Katalekte. Breyten Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Katalekte - Breyten Breytenbach страница 3
en al wapper daar ook ’n vuil onderbroek
aan die vlagpaal bo die stadsaal
jy kan nie vir ’n dronk man vra waar is God nie
hy sal vir jou sê sy onderbroek is gesteel
jy kan nie ’n dronk man op die dak laat werk nie
hy sal vir jou sê hy weet alles van die katafoniek
terwyl hy kaalgat die mees afgunstige geheime
by die skoorsteen af luister en fluister
jy kan hom nie uitvra oor die liefde nie
want as dronk vryer sal hy steier
en vir jou sy hart aanbied soos ’n kardoes vrot tamaties
terwyl sy mond nog rooi is
jy kan nie dat ’n dronk man jou vertel
van sy dooie vriende nie
hy het ’n langlem-mes in sy sak
jy kan nie by ’n dronk man wil weet
wat hy dink van die dood nie
hy proes te veel wanneer hy die brood probeer eet
jy kan nie vir ’n dronk man laat huil op papier
dit word ’n vlieëstrontery tussen trane en snot
en ou vlekke wyn
hier
bb se tersydestelling
vriend, wanneer julle hom die dag inspit
of in ’n swart plastieksak op die vullishoop gooi
(wie sal nou kla oor ’n blink doodsbaadjie?)
sê dan vir dié wat wil weet
jy onthou hom jy ken sy naam:
Boetatjie Blackface
sê dan: hy was nou wel ’n grensbekakker
’n broodlose bakker en ’n verkeerde-om kaffer
maar hy het darem berigte teruggestuur
vanuit verre kontreie en kroeë –
die wisselende pryse van naeltjiekonfyt
hy het ons op hoogte probeer hou
van die evolusie van luise
en dit alles
(mag die Heiland wat alles lees hom vergewe)
in die vorm van vormlose gedigte
wie sal nou kla oor ’n blink doodsbaadjie?
haal dan jou pluiskeil af en biggel ’n traan
vra die nuuskieriges om ’n oomblik stil te staan
want onthou! onthou! onthou!
só, ook só groei en gety ’n maan
om te vrek tot die vrot van vergaan
maar water behou nog lank die ligte streling
van strale
dis nie myne nie
dis nie joune nie
dis ’n ander man se vrou
wat ons na vry
’n kolgans doodgery op die M3
die kolgans het ’n veer laat val
van die hoogste roep van waarookal
mits dese wou sy vir ons sê
dis haar maat wat dood op die snelweg lê
die mense ry verby en kyk
vir ’n droommoment by aanskoue van die lyk
terug in ’n tyd van ruimte waar nou
die nikswees ’n verlede vryheid oorvou
die kolgans het geen ritme vir sêplek meer
die kolgans laat val ’n laaste veer
sy en haar soort wis uit teen die grens
van verlore naburigheid tussen voël en mens
mits dese wou sy dalk nog sê
hoe diep het ons liefde vir die lewe gelê
dig
miskien is dit wat ons sin noem
slegs die struktuurmaak van waansin –
die wilde vrees van verskietende sterre
en van larwes wat uit dadels broei
omgebuig in die ritme van reëls
die gedig is tog woordeliks ’n verdigsel
’n dig-maak van die gate
sodat die niet die omskrywing
van ’n gesig mag kry
miskien is die bestemming
om ’n skil te skryf
vir die stil kreet –
wit krytlyne in die grond
waar die lyk gelê het
16 september 2010
Uit ’n diep droom het ek ontwaak en sweer
Die wêreld is diep,
Dieper as wat ek ooit kon weet.
– Nietzsche, “Zarathustra se lied”
wat het geword van ons somers?
waar is die lang en lui agtermiddae
toe lig ’n goëlaar was om uit die skittering van moue
’n wind so rats soos ’n aap te pluk
of ’n kasteel wolke regop staan te maak?