Katalekte. Breyten Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Katalekte - Breyten Breytenbach страница 2
met ruim rame wat die rimpelende lig
binnelaat in ’n sagte gloed vloeiende
oor skilderye teen die mure
en soms reën dit teen die ruite
in hierdie huis
(ek sal dit nie besoek nie)
is ’n geteëlde kombuis
in die grondverdieping waar die trap ophou
met koffie in ’n blou kan
en twee ou katte op die vensterbank
om met skreefogies die voëls in die magnoliaboom
so glad van die reën
in die lang oorgroeide binnetuin
in die visier te hou
want blomme bloei pers in die lente
die vrou met die donker kyk
wat die koffie uit die blou kan geskink het
is hier oorlede met blomme om haar bed
op die laaste vloer in ’n dakvertrek vol boeke
lê ’n man op sterwe met ’n bril oor sy oë
en klop verleë die vis van ’n maer en bleek hand
oor sy bors wat purper ’n sagte magnolia is
en soms reën dit teen die ruite
en miskien het die katte die molvoël van sy tong verorber
in die stad in hierdie huis is ’n kamer vol rimpelende skaduwees
wanneer liefde gemaak is terwyl kerkklokke
’n kariljon galm oor die strate en die dakke
met uitsig deur biggelende druppels oor ’n kanaal
waar kleinburgers met prettige pette
en glase wyn in die hande
in ’n bootjie met ’n fladderende landsvlag vaar
en af en toe sleep die vlag in die water
(ek sal dit nie besoek nie)
elegansie is ’n walvis
ken jy die tere liefdesparing
van walvisse in die diep grot
van ondersese berge
waar lig nog net die geheue
aan die hemel is?
hoe hulle vaar soos tydloos versonke
spookskepe in die donker
sonder enige bemanning
en die vergete gedagte aan bestemming
nog net baadjies met brokaat
omboorde moue in seemanskiste
van verdwene minnaars met gepoeierde pruike?
het jy hulle al hul begeertepyne
diep uit die buik hoor sing?
hier
hier sit ons in die wagkamer
met blinkgepoetste skoene
’n opraakasem vlak in die keel
en agter daardie deur ’n suisende stilte
soos die sug van ’n duisend slakke
jy soek ook die versoogting
van die onomkeerbare
palimpses
hierdie is die begin
van ’n lang gedig
laag op laag vergeet
soos berge wat wolke
in die hemel stoot
soos visse onder die dam
se water rilling
nog as beweging van lewende
woordetrilling in die koninkryk van derms
hierdie is die wind se gestalte
en gestotter in spasies stilte
hierdie is die einde
van die spastiese gesig
van die spreker se gedig
wat diep soos asem
soek na die digbeblaarde oerwoord:
poes
maatreëls
jy kan nie ’n dronk man ’n pen vas laat hou
hy sal aanhou probeer om teen geskiedenis te laveer
jy kan nie ’n dronk man voordag die huis uit laat gaan
wanneer straatligte nog groen is nie
hy sal op die kaai teen die wind staan en bulk
jy kan nie ’n dronk man vra om reguit te dink nie
hy sal vir jou vertel van knaagdiere in Siberië
jy kan nie ’n dronk man in die dorp laat loop
waar vrouens lang oë soos slange het nie
hy sal struikel oor sy voete en sy woorde
en agter die lourierbos in die park
met ’n rilling al langs sy rug af gaan pis
jy kan mos nie ’n dronk man vra wat is ’n gedig nie
hy sal by die venster gesigte trek vir verbygangers
en vir jou sê hy soek ’n rymwoord vir knak
jy kan nie ’n dronk man glo
as hy sê hy het gevlieg nie