Christine le Roux Omnibus 2. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 2 - Christine le Roux страница 5
“Waar woon hy?” vra sy.
Olivia haal die stuk papier uit haar baadjiesak. “Hier. Fonteinelaan, Arendsdrif. Dis seker daar bo teen die rant.”
Mart kyk na die papiertjie en fluit tussen haar tande. “Jy weet wie bly teen Arendsrif, dis ryk mense.”
“Wel, hy is seker nie arm nie,” sê Olivia redelik. “Nie as hy oppassers vir sy kinders kan huur nie.”
“Is die salaris darem goed?”
Olivia begin lag. “Ek het nooit gevra nie! Hy was so besig om my te probeer verjaag en ek so vasbeslote om hom nie die geleentheid te gee nie, dat ons nooit eers oor geld gepraat het nie.”
“Jy’s darem dom,” sê Mart. “Ek ken ryk mense wat vreeslik suinig is. Gestel hy betaal ’n hongerloon?”
“Dan eet ek maar sy yskas leeg,” sê Olivia. “En hy lyk nie so suinig nie. Dit sal seker ’n billike salaris wees, dink jy nie?”
“Ek hoop so. Toe, moet ek jou help om alles na die kar te dra?”
“Asseblief, ja.”
Toe die arme ou karretjie tot teen sy dak gelaai is, staan Mart dit skepties en aankyk. “Ek hoop jy kry ’n groot kamer.”
Olivia proes meteens. “Nee, ek kry seker die ou donker solderkamertjie en sal saam met die ander huishulpe moet eet na die ryk mense klaar is. Sulke seningrige, opgekookte stukkies vleis. Droë brood. En moenie te veel suiker vat nie.”
Mart slaan haar arms om Olivia en druk die skraal figuurtjie teen haar vas. “Mooi loop, vriendin. Ek hoop nie jy het jou nou vir iets ingelaat wat jy sal berou nie. Jou neus vir avontuur en iets anders gaan jou nog eendag in die moeilikheid laat beland. Die res van ons volg maar ons vasgelegde ou paadjies.”
“Genade,” sê Olivia en soen haar op die wang, “jy laat dit klink asof ek regtig in Bloubaard se kasteel gaan verdwyn. Die man moet ’n telefoon hê en as ek mooi vra, mag ek dit seker gebruik. Ek sal jou bel en ons sal mekaar sien. Ek kan nie vier en twintig uur aan diens wees nie, kan ek?”
“Ek weet nie. Hoekom vra jy vir my? Dis jy wat jou in hierdie werk ingestoomroller het sonder om die belangrikste vrae te vra.”
“Baie dankie vir alles,” sê Olivia. “Dat ek hier kon kom afpak en jou lewe omvergooi. Jy’s ’n liewe ding.”
“Ja, ja,” sê Mart goedig. “En as jy jou vriendinne begin voorstel aan die man, dink aan my. Ek is moeg vir skoolhou.”
Olivia giggel en klim agter die stuurwiel in. “Ek sal so maak.” Sy draai die sleutel en die enjin begin krassend draai. “Ek bel jou, hoor!”
Mart leun vorentoe en moet hard praat om bo die gedreun van die enjin hoorbaar te wees. “Is hy darem aansienlik? Jy het nie eers gesê nie.”
“Nogal pragtig,” roep Olivia deur die venster. “Hoe het Petronella vir Soois beskryf na sy hom die eerste keer gesien het?”
“Wragtig pragtig,” lag Mart.
“Einste,” sê Olivia, steek haar hand uit om te waai en ry agteruit. ’n Motor wat agter haar verbyry, toet woedend en swaai uit, anders het sy teen hom vasgery.
“Olivia!” roep Mart. “Wees versigtig!”
“Is ek nie altyd nie?” Maar die keer kyk sy eers mooi links en regs voor sy versigtig draai. Sy waai vir oulaas, kyk in haar truspieëltjie en verdwyn in die straat af in ’n blou wolk wat uit die protesterende ou karretjie se uitlaatpyp dwarrel.
Hoofstuk drie
Meneer Steytler moes na die huis gebel het, want toe Olivia die deurklokkie lui, maak Katie vir haar oop sonder om verbaas te lyk. ’n Bietjie skepties miskien, maar nie onkant gevang nie. Olivia self het van haar selfvertroue verloor, hoofsaaklik omdat Mart reg was; die huis lê heel bo teen die rant en die swaar gelaaide karretjie het halfpad teen die rif op begin klink asof hy dit nie gaan maak nie. Daarby is die huis intimiderend, om die minste te sê.
Dis ’n groot dubbelverdiepinghuis met ’n grys leidak en dit staan in ’n groot ou tuin met sulke hoë bome dat ’n mens die huis eers ordentlik kan sien wanneer jy met die rylaan opgery het en voor die voordeur staan. Die rylaan vorm ’n sirkel en in die middel van die hoefyster staan ’n enorme eikeboom met dik takke, nou teen die einde van die winter heeltemal kaal. Die res van die tuin is goed versorg, netjies gesnoeide roosbome, velde oranje madeliefies, ronde beddings vol winterblomme soos ranonkels, anemone en primulas; verfrissende spatsels kleur in die andersins vaal tuin. Aan die punt van die grasperk sien Olivia ’n tuinier besig om blare te hark en hy leun op die steel en staar haar belangstellend aan.
“Middag,” sê sy vir Katie en steek haar hand uit. “Ek is Olivia, die kinders se nuwe oppasser.”
Katie glimlag en wys sy moet binnekom.
“Moet ek nie maar begin aflaai nie?” vra Olivia en wys na haar motor. “Ek het nogal baie goed.”
“Josef kan dit bring,” sê Katie. “Ek kan eers vir mevrou die kamer gaan wys.”
Olivia loop agter haar aan en struikel byna oor die trappe soos sy rondkyk. Die binnekant van die huis is selfs meer imponerend as die buitekant. Glimmende houtvloere met dik Persiese matte, kleurryke skilderye van bekende kunstenaars, antieke meubels wat gloei en ’n trapleuning wat smeek om mee afgegly te word.
Op die eerste verdieping draai Katie links en stap in die lang, breë gang af. Die huis buig na agter, merk Olivia op; dit vorm ’n hele aparte vleuel. Sy wonder waar die kinders is, want daar kom nie ’n geluid van êrens af nie, nie eers ’n radio wat speel nie.
“Hier’s waar die kinders bly,” sê Katie en wys na twee toe deure. Sy stap verby tot waar die gang doodloop en maak ’n deur oop. “En hier’s joune.”
Olivia is aangenaam verras en voel sommer beter. Dis nie ’n donker solderkamertjie met ’n ysterkatel en harde stoel nie, dis ’n enorme kamer. Behalwe die ingeboude kaste teen die een muur is daar ’n driekwartbed bedek met ’n geblomde en kennelik duur deken. Aan weerskante van die bed is tafeltjies met lampe en in een hoek van die kamer staan drie leunstoele gerangskik om ’n koffietafeltjie. Teen die muur oorkant die stoele is ’n televisiestel en langs die deur ’n klein skryftafeltjie met ’n stoel.
“Hier’s die badkamer,” sê Katie en maak ’n deur tussen die ingeboude kaste oop.
Die badkamer is liggeel en ewe luuks. Olivia kan dit nie help nie, sy tree vorentoe en vat aan die dik, sagte handdoeke. Dis ’n groot verbetering op haar rondawel in die bos.
“Dis pragtig,” sê Olivia en glimlag breed. “Dis alles baie mooi, dankie.” Sy hoor ’n geluid in die kamer en draai om, maar dis nie die kinders nie, dis Josef, die tuinier, sy hande vol tasse. Hy lyk ook skepties, maar groet vriendelik genoeg en die volgende tien minute dra hy al haar bagasie vir haar boontoe.
Toe hy klaar is, hou