gaaf en hy’s ’n dokter, maar teen hierdie eks van haar niggie lyk alle ander mans inderdaad soos droërangskikkings.
“Jy weet nie dalk van blyplek op ’n special nie, Duard?” skimp Fiela. “Ons het lank vir hierdie trip gespaar, maar die rand het intussen gedaal, die resessie, jy weet. Dis so min werd, alles kos omtrent twee keer soveel as waarvoor ons begroot het. Ons moet ons rieme dun sny om darem te kan eet, met af en toe ’n ou glasie rooiwyn daarby.”
Duard dink na, dan knik hy. “Toevallig, ja. ’n Goeie vriend van my het ’n pensione – oftewel gastehuis – wat bed en ontbyt aanbied. Sophia’s lyk soos ’n Middeleeuse kasteel, nie reusagtig groot nie, maar daar’s ’n swembad en die kamers is modern, met ’n badkamer en balkon, ’n see-uitsig, en dis naby die strand.”
“Wow! Teen watter prys – ’n arm en ’n been?”
“Gratis.”
Fiela kyk hom net. Sy het nie geweet vandag is die eerste dag van April nie.
“Mahala. Pasella,” sê hy.
“Dis te goed om waar te wees. Wat is die vangplek?”
Duard huiwer. “Julle sal net moet, e … kos maak.”
“Ontbyt? Dis niks. By die huis doen ek dit tog elke dag: bokspap, toast en jogurt … Maklik.”
“Dalk … effe meer,” erken hy.
“Soos wat?”
“Soos omelette, spek, vis, torta, canolli en so aan …”
“Wat is daardie laaste twee?”
“Tradisionele Italiaanse disse, ter wille van die toeriste. So ’n tert-ding en ’n pannekoekerige konkoksie,” antwoord hy vaag.
Fiela laat haar nie afskrik nie. “Valdi maak sulke fancy geregte sommer met haar linkerhand. Sy’s mos ’n dieetkundige.”
Duard is geïnteresseerd. “O? Ek het nie geweet nie. Praktiseer sy?”
“Ja.”
“Waar?”
“By Bloemkloof-hospitaal, as konsultant saam met Niek Greyling en drie ander dokters.”
Kompleet asof sy nie teenwoordig is nie, dink Valdi geïrriteerd. ’n Meubelstuk, ’n tafel of ’n stoel wat nie kan praat nie.
“Waar is hierdie kamstige vyfster-cholesterolkweekhuis?” wil sy skepties weet.
Duard wys met die vinger. “Bergaf met dieselfde pad wat julle gekom het.”
“En hoe kom ons daar? Weer per taxi?”
“Ja, myne. Ek sal julle neem.”
Valdi se wenkbroue lig. “Jy het ’n taxi?”
“Ja. Sy naam is Willie.”
“Willie wát nie?” terg Fiela.
“Willie twee mooi girls hier op die berg laat staan sonder ’n heenkome nie,” spot hy saam, haak twee rugsakke oor sy skouer en tel Fiela se tas op. “Sjoe, wat is hierin? Klippe?” kreun hy.
“Moenie na mý kyk nie,” snip Valdi. “Ek reis lig – net ’n rugsak met ’n paar tops en kortbroeke.”
Voor hy homself kan keer, dwaal Duard se oë na haar bene. Sy was op skool ’n topatleet en reeds in graad agt die ondersestien-tenniskampioen. Valdi het altyd mooi bene gehad, hoewel effe maer. Maar in nege jaar het sy kuite bygekry, so welgevorm, hulle sal selfs ’n standbeeld sy kop laat lig en twee keer kyk. Soos haar nuwe paar boobs – om Filandi se woord te gebruik – ’n man drié keer laat kyk …
Hy betrap Valdi se spottende oë op hom en sy gesig word rooi, soos ’n skoolseun wat met ’n pornotydskrif betrap is. “Gelukkig het die klippe wieletjies,” mompel hy en rol die