Rabbedoe van Rietkuil. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Rabbedoe van Rietkuil - Ena Murray страница 5
Sy spring op, mismoedigheid vlak op die gesig, en die groen oë is skielik vol trane. Maar met die ou strydlustigheid veg sy terug: “Ag, gaan na die warmplek en vat sommer vir Wynand Hechter saam. Ek sal julle wys. Ek sal by daardie man gaan boer en julle van Rietkuil afboer! Ek sal … ek sal …” Sy storm na die kamer wat haar aangewys is en klap die deur sonder ontsag toe sodat die slag in die gang weergalm.
In die kantoortjie val Wynand sy oom beslis in die rede: “Oom, daar is geen sprake daarvan dat sy hier kan bly nie. Sy is ’n vroumens en boonop beduiweld ook. Ek sê nee, beslis nie!”
2
Oom Fasie neem eers tydsaam plaas en begin nog tydsamer sy pyp stop, tot groot ergernis van die man wat, klaarblyklik gereed vir baklei, voor die lessenaar staan. Maar as Wynand wag dat oom Fasie maar soos in die verlede om vredesontwil die knie sal buig, wag hy verniet. Oom Fasie se brein werk blitsig, al lyk hy so ongeërg en druk doenig met sy pyp. Hy besef maar te goed dat hierdie saak uiters delikate hantering nodig het en dat vanaand die aand is dat hy nié sy knie gaan buig nie.
Die snaakse affêretjie wat vanaand hier op ’n donkiekar aangery gekom het, moet hier bly. Oom Fasie kan die gevoel in hom nie heeltemal verklaar nie, behalwe dat dit darem baie toevallig is dat sy pas nadat hy sy wens teenoor Herman uitgespreek het, hier aankom. En dat sy wel besonders is, is seker!
Oom Fasie glimlag. Hy het nie eintlik so ’n rabbedoe in gedagte gehad toe hy daardie wens uitgespreek het nie, maar hoe meer hy aan die nuwe “voorman” dink, hoe sekerder raak hy dat sy net die meisie is wat hier op Rietkuil nodig is. Behalwe dat sy alles kan doen wat ’n man ook kan doen – oom Fasie grinnik weer … hy sal dit darem graag eers wil sien – is sy die eerste mens wat hy teëkom wat haar so teen Wynand kan verset. En dit moet hy glo, want hy het dit met sy eie ore gehoor. Oom Fasie se grinnik slaan oor in ’n kort laggie. Gits, hy het hom eers kapot geskrik tot hy Wynand se gesig gesien het. Die man het gelyk asof iemand hom met ’n bak yswater in die gesig gegooi het.
Hy knik sy kop ingenome. Sy is die regte vrou vir Rietkuil!
“Daar is niks om oor te lag nie, oom,” klap sy broerskind se ysige stem deur sy ingenome gedagtes en oom Fasie haal tydsaam sy pyp uit sy mond en kyk na die ontstoke gesig.
Sy glimlaggie verdwyn. “Nee, natuurlik nie. Vir mense sonder humorsin is daar nooit iets in die lewe om oor te lag nie. Maar gelukkig het ek mý humorsin behou. Dus, los my uit dat ek lag – of moet ek eers jou verlof kry?”
Die tweede keer binne ’n kort tydjie is Wynand Hechter met sprakeloosheid geslaan. Toe keer sy frons terug, onheilspellender as voorheen. Eintlik kry hy en oom Fasie selde stry en wanneer hulle die slag miskien van mening verskil, geskied dit op ’n mooi manier en word die vrede gou herstel. Maar wat vanaand met oom Fasie aangaan … Hy klink selfs beledigend!
“Oom, ek weet nie waar hierdie skielike houding vandaan kom nie, maar as oom dit grappig vind, lag dan maar. Een ding moet oom egter goed verstaan: ek wil nie ’n vrou vir ’n voorman hê nie. Hierdie vroumens gaan nie hier bly nie.”
“Hm. Sy gaan die wet aan haar kant hê as sy wil moeilikheid maak. Sy het jou aanstellingsbrief in haar sak en jy het nie gespesifiseer dat jy net na ’n man soek nie.”
“Maar dis vanselfsprekend dat dit ’n mansmens moet wees! Ek het nog nooit van ’n voorvrou gehoor nie,” sê Wynand bars. “Ek sal haar môre ’n volle maand se salaris gee en dan moet sy skoert.”
Oom Fasie se pypsteel wys reguit na Wynand. “Die moeilikheid met jou, Wynand, is dat jy tred met die tyd verloor het … vier jaar gelede al. Ja, toe, jy hoef nie so waarskuwend en kil na my te kyk nie. Ek en jy gaan vanaand praat. En as jy nie mans genoeg is om die waarheid aan te hoor nie, sê my net. Dan pak ek ook maar môre op en skoert. Dan is hier ook nie langer plek vir my op Rietkuil nie.”
“Oom! Watse belaglikheid is dit dié? Dit lyk my die vroumens het oom getoor …”
“Niccietjie het niks te doen met wat ek lankal jeuk om jou te vertel nie. Sy het my maar net die aanknopingspunt gegee, dis al.”
“Niccietjie!” Wynand draai vererg weg.
Oom Fasie gaan kalm voort, die pypsteel nog beskuldigend op Wynand gerig: “Soos ek gesê het, jy het vier jaar gelede al tred verloor met die tyd én met die lewe. Dis ou geskiedenis dat vroumense ook al boer. En góéd boer. Van lankal af gaan meisies landboukollege toe en hier loop hope rond met dieselfde landbougraad agter hul name as jy. Stry!”
Al antwoord wat hy kry, is ’n diep intrek van die asem en toe neem Wynand op die hoek van die lessenaar plaas, kruis sy arms oor sy bors en keer ’n sfinksagtige gesig na oom Fasie.
Oom Fasie skuif so ’n bietjie reg op sy stoel. “Goed. Daardie deel is afgehandel. Daar is geen verskil tussen ’n voorman en ’n voorvrou nie. Albei kan ewe goed wees …”
“Of ewe sleg.”
“Toegegee. Maar jy het ook vier jaar gelede jou redelikheid verloor. ’n Mens beoordeel nie ’n mens summier sonder om hom of haar ’n kans te gee nie. Dis onregverdig! Sover ek kan onthou, het jy die voorwaarde gestel dat die man wat kom die eerste maand as ’n proefmaand moet beskou. Gee haar daardie maand. Dit kan jou mos geen kwaad doen nie?”
“Oom, ek is haastig om met die nuwe lande te begin. Ek is al klaar laat daarmee. Ek wou hulle al onder lusern gehad het en daar is op hierdie oomblik nog nie ’n sooi omgekeer nie. As ek nou nog ’n maand moet mors …”
“Maar wie sê jy gaan dit mors? Jy is in elk geval laat. Waar dink jy gaan jy ’n nuwe voorman binne twee dae uitkrap?”
“Ek weet dit. Maar verduiwels, hoekom het sy aansoek gedoen? Ek het ander aansoeke ook gekry.”
“Juis. En jy het háár aansoek uitgekies,” vryf oom Fasie dit in. “Wynand, dit begin vir my al meer lyk soos ’n bestiering.”
’n Snork klink duidelik hoorbaar op. “Vir my lyk dit eerder asof die duiwel skielik hier losgelaat is.”
Dít ignoreer oom Fasie gerieflikheidshalwe en gaan voort, sy stem ongeërg, maar die ogies stip bokant die pyp: “Ek was só bly toe ek van hierdie voormanplan van jou hoor en toe jy nogal so gou ene in die hande gekry het wat na jou smaak is, want ek wou ’n voorstel gedoen het.”
“Ja?”
“Ja. Ek het so gedink. Ons twee het darem jare laas ’n bietjie vakansie gehad. Jy is alewig te vas met die boerdery om ’n bietjie weg te breek. Maar as jy dan nou iemand hier op Rietkuil het wat jy kan vertrou, kan ons twee mos die einde van die jaar so ’n bietjie weggaan see toe of so.”
Toe frons oom Fasie en sy gesig lyk die ene teleurstelling. Hy kyk vinnig weg van die gesig voor hom wat skielik peinsend saamgetrek het. “O, gits, nee, dit sal seker nie moontlik wees nie. Conrad-hulle kom mos daardie tyd terug. Ai, dis nou half ’n jammerte. Ek het maar net gedink dit sal lekker wees om so ’n bietjie seelug in te kry terwyl hier nou iemand is wat na die plaas kan kyk. Maar dit sal nie deug nie. As jy nou eers weer van voor af moet begin soek na ’n voorman, en jy kry darem op die ou end een, sal die man nog daardie tyd splinternuut wees en ’n mens kan darem nie jou goed aan iemand oorlaat wat jy nie ken nie. En met Conrad-hulle wat ook daardie tyd terugkom