Christine le Roux Omnibus 2. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Christine le Roux Omnibus 2 - Christine le Roux страница 6
Hy knik lakoniek en vat die sleutel by haar. Katie staan steeds woordeloos na die hoop tasse en bokse en kyk.
“Waar is die kinders?” vra Olivia.
“In hulle kamers. Kan ek vir mevrou tee bring?”
“Ja dankie. Ek dink ek sal nou eers uitpak dat die kamer netjieser kan lyk.”
Katie beskou dit as ’n baie goeie plan en verdwyn in die gang af.
Olivia knip die eerste tas oop en maak die kaste ook oop. Salig, dink sy ekstaties. Kilometers leë kasruimte, en sy haal ’n hanger uit en begin ophang. Sy is besig met die tweede tas toe Katie geruisloos inkom met die skinkbord en net so stil weer verdwyn. Olivia skink vir haar tee en begin haar boeke uitpak op die rak onder die televisiestel. Sy neurie ’n deuntjie en kyk meteens oor haar skouer, nie omdat sy iets gehoor het nie, meer omdat sy van ’n teenwoordigheid bewus geword het.
In die deur staan twee kindertjies, hulle gesiggies somber en strak. Emma is geklee asof sy na ’n partytjie toe gaan. Van haar blinkleerskoentjies en wit sokkies – voetjies netjies bymekaar – tot die pienk valletjiesrok met sy wit kragie en die donkerblonde hare in ’n foutlose poniestert gebind, is daar nie ’n kreukel of ’n haar uit sy plek nie. Langs haar staan klein Nicky, sy steil blonde haartjies nat en plat gekam, sy handjies voor hom gevou. Hy dra ’n ferweellangbroekie, ’n bypassende trui en blinkgepoleerde bruin skoentjies. Nie een van die twee sê ’n woord nie, hulle staan net na haar en kyk, hulle gesiggies uitdrukkingloos en hulle oë angstig.
Olivia gaan sit plat op die mat en kyk na hulle. “Haai,” sê sy. “Ek is Olivia.”
“Ek is Emma en hy’s Nicky,” sê Emma in ’n toonlose stem en vat haar boetie se hand. “Ons mag nie grootmense op hulle name noem nie.”
Olivia glimlag breed. “Ek is nie ’n grootmens nie,” sê sy gemaklik en hou haar hand uit om te wys hulle moet nader kom. “So julle kan my maar Olivia noem.”
Emma se oë flikker effens en sy kom ’n tree nader, maar sy sê niks nie.
“Livja,” sê Nicky.
“Dis reg.” Olivia kyk na die boeke in die boks voor haar. “Wil julle my nie help om die boeke op die rak te pak nie? Ek wil graag klaarmaak met my tasse, dan kan ek hulle wegsit sodat die kamer nie so slordig lyk nie.”
“Dit ís deurmekaar,” stem Emma saam en kom nog nader. Sy kniel en haal ’n boek uit die boks, maar sy bly op haar hoede asof sy gaan weghardloop as Olivia te hard praat.
Olivia staan op en maak haar laaste tas oop. Die twee kinders pak die boeke in die rak, maar hulle oë bly wantrouig op haar en verskerp eers toe sy onder in die tas die wollerige diere uithaal wat haar kollegas van die wildsplaas as afskeidgeskenk vir haar gegee het. Die een is ’n baie lewensgetroue leeutjie en die ander een ’n apie met ’n lang stert.
“Wat is dit?” vra Nicky.
“Dis Leo en Boggom.” Sy sit die diere op een van die leunstoele neer en die kinders vergeet van die boeke, hulle oë nou gefassineer op die speelgoed.
“Wie s’n is dit?” vra Emma.
“Myne,” antwoord Olivia. “Ek het dit present gekry.”
Emma lyk ongelowig. “Speel jy nog?”
“O ja.”
Emma kyk na haar boetie en weer na Olivia. “Hy’t ’n teddie,” sê sy.
“Bring hom, dan kan hy mos met Leo en Boggom speel,” stel Olivia voor.
Nicky spring op en hardloop uit die kamer uit. Toe hy terugkom, het hy ’n groot en effens verweerde bruin beer in sy arms en hy sit die teddie langs die ander diere neer. Vir die eerste keer is daar lewe in sy gesiggie, hy lyk asof hy wil lag. Wat hy ook van sy kamer af saamgebring het, is twee stukke sjokolade en die een gee hy woordeloos vir sy sussie.
“Waar kom die sjokolade vandaan?” vra Olivia. Sy kyk op haar horlosie en sien dat dit byna vieruur is.
“Tannie Yvonne gee dit vir ons,” sê Emma.
Olivia hou haar hand uit. “Nee, ek is jammer, maar ’n mens eet nie dié tyd van die dag sjokolade nie. Na aandete kan julle ’n stukkie kry.” Sy wys na die tafel. “Sit dit hier neer.”
Die kinders gehoorsaam sonder slag of stoot, op hulle gesiggies ’n volwasse soort aanvaarding, asof hulle lankal reeds geleer het dat dit die beste is om nie moeilikheid te veroorsaak nie.
“Hoe laat eet julle aandete?” vra Olivia vriendelik om te wys sy is nie kwaad vir hulle nie.
“Later,” sê Emma vaag.
“Dié tyd van die middag drink ’n mens ’n glas melk en eet ’n koekie,” gaan Olivia voort. “Of ’n appel. Anders eet jy nie jou aandete nie en word jou tande sleg.”
Die kinders staar net na haar, hulle gesigte bot.
“Ek dink dis wat tannie Yvonne bedoel het,” sê Olivia. “Wie is tannie Yvonne?”
“Sy’s Pappa se …” Emma swyg eers. “Sy kom saam met Pappa.”
“A,” sê Olivia wys en beduie na die boeke. “Nou toe, kom ons pak klaar uit, dan kan julle vir my julle kamers wys.”
Maar dis duidelik dat die kinders nou weer verskrik is. Hulle pak al die boeke uit, kyk net kort-kort na haar met onleesbare uitdrukkings op hulle reeds te ernstige gesiggies. Sy sit haar leë tasse inmekaar en pak hulle bo in een van die kaste weg. Die kartondose trap sy sommer plat en forseer hulle in die snippermandjie in.
Die kinders se kamers lyk soos die kinders self: te netjies, te perfek saamgestel. Emma se kamer is pienk en dis duidelik dat alles deur ’n binnenshuise versierder gedoen is. Wit bed, wit kaste en stoele en boekrakke, pienk-en-liggroen gordyne, ’n pienk mat. Bo-op die boekrak ’n ry poppe wat lyk of niemand nog ooit met hulle gespeel het nie, hulle sit so presies in ’n ry met hulle popoë dood.
Nicky se kamer is gelukkig nie alles blou nie, is sy bly om te sien. Sy gordyne is bont, die ontwerp: kronkelende treintjies en vet vliegtuie. Sy mat is wel blou en die groot speelgoedkis ook. Tussen die twee slaapkamers is daar ’n badkamer waar blou en pienk handdoeke, blou en pienk sponse en blou en pienk naelborseltjies in gelid gepak is.
“Waar speel julle?” vra sy
Hulle wys na hulle kamers.
“En waar eet julle?”
Hulle wys vaagweg na onder en meer kry sy ook nie uit hulle uit nie. Maar as sy bang was dat sy nie van hulle gaan hou nie, is sy dadelik gerusgestel. Haar hart bloei vir die twee swygende kinders. Sy wil hulle opraap en kielie tot hulle skater van die lag, sy wil hulle hare deurmekaar vryf en hulle uitnooi om te lag en te raas, maar sy weet ook dat sy versigtig te werk sal moet gaan.
Dis wat sy die eerste week doen. Sy loop letterlik en figuurlik op haar tone. Halfses die eerste aand kom roep Katie die kinders vir aandete en Olivia neem haar eerste besliste standpunt in. Sy sal saam met die kinders eet. Sy weet nie of meneer Steytler verwag dat sy alleen saam met hom moet eet nie, maar sy sien nie daarvoor