Katalekte. Breyten Breytenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Katalekte - Breyten Breytenbach страница 6
ek kan nie in die hoofstroom
waar geskiedenis en ordonnansies gestalte kry
beweeg nie
my woorde het geen hoofletters
soos aas aan die hoeke om die leser wat swem na sin
te fop nie
ek is die opligter
die kwaadstigter
die aarsenaar
die veranderaar
die gewigopteller in die woestyn
die gatvlieg, kan jy sê
die mens se beste vriend
so soos genade die dood se troos is
betekenis is die stolling v.d. beskikbare
wanneer ek na ’n lang afwesigheid
geknaag deur ’n skuldige geheue
in Parys arriveer om weer gewoond
aan Breyten te raak
te red wat nog vergewe kan word
maak ons ’n afspraak in ’n straatkafee
van rue Mouffetard
wanneer hy inkom met sy oë op skrefies
teen die meteense donkerte
gewaar hy my nie agter die koerant
en die donkerbril nie
en ek hou dop hoe hy sy glas wyn bestel
(god so vroeg reeds in die môre)
die verwaarlosing van die skouers
die hand té bang op die toonbank
’n gevilde vis
wanneer hy my sien
is daar geen vreugde om van te praat nie
en kyk hy na my
met iets tussen verdoeming en weemoed
wanneer hy my deur die stad se strate begelei
is dit verby geboue wat ek herken soos skaduwees
gespat teen die sonlig oor die keie
die geritsel van seerpootjie duiwe in die bome
tot by die ateljee (die straatdeur sluit nog steeds nie)
en die trappe op (die sleutels klingel aan die bekende ring)
“while the skin that you’re working on is wet
alert like a flower recently cut you harbour
the illusion that everything is still possible”
die notaboeke op die werktafel onaangeroer
maar dood
stof in ’n lagie oor verfbuise en kwaste
’n stapel koerante geelgetyd
waarom? waarom nou? waarom
nou eers? wat soek jy van my?
ek lê my hand oor syne
se bewerigheid:
ek het gereis woestyne en berge
met dooie donkies in die ravyne
en vroue wat dans in die nag
en die rou krete van revolusie
wanneer hy sy hand oor myne lê:
jy lieg wie is jy eintlik?
vir wat vir wie is jy altyd op vlug?
ek lê my hand op sy hart en sê:
jy moet na my luister
dis vir jou dis vir óns
vir ons mense en die ritme van ons asem
opdat ons nie vergeet nie
“you have the stuffed head of the green parrot
born far away in Africa decapitated
and emptied of all imitations and echoes and illusions
far away all the visions of Africa’s green hills
too and put up for sale among old men’s teeth
and boots and coughs and mirrors and other knickknacks
it was always dead but never as dead as now”
hy deins terug dat ek die dooie as van grys afgryse
in sy oë mag gewaar: hou óp! dis nie jóú wêreld
en dis nie jóú mense nie ék het hulle in my woorde
en my beelde begrawe soos voëls wat nooit weer
sou terugkom aarde toe nie
jóú verflarde observasies en besinning
is versinde singsels soos windverrotte vlae
“only the hand that effaces can write the true thing”
wat kan ek verder sê?
wanneer hy sy hand skulp oor myne se bewerigheid:
bly bly (my) (by) my kom tot rus sáám
kan ons nog ’n paar rympies en prentjies prakseer
riempies sny om onder die hart te bind
voor hierdie hand soos ’n vis verrot
wat moet ék doen? wat moet ek dóén?
en haastig nou om weg te kom van Breyten
se stom kreet
kyk ek na die tikkende hart van my horlosie en sien
dis byna aand
dat die duiwe in die bome onrustig sou wees
en iewers die papegaai se groen koggelsang: