Oepse Daisy. C. Johan Bakkes
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Oepse Daisy - C. Johan Bakkes страница 1
Life is a long journey and I am not one to get off halfway. I have always wanted to turn the next corner to see the next view and walk into it.
– Martin Booth
Voorwoord
Oepse daisy kon netsowel O fok gewees het, maar miskien is dit tyd om Juanita du Plessis in plaas van Jack Parow te speel.
Vyf-en-sewentig persent van die storietjies in dié bundel is ’n samevatting van geskriffies wat in opdrag van redakteur Magda Swart in Rapport se MyTyd verskyn het. Die opdrag het soos volg gelui: Ek hoop jy onthou nog dat jy belowe het om af en toe ’n reisrubriek/storie/wat ook al te doen. Jy kan so 1 600 woorde skryf en daar is ’n sterk klem op foto’s. Van die goed wat ek in gedagte het, is die sielsdinge van reis en verken, veel eerder as die plek en die pad soontoe …
Dis wat ek probeer doen het. Die reis of “wat ook al” bly die tema, maar die ouderdom maak dat melankolie en nostalgie sy kop uitsteek. Die titelverhaal het nie in die Rapport verskyn nie –
en was tien teen een een van my moeilikste reise.
En so is ek ook nog nie naby aan “pushing daisies” nie.
Grow old along with me
The best is yet to be
– Robert Browning
Dink en Begeer
Daai tyd toe ’n Suid-Afrikaanse paspoort nog van nul en gener waarde was, toe’t ek myself belowe: Sou ’n dokter vir my sê die einde is in sig, dan spring ek met ’n valskerm, sonder ’n paspoort, daar af – ek hoef nooit weer terug te kom nie …
Dis tog interessant hoe sekere plekke en name eenvoudig die mistieke inhou. Dit kan sommer net ’n naam wees wat die verbeelding aangryp. Hoe klink Ouagadougou, Leh en Popokatepetl, of, meer bekend, Lasa, Timboektoe en Kamchatka? Die woeste het my van kleintyd aangetrek. Gelees van “the empty quarters” in die Arabiese woestyn, die “death zone” bo 8 000 meter of “the land God made in anger”, sommer hier op ons voorstoep.
Dit is die rusteloosheid en die bleddie gelees oor vreemde plekke wat my uiteindelik op die pad gesit het. Die pad na wat ook al. Reis en lees is ’n terminale siekte en ’n bose kringloop. Jy’s pas by die huis, dan lees jy ’n nuwe bestemming raak en jy pak jou tas.
Dit laat my dink aan “Daar’s mierpootjies in ons bloed”, ’n storie uit die Zoeloe-mitologie wat ek eendag in Chris Barnard se Chriskras-bundeltjie raakgelees het. Dis die verhaal van Dink en Begeer.
Kortliks: Die mens was eers ’n miershoop wat uit twee dele bestaan het. Die boonste gedeelte, wat bo die grasse en bosse uitgetroon het, was Dink, en die onderste deel, so grondlangs, was Begeer.
“Wat sien jy, Dink?” sou Begeer vra.
“Ek sien bosse. Daar doer voor ’n kameeldoringboom en so ’n ent weg ’n koppie,” sou Dink dan antwoord.
“Wat’s aan die annerkant van die koppie?”
“Ek weet nie,” was die antwoord.
“Kan ons nie gaan kyk nie?” sou Begeer aanhou.
“Vir wat?” het Dink dit afgemaak.
“Net om te.”
“Dis onnodig. Ons weet wat ons het. Alles hier is veilig en reg. Daar annerkant weet ons nie.”
“Maar dis hoekom!” het Begeer gepleit.
En Dink het hom geïgnoreer.
Begeer het met die miere hier binne begin konkel: “Bou vir ons bene, dan gaan kyk ons hoe lyk dit aan die annerkant van die koppie.” Die miere het van die plan gehou, en hoe Dink ook al vasskop, toe hy sy oë uitvee, begin die miershoop aanstryk koppie toe.
Begeer was in sy element. Bo-op die koppie gekom, het die miershoop so oor die wye wêreld uitgekyk. En wragtag, doer ver – nog ’n koppie.
“Kom ons gaan kyk,” het Begeer gesê.
“Nee, nee!” het Dink uitgeroep.
Maar so is die miershoop die wye horisonne in. Later het selfs die miere gatvol geraak. Om Begeer tot stilstand te dwing, het hulle aan die binnekant van die miershoop begin knibbel. So erg dat die bloed begin loop het, en behalwe bene het die miershoop ook begin arms en ander ledemate kry. Maar voortdurend het die miere knibbelend in die gangetjies rondgeskarrel. Die miershoop het mens geword, met twee duidelike dele: Dink – gesonde verstand – en Begeer – die hart.
En as die hart oorhand kry, dan knibbel die miere.
Daarom het ek mierpootjies in my bloed … Ek móét sien wat aan die anderkant van die koppie lê en in my stilligheid hoop ek op nog koppies, sodat ek kan loop tot ek dood neerslaan …
Die geykte uitdrukking “die ou wêreld van ons is darem maar klein”, dis nou as jy ’n bekende op ’n vreemde plek raakloop, is wel geldig. Maar eintlik is die wêreld te groot vir een leeftyd. Daar is nie ’n manier dat jy by al die plekke wat jy raakgelees het, kan uitkom nie. Dis hoe dit moet wees, soos Robert B. Parker op ’n kol aangehaal het: “If everyone lived forever, life would devalue.” Dit beteken dat ’n mens keuses moet maak. Bokant 8 000 meter kan ek nie. Omdat ek nie ’n Moslem is nie, is Mekka vir my so uit soos boknaai, en ek is te bang om met ’n valskerm te spring …
Dit gebeur dat wanneer ander mense agterkom jy reis graag, hulle ná ’n derde glasie of wat jou vra: “Wat was jou mees besonderse bestemming? Wat beskou jy as die mooiste land wat jy al besoek het?”
Dis seker van die onregverdigste vrae aan ’n reisiger. Want die rêrige-êrige reisiger reis omdat reis reis is. Elke plek het sy eie aanslag en sy mense ’n eie iets waarby jy kan aanklank vind.
Maar as dit dan moet: In Afrika is daar twee lande wat my altyd sal teruglok. Die een is sommerso ’n klipgooi ver en die ander ietwat wyer. Snaaks genoeg is al twee ou Duitse kolonies. Al twee het ’n sekere wydheid en kontraste wat moeilik beskryfbaar is. Deutsch West-Afrika en Deutsch Ost-Afrika. Die een het ek deurkruis, selfs op sy grense gaan veg, maar daardie tyd toe my paspoort Afrika se deure vir my gesluit gehou het, sou ek per valskerm in Tanzanië in gespring het. Hoor die name: Serengeti, Kilimandjaro, Zanzibar, Dar es Salaam, Arusha en Moshi. Jy kan mos nie net daaroor lees nie! Jy móét daar uitkom. Die miere het begin knibbel …
Tye verander, maar die tyd stap ook aan. Met veranderende tye kon ek ewe skielik Afrika met my Suid-Afrikaanse paspoort beleef. Met die tyd wat aangestap het, was ek egter nie meer die jeugdige dromer met ’n valskerm nie.
Ek onthou dit soos gister, toe ek in 1996 oor die Serengeti-vlaktes uitgestap het. My arms in die lug en trane in my oë. Die blouwildebeeste het snorkend om my gemaal en ek het geweet, ja, hiér móés ek gewees het. Ek het ook geweet hierheen sal ek moet terugkom, keer op keer. Daardie stuk wêreld was