Soekers na die son. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Soekers na die son - Ena Murray страница 7
Sy veg terug … weet dis tevergeefs. “Wat van die honderde en honderde kinders wat deur mense aangeneem is? Sê nou maar ek het op ’n aangenome kind verlief geraak? Sou Pa-hulle dieselfde houding ingeneem het?”
Haar pa sprei sy hande oop. “Ek weet nie, Hantie. Ek weet regtig nie … My dogtertjie, moenie só na my kyk nie, asseblief! Ons is lief vir jou, Hantie. Ons dink aan jóú, aan jou toekoms, aan jou geluk, aan jou kinders wat jy hopelik eendag sal hê. Dis nie dat ons …”
“Laat staan maar die verduidelikings, Pa. Ek weet wat Pa wil sê.” Sy draai weg van hulle, kyk blindelings teen die skildery teen die muur vas. “Ek sal nie van Nols afstand doen nie. Julle moet dit weet. As ek en Nols nie trou nie, sal dit net om een rede wees. Net één: As hy my self in die pad steek.”
“En die risiko’s wat jy gaan loop?”
Die harde, ontnugterde oë kyk weer ’n wyle na haar ma. “Is mý risiko’s. Net myne. Ma hoef nie bang te wees nie. Ek sal nie op julle skouers kom huil of by julle om hulp kom aanklop as daar dan iets moet gebeur nie. Wees gerus.”
Dapper woorde – domastrant, ondeurdag – vir ’n meisie wat maar nog so ’n kort entjie op die lewenspad gestap het.
3
Vir die vier mense wat agtergebly het, voel die groothuis vanaand skielik besonder groot. Ná Nols se beroerte-aanval wat uiteindelik tot sy dood gelei het, het Helgard en Elise uit hulle huis, die marmerpaleis soos ta’ Vroeteltjie dit destyds gedoop het, getrek. In die oorspronklike opstal van Paradys sou hulle beter na hom kon omsien. Nou is hy weggebêre agter die sipresse, die skaar begrafnisgangers is huis toe, die res van die familie ook … en skielik voel die vier mense totaal verlore.
Elise stoot haar aandkos weg en sê beslis: “As julle dan voel ons moet hom alleen laat, goed. Maar ek gaan ten minste net Ou Werwe toe bel.”
“Hy sal nie die telefoon antwoord nie, Ma.”
“Laat haar maar probeer. Sy sal nie tot ruste kom nie,” laat Helgard hoor, sy oë teer op sy vrou wat in die ôffies – ook ’n ta’ Vroeteltjie-benaming – verdwyn.
“Sy is ’n goeie vrou, ’n goeie ma.”
“Ja. Sy is mal van kommer oor Nols. Maar so was sy nog altyd oor julle twee. Daar is nooit enige onderskeid tussen julle en Janneman gemaak nie.”
“Dis waar. Ek het vir lang, lang tye vergeet dat sy eintlik my stiefma is. Dankie dat Pa haar vir ons gegee het.” Sy stoot ook haar bord so te sê onaangeraak terug.
Haar pa kyk haar vol liefde aan. “Die dankie moet aan haar gesê word, nie aan my nie.”
“Dis waar. Ek en Nols het nog net altyd ontvang, nooit dankie gesê nie. Dis eers as jy die persoon verloor het, of die moontlikheid daar is, dat jy die regte waardebepaling kan maak.”
Helgard frons liggies. “Hoe praat jy dan nou, my kind? Niemand gaan iemand verloor nie. Nols het ons nie verloor nie.”
“Maar hy het tog iets kosbaars verloor, Pa: daardie seker wete dat hy iewers tuis hoort, dat hy deur bloedbande aan ons gebind is.”
“Die bande van liefde is soveel sterker, Isabé. Jy sal dit nog uitvind.”
Sy kyk hom ’n oomblik aan. “Is dit, Pa? Is die bande van liefde werklik sterker as dié van bloed?”
“Ja, my kind. Dit is.”
Sy laat haar ooglede sak, en dit lyk of sy baie diep sit en dink. Dan kyk sy op na haar jonger broer. “Jy is baie stil, Janneman.”
“Ja. Ek dink sommer.”
“Waaraan … of aan wie?”
Hantie … Sy gaan seerkry. Hy kon Maria Hefer se gedagtes lees nadat hy sy storie klaar vertel het. “Sommer maar net.”
Elise keer onverrigter sake terug, die oë weer vol trane. “Hy antwoord nie,” sê sy onnodig. “Helgard, hy sit daar alleen en sonder kos. Ek dink nie daar is eens beddegoed nie. Jy moet …”
“Ma, Nols sal nie vanaand in kos of ’n opgemaakte bed belangstel nie.” Isabé staan op, stap om die tafel. “Net soos Ma ook nie vanaand in kos belangstel nie. Kom. Ma gaan nou bed toe. Jy is doodmoeg en emosioneel uitgeput. Ja, Ma gaan nou reguit bed toe. Kom.”
Sy marsjeer haar ma beslis kamer toe, help haar selfs uittrek, sien toe dat sy in die bed klim, trek die beddegoed oor haar vas asof sy die kind is. ’n Oomblik kyk sy op die geliefde gelaat af.
“Het ek Ma al ooit dankie gesê vir die wonderlike moeder wat jy deur al die jare vir my was?”
Die lippe bewe, die oë blink weer. “Jou lewe en jou optrede teenoor my het die dankie gereeld vir my uitgespel.”
Die jonger vrou se lippe bewe nou ook vir ’n oomblik verraderlik.
“Nietemin. Ek wil vanaand dankie sê. Dankie, Ma.” Sy kom vinnig orent. “Nou gaan ek Pa ook bed toe stuur. Hy is ook pootuit.”
Toe sy in die sitkamer kom, vra Helgard sonder om nou meer ter wille van sy vrou sy kommer weg te steek: “Dink jy nie ek moet maar oorgaan Ou Werwe toe nie, Isabé? Net kos wegbring …”
“Nee, Pa. Ek dink op die oomblik sal dit die verkeerdste ding wees om te doen. Die beste sal wees om nou bed toe te gaan. Pa weet Ma sal nie aan die slaap raak voor Pa nie by haar is nie.”
Hy sug. “Goed dan. Die verpleegster sal die beste weet. Ek is eerlik moeg.” Hy trek haar nader, soen haar. “Dankie, my dogtertjie. Dankie vir die wonderlike dogter wat jy nog altyd vir my was en steeds is. Jy was ’n steunpilaar in hierdie dae.” Hy sug weer saggies. “Ons laat dit te veel na om dankie te sê. Op ’n dag wil jy dit graag sê, dan … is die een nie meer daar om dit te hoor nie. Nag, my kind. Nag, Janneman.”
Toe die deur agter hom toegaan, laat sy hoor: “Ek gaan kos inpak en dan bring jy dit gou weg na Ou Werwe, Janneman. Ek sou gaan, maar ek moet nog inpak. Ek moet môre vroeg vertrek.”
Hy kyk haar fronsend aan. “Jy is ook bekommerd oor hom.”
“Natuurlik is ek.”
“Hoekom het jy Pa en Ma dan van hom weggehou?”
“Omdat Nols nou in ’n toestand is waarin hy dinge teenoor hulle kan kwytraak wat onvergeeflik kan wees.”
Janneman sien die lig in die kombuis brand toe hy Ou Werwe se werf inry. In die kombuisdeur kom hy tot stilstand. Die toneel voor hom kan hy met een oogopslag raak opsom.
“Ek het vir jou kos gebring.”
“Nou kyk wie’s hier. My oulike kleinboet. Die nuwe baas van Paradys!”
Janneman swyg, sit die kos langs hom op die tafel neer, kyk in die bloedbelope oë af. “Eet eers ’n stukkie,