Tryna du Toit-omnibus 2. Tryna du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Tryna du Toit-omnibus 2 - Tryna du Toit страница 9
Die blou blommetjies val steeds grondwaarts, klap, klap, klap: ’n blou blommereën. Die tapyt onder die boom is dik en weelderig. ’n Bloeiseltjie val op haar skoot. Sy tel dit op. Dit is nog ongeskonde, mooi en vars, maar weg van die boom af sal dit gou verwelk en vergaan. Sy sien hoe Trudie ongeduldig ’n bloeisel van haar boek af stoot en giggel saggies. Trudie kyk op in Debbie se laggende gesig en die frons tussen haar oë verdwyn.
“Sit jou boek weg,” sê Debbie. “Ek weet nie hoe jy hier buite kan konsentreer nie. Ek voel suf geleer. En jy seker ook. Toe, Paul sal nou-nou hier wees.”
“Paul is tog altyd laat,” sê Trudie, maar gehoorsaam maak sy haar boek toe. “Ja, ek is ook suf. Ek weet nie of ek ooit weer ’n boek sal oopmaak ná hierdie eksamen verby is nie. My kinders kan maar eendag ongeletterd bly. Ek sal hulle nooit so martel nie. Hulle ma het nou genoeg geleerdheid vir die hele gesin.”
Debbie lag terwyl sy ’n blou blomkelkie vang wat na haar toe afgesweef kom. Maar nog voordat sy kan antwoord, sien hulle hoe Paul se groen motor vinnig die straat af kom en voor die hekkie stilhou.
By die Fonteine is dit heelwat koeler as in die stad en behaaglik vly die vier jong mense hulle in die koelte van die wilgers op reisdekens neer. Die stilte om hulle, die groen van die gras en bome, is ’n lafenis vir die gees en senuwees. Bennie Fischer, Paul se vriend, is ’n vierdejaarstudent, ’n interessante jong man wat koerantskrywer wil word. Hy is byna so lank soos Paul, maar sy skraal, loslittige lyf gee half die indruk van lompheid. Tog is hy ’n uitstekende tennisspeler en verbasend rats en vinnig. Hy is so donker soos wat Paul blond is, met ’n lang, maer gesig, hoekige wenkbroue en ’n groot, sterk mond.
Lui gesels hulle en kyk hoe die mense wat die middag van die hitte van die stad af weggevlug het, aanstaltes maak om terug te gaan. Die reisdekens word uitgeslaan, die motors word gepak, kinders word bymekaargemaak, en een vir een vertrek hulle, sommige deur die driffie links, ander weer regs deur die mooi populierlaning.
“Netnou-netnou het ons die hele Fonteine vir onsself,” sê Paul.
“Dit sal gaaf wees,” sê Trudie. “Ek sal ’n bietjie ruimte en stilte om my waardeer.”
“Hoe eng en bekrompe tog,” jou Bennie. “Die egte takhaar-uitkyk op die lewe.” Hy maak ’n wydse gebaar. “Die vlaktekompleks! Ek wil nie eens my buurman se rook sien nie.”
“Ek kom nie eens van die vlaktewêreld af nie, wê,” sit Trudie hom op sy plek.
“Belfast, Bennie, Belfast is die plek,” help Paul hom lui reg.
“H’m. Reken, nè? Hoe kon ek dan nou ook so ’n fout maak. Die stad Belfast! ’n Ware Sodom en Gomorra. Behalwe dat die plek vasgeys is in plaas daarvan dat dit met vuur en swael verdelg is. Magtig, ek het een nag byna verkluim daar. Ek sal daardie koue nooit heeltemal uit my ou bene kry nie. Is jou hartjie ook so hard en koud, suster?”
“Haar hart is kliphard en yskoud,” sê Deborah. “Maar ek het nie geweet dis net vasgeys nie.”
“Dit laat my dink – waarmee gaan ons vuur maak?” vra Bennie.
Paul lag lekker. “Daar lê ’n hele drag hout agter in my motor. Wil jy vir Trudie laat ontdooi?”
Tergend kyk Bennie na Trudie. “Nie nou nie. Nou is ek meer bekommerd oor die vleis wat moet gaar kom. Maar ’n bietjie later . . . wie weet?”
Trudie wil haar net vererg, maar Paul en Bennie lag haar uit.
“Waar is daardie vleis waarmee julle so spog?” wil Debbie weet.
“Anne-Marie bring dit. Haar ma het aangebied om vir ons die piekniekkos reg te kry.”
En net toe kom Raoul se klein swart DKW deur die drif reguit na hulle toe en trek langs Paul se groen motor in.
Maar Anne-Marie en Raoul is nie alleen nie.
“Ons het nog gaste saamgebring,” sê sy vrolik toe sy uit die motor spring. Sy lyk jonk en mooi in ’n kort blou broekie en hempie, weer die presiese blou van haar oë. Die goue hare blink. Vlugtig kyk Debbie en Trudie na mekaar – hulle het albei katoenrokkies aan. Maar Anne-Marie is ’n oulike meisie, dink Debbie. En sy weet hoe om die beste van haar blonde skoonheid te maak. Sy sien dat Paul se oë op Anne-Marie rus en daar is ’n flikkering van waardering in die lui blou dieptes.
“Solank jy maar net genoeg kos saamgebring het,” sê hy.
’n Klein, donker, mooi geboude jong meisie klim agter uit die DKW uit, gevolg deur ’n jong man.
“Dis Daphne!” skree Bennie. “Waar het jy vir Lorelei gekry, Anne-Marie?”
“Julle ken mos almal vir Daphne, nè?” vra Anne-Marie. “Sy kuier ’n week of twee hier in die stad. En vir Tobie?”
“Arme, onskuldige ou meisietjie – alleen hier in die stad. Die wolwe sal haar mos opeet,” spot Bennie toe hy haar groet, maar sy blik rus met welgevalle op die klein, donker meisie.
“My liewe Bennie! Die wolwe sal moet oppas as Daphne alleen stad toe kom,” sê Paul en staan ook op om te groet. “Hallo, Daphne. Welkom terug.”
Twee groot bruin oë, sag soos fluweel, kyk diep in Paul s’n.
“Dankie, Paul,” sê sy sag, glimlaggend. “Ek voel nou al sommer tuis vandat ek julle almal gesien het.”
Debbie knip haar oë.
Trudie groet ook – hulle ken blykbaar almal die meisie.
“Debbie – dis Daphne de Lange en Tobie du Rand. Deborah Malan.”
“Deborah! Haai! Hoe ouderwets!” sê die jong meisie, en Debbie is bewus van die twee blink bruin oë wat so ondersoekend op haar rus. Die meisie is baie mooi gebou en die kort, nousluitende donkerblou broekie pas volmaak. Haar vel is soos satyn, sy het pragtige, groot oë en glansende donkerbruin hare. Debbie het lank laas so ’n aantreklike meisie teëgekom. “En hou Paul nog van brunette?” vra sy skalks.
“Van sommige brunette – baie. Van ander – nie soveel nie,” sê Paul koel en spottend. “En toe, Tobie, hoe gaan dit met die onderwys? Kan jy dit aanbeveel?”
Tobie du Rand, ’n jong man van omtrent twee-en-twintig jaar, lag half verleë.
“Nie vir jou nie, Paul. Maar ek dink dis nogal baie interessant.”
Raoul is ook daar op die agtergrond, pyp in die mond, met glimlaggende, rustige oë, nooit ver van Anne-Marie af nie. Hy is so gaaf, dink Debbie, en hy is so lief vir haar. Ek wonder waarvoor sy wag. As ek en Paul maar die kans gehad het om nou al verloof te raak, om binne ’n jaar te kan trou!
Soos kinders het hulle baljaar, vrolik en uitgelate, en die boeke en gevreesde eksamen was vir ’n rukkie vergete. Bennie was Tarzan, rats soos enige bobbejaan in die bome, en later het hy Daphne – al een wat ingewillig het om Jane te speel – met ’n tou probeer optrek na die mik van die boom. Daphne was ’n mooi en gewillige Jane, maar die tou was ontoereikend en Tarzan se plan wou maar nie werk nie. Hulle was almal slap gelag toe Tarzan uiteindelik onverrigter sake afskeid van sy boom moes neem