Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 2 - Tryna du Toit страница 8
“Ek het nog nooit daaraan gedink nie,” sê sy ewe koel en onskuldig, maar sy bloos diep.
Paul glimlag.
“Dink ’n bietjie, Debbie,” dring hy sag aan.
“Dit hang af wie die dokter is,” sê sy, maar die warm gloed in sy oë laat haar haar eie oë toemaak. Die volgende oomblik voel sy Paul se lippe op hare.
“Paul! Nie hier nie,” fluister sy verward, maar Paul lag.
“En waarom nie? Net ek en jy is hier. Die amptenare is almal huis toe en wie ons ook al sien, sal ons net beny.” Hy trek haar teen hom aan, haar kop teen sy skouer, en soen haar weer. ’n Paar oomblikke gee Debbie haar geheel en al oor aan die omhelsing, maar dan stoot sy hom beslis weg en sit regop.
“Kom, Paul, ons moet huis toe gaan of ek is laat vir ete.”
“Ete? Ete? Ek gee vir jou nektar van die gode en jy praat van ete!”
“’n Mens kan van nektar alleen nie leef nie,” sê sy, en staan met ’n vinnige beweging op. Paul stof haar klere af en trek die droë grassies uit haar blinkswart hare. Teer, half besorg, rus sy blik op haar. Debbie is die laaste tyd bleker en sy het maerder geword. Dis die hitte wat soos ’n verstikkende kombers oor die stad hang wat ’n mens so uitput. Dit en haar studie, en dan hou hy haar nog saans so laat wakker. Dis baie selfsugtig van hom. Hy besef dit nou eers. Sy het al haar kragte nodig. Maar sonder haar is die dae vir hom ook maar leeg en kleurloos. Sag trek hy haar nader en soen die blinkswart hare.
“Ek sal jou baie mis, Debbie.”
Sy kyk op in sy gesig en glimlag. Daar lê ’n teerheid in die grys oë wat so reguit in syne kyk.
“En ek vir jou, Paul.”
Hand aan hand begin hulle die trappe opklim. Paul se gedagtes is by die meisie aan sy sy. Hy het ander meisies geken wat net so mooi en mooier nog as Deborah was, tot wie hy ook baie aangetrokke gevoel het. Maar die aantrekkingskrag was slegs tydelik en sodra hy seker was van hulle gevoelens vir hom het sy belangstelling verflou. Nie met Debbie nie. Met onsigbare bande bind sy hom steeds hegter aan haar vas. Selfs as hy weg is van haar is sy nog gedurig in sy gedagtes. Hy is bewus van die krag wat in haar skuil, van die teerheid waartoe sy in staat is. Hy wil haar liefhê en beskerm, hy wil die wêreld aan haar voete lê. En die gedagte aan die skeiding wat nader kom, is vir hom ondraaglik swaar. Daar is egter niks wat hy daaraan kan doen nie. Baie studiejare wag vir haar en vir hom.
“Ek wens ons kon nou verloof raak, Deborah,” spreek hy sy wens hardop uit en selfs hy is verbaas dat so ’n begeerte in hom kan opkom, dat hy, Paul Hugo, op twee-en-twintig verloof wil raak. Hy moet beslis baie verlief wees. Maar daar is nie sprake van nie. Sy ouers, Tina veral, sal baie teleurgesteld wees.
“Dis tog buite die kwessie, Paul. My pa sal my moontlik onmiddellik van die universiteit af wegneem. Hy was reeds glad nie gretig dat ek moes kom nie.” Sagter vervolg sy: “Dis ook nie nodig dat ander dit moet weet nie. In my hart is ek en jy verloof, behoort ek net aan jou.”
Styf druk hy haar hand in syne vas.
“Ek sal hard werk, Debbie, en gou maak. Dan kom ek jou haal. Sal jy vir my wag?”
Sy kyk op in die laggende blou oë en glimlag. Hand aan hand staan hulle nou langs die motor en kyk hoe die son agter die Magaliesberg wegsak. Die paar wolkies wat in die weste saamtrek, is ’n sagte roospienk. So ver as wat die oog kan sien, lê die jakarandas se pers skadukolle oor die stad en die aandskemering is vol geheime.
In die sagte skemering ry hulle stadig deur lanings van hemelse blou huis toe. Elke nou en dan klap-klap die jakarandakelke, wat soos ’n pers tapyt oor die strate lê, onder die motorbande. Ek voel soos ’n bruid, dink Debbie. Haar drome van liefde en geluk is deurweef met die skoonheid van die jakarandas. Sy sal hulle nooit vergeet nie. Dis of die hele natuur sy mooiste uitgehaal het vir haar en Paul. Die lente bruis deur haar are, dis of die skepping saam met haar glimlag oor die belofte wat die toekoms inhou. Dis lente, die lente van haar en Paul se lewens.
Toe hulle voor die deur stilhou, sê sy: “Kyk my boom, Paul. Is dit nie die mooiste een van almal nie?”
Soos ’n vorstin staan die jakarandaboom daar, groot en kragtig in haar majesteit. Dis of die aandskaduwees eerste daarin toesak en die boom is ’n diep, geheimsinnige pers, onbeskryflik mooi wanneer die wind die bloeisels saggies heen en weer wieg en soos yl reëndruppels na benede laat val.
“Tot siens, Deborah, en goeienag.”
Dis of sy uit ’n droom ontwaak. “Kom jy nie vanaand nie?”
Paul lag saggies. “O, ’n vroumens tog! Sy preek heeldag ek moenie gedurende die week kom kuier nie en as ek mooi gehoorsaam luister, is sy teleurgesteld. Nee, Debbie, nie vanaand nie. Ek het jou alreeds te laat saans wakker gehou. Leer maar mooi en gaan slaap vroeg. Een van die dae gaan hou ons piekniek, net ek en jy.”
’n Oomblik nog vertoef sy alleen by die hekkie en kyk na haar boom. Sy wil haar arms uitstrek en dit omhels, die hele wêreld ’n oomblik aan haar hart druk.
Sy voel soos daardie boom: sterk en kragtig, met bruisende lewe wat in haar are opstu. Dit is die lente van die lewe wat hier binne-in haar klop, die lente van die skepping wat sy hier in haar hart dra.
Hoofstuk 5
Hoofstuk 5
Dis Saterdagmiddag, ’n week later.
Oor die stad bewe die hittegolwe, die lug is ’n bleek, dynserige blou. Ongestoord, uitdagend amper, troon die jakarandas nog voort. Vir Debbie bly hulle nog steeds wonderlik mooi en sy verlustig haar daagliks in dié wonderwerk van die natuur. Sy wens haar ma kan dit sien, en Doortjie en Poppie. Hulle sal haar tog nie glo as sy hulle daarvan vertel nie.
Sy en Trudie sit onder die groot jakarandaboom. Hulle wag vir Paul en ’n maat, Bennie Fischer. Hulle vier gaan saam met Anne-Marie en Raoul piekniek hou by die Fonteine. Sy afskeidspartytjie, het Paul glimlaggend gesê toe hy hulle vra.
Terwyl hulle wag, leer Trudie nog. Vir haar beteken die komende eksamen die einde van vier jaar se harde werk en die feit dat sy alreeds ’n pos vir volgende jaar het, dien slegs as ekstra aansporing om so goed moontlik in haar eksamen te slaag.
Debbie droom al weer terwyl sy kyk hoe die blou blomkelke met sagte klapgeluidjies grond toe val. Die een na die ander, onophoudelik, sweef hulle grondwaarts. In hierdie lomerige blou dae is dit vir haar baie moeilik om haar gedagtes by haar werk te bepaal. Trudie sê sy sal daaraan gewoond raak, dis maar net die eerste keer dat die jakarandas so mooi is. Maar sy weet dis nie waar nie. In haar hart sal daar altyd ’n spesiale plekkie wees vir jakarandas omdat sy hulle altyd sal verbind met Paul, haar eerste liefde.
Die dae is ondraaglik warm. Hulle is almal uitgeput deur die buitengewoon warm weer. Net die jakarandas floreer. Dis slegs saans, wanneer die koel, verkwikkende oostewindjie die gordyne roer, dat sy voel sy kan vryer asemhaal, dat sy voluit kan werk, dikwels tot in die vroeë oggendure. Sy is gerus oor haar werk. Sy het die hele jaar gewerk en nie alles vir bloktyd laat staan nie. Met ’n glimlaggie dink sy aan die pers jakarandatrossies teen die deure van die lesingsale. Oral is daar jakarandatrossies wat eerbiedig stilte vra vir dié wat daar binne worstel met die spoke van die komende eksamen.
Sy dink weer aan die trossie wat Trudie