Sluimerliefde. Susan Pienaar
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Sluimerliefde - Susan Pienaar страница 3
Hy’t nie saans die melk in die yskas teruggesit nie en die volgende oggend moes sy dan aaklige poeiermelk drink omdat die melk suur was. Sy’t hom telkemale daaroor aangevat, maar sy kon sweer hy’t dit later aspris uit spite buite gelos.
Een oggend was Henk regtig nasty met haar. “Hel, Karli, as ek geweet het jy’s nie net ’n mooi gesiggie nie maar ook so ’n dekselse geitjie, het ek jou nooit genooi om hier te kom bly nie.”
Sy’t gevoel hoe haar hart soos ’n klip in haar maag val en haar onderlip bewe, toe draai sy liewer vinnig om en snip oor haar skouer: “Moenie worry nie, ek het anyway lankal besluit ek trek uit.”
Sy’t dieselfde dag haar details met ’n versoek om blyplek op ’n stuk papier neergepen en dit op die universiteit se kennisgewingbord opgesit, maar vir lank geen reaksie gekry nie. Sy’t Henk ’n hele week lank botweg geïgnoreer, selfs toe hy haar probeer vaskeer het en gevra het hulle moet vrede maak.
Die volgende week was Henk vir vier dae by ’n simposium en sy kon in vrede doen net wat sy wou. Henk het die oggend teruggekom en dieselfde aand was die vet weer in die vuur.
Henk het kasdeure oop- en toegemaak en die yskasdeur hard toegeslaan terwyl sy vir hom staan en kyk het.
“Hoekom is hier nie kos in die huis nie?” Hy’t beskuldigend na haar gekyk.
“Ek hét gaan shop vir groceries, maar alles is al weer op,” het sy gesê en gedink aan Henk se meisie wat eet asof sy betaal word en tog so maer bly.
Henk se goudbruin oë het kil in hare gekyk. “Dit moet stop, Karli. Jy moet ophou om jou mansvriende op my . . . en jou onkostes te onthaal.” Daai huiwering het vir haar alles gesê, hy’t haar soos ’n parasiet laat voel.
Hoe durf hy! Dis sý skuld dat sy die afgelope week meestal van brood moes leef. “Henk Myburg, as jy jou deel van die budget vir my inbetaal het, kon ek ál die kos op my lysie in die trollie gelaai het,” het sy teruggekap.
Hy’t haar ’n paar tellings stomgeslaan aangekyk. “Maar die geld ís inbetaal. Ek het my sekretaresse . . .” Hy’t ’n hand deur sy hare getrek terwyl sy net stil en seergemaak na hom staan en kyk het. “Magtig, ek’s jammer . . . Ek dink Woolies is nog oop. Kom jy saam?”
Suné, sy meisie in daai stadium, het deur die oopplankombuis gestap gekom en Karli het haar kop geskud en omgedraai.
’n Week ná die voorval was Suné weg en ’n week daarna het Anchen sak en pak by Henk ingetrek. Gelukkig hoor Karli toe van ’n student wat iemand soek om haar eenmanwoonstel se kontrak oor te neem. Dankie tóg, want toe kon sy uittrek en van Henk en Anchen ontslae wees.
Karli se oë dwaal na Henk se dubbelverdiepinghuis. In haar gedagtes noem sy dit die “glashuis”, oor die voor- en sykante geheel en al uit donker getinte ruitpanele bestaan. Saans, wanneer die kandelabers brand, kan ’n mens die swierige trap en kosbare oorspronklike skilderye van buite af sien.
Karli hoor hoe Henk liggies swets en kyk oprit toe. Sy spring orent toe hy ’n hand sywaarts hou en met die ander in sy broeksak grawe.
Maritz glimlag en sit ’n arm om haar lyf. “Hallo, sweetness.”
Karli draai haar uit Maritz se arm toe sy bloed sien. “Hemel, Henk, wat het jy aangevang?”
“Dis niks,” maak hy dit af en skud ’n tissue se voue uit.
“Wag, laat ek sien voor jy toemaak. Moet ek ’n pleister loop haal?”
Hy draai die plek toe. “Nee, los dit. Dis net ’n skrapie. Die sakdoek moet net keer dat ek nie bloed op die goed kry nie.”
Sy glo hom nie, maar dis soos Henk is. Sy hande is nie sag soos Maritz s’n nie. Hy mag dalk ’n advokaat wees, maar hy hou van goed binne en buite die huis fix as hy die kans kry.
Dit lyk darem asof die twee mans vordering maak. Henk druk die inkopiesakke wat Maritz aangee, in openinge tussen die tasse in.
Karli gaan sit weer, draai dan haar kop na die panele van gerookte glas. Sy frons. Vier ruim slaapkamers, elkeen met ’n en suite-badkamer, en ’n hele spul ander vertrekke. Soos Henk gesê het, is dit regtig ’n huis waarin ’n mens kan verdwaal. Maar Anchen het haar lewe die week wat sy dit hier moes uithou voor sy in haar eie plekkie kon intrek, ondraaglik gemaak. Anchen is die ene sweetness voor Henk, maar as hy sy rug draai, wys sy haar katnaels.
Ná Anchen se vragte klere en bokse goed die oggend afgelaai is, het sy dieselfde middag aan Karli se oop kamerdeur kom klop en ongenooid ingestap.
“Hallo. Ek het vir Henk gesê dis tyd dat ek en jy ’n heart-to-heart het, so ’n bietjie chat.” Sy’t die deur toegemaak, op ’n stoel gaan sit en na ’n ander een beduie. “Kom sit. How-ever, wat ek vir jou te sê het, gaan nie lank vat nie.”
Karli het op haar bed gaan sit. “Waaroor wil jy nou eintlik gesels?”
Anchen het haar dungeplukte wenkbroue gelig. “Oor jou en Henk, natuurlik. Daar’s ’n paar dinge hier rond wat nou gaan change.”
Karli het haar grootogig van onskuld aangekyk, asof sy nie geweet het Anchen is jaloers op haar en Henk se vriendskap nie. Hoe sal Anchen ook nou weet hulle is deesdae meer vyande as vriende?
Tong in die kies het sy gevra: “Wát van my en Henk?”
“Julle vriendskap is oor. Finish en klaar, verstaan jy?”
Voorbarige vroumens! “Dis vir Henk om ons vriendskap te beëindig.”
“Maar hy kan dit nie regkry nie, because you’ve got a hold on him. Ek weet presies wat jou game is.”
Karli was dronkgeslaan én nuuskierig. “Waarvan práát jy?”
“Een van my girlfriends werk by Myburg en Myburg. Sy’t my ingelig gehou omtrent jou speletjies. Jy’s die rede hoekom Henk se vorige relationships nie gehou het nie.”
“Ag, asseblief! Jou kastige vriendin het omtrént ’n verbeelding.”
Anchen se lippe het dunnetjies getrek. “Jy maak nie alleen ’n fool van jouself nie, nee, jy sleep Henk ook in.”
Karli was bloot nuuskierig. “Hóé maak ek ’n gek van myself en Henk?”
“Rumour has it dat jy op hom verlief is, en Henk se kollegas dink hy’s ’n softy wat jou nie afgeskud kry nie.”
Karli doen haar regstudies by Tukkies, maar sy werk ook Dinsdag- en Donderdagmiddae by Myburg en Myburg. Vakansies ook, daarom het sy blitsvinnig gereageer.
“Jy praat twak, man. Jy ken duidelik nie die set-up by Myburg en Myburg nie. Daar werk ’n hele spul regsgeleerdes in daai gebou, mense wat in verskillende rigtings spesialiseer. Om nie eers te praat van die hordes kantoorpersoneel en skoonmakers nie. Die paar gegradueerdes wat hulle pupilskap daar doen, ken jou van g’n kant af nie, en ek sou verbaas wees as enige van die ander mense jou ken. Henk se kollegas is net so besig soos hy, hulle het nie tyd vir kinderagtige skinderstories nie.” Sy het opgespring en die deur oopgemaak. “Ek moet swot, ek kan nie sit en spinnerakke weef nie.”
Anchen