Elza Rademeyer Omnibus 6. Elza Rademeyer

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Elza Rademeyer Omnibus 6 - Elza Rademeyer страница 25

Elza Rademeyer Omnibus 6 - Elza Rademeyer

Скачать книгу

se laai kan net een ding beteken . . . Dit het sy nie van Rudolf Mulder verwag nie. Sy’t gedink hy is ’n vegter. Rebels, opstandig en soms onverskoonbaar ongepoets, ja. Maar sy’t nooit kon dink hy is ’n lafaard nie!

      By nadere ondersoek blyk dit dat die pille uit sy laai nie dieselfde soort is as dié van die botteltjie wat weggeraak het nie. Dit is alles doodgewone hoofpynpille wat ’n mens by enige kettingwinkel kan koop. Maar sy sien nie kans om hom ’n tweede keer te konfronteer nie. Hy sal tog nie erken dat hy dit geneem het nie, glo sy. En teen hierdie tyd sal hy dit so goed versteek het dat niemand dit sal kry nie. Dit maak ook nie saak dat die pille verskil nie – feit bly, hy was in besit van ’n ongeoorloofde aantal pille. Hy sal haar nooit as te nimmer daarvan kan oortuig dat hy dit nie met ’n doel daar in sy kassie gehad het nie!

      Toe die dagpersoneel opdaag, voel suster Jo verplig om die saak aan te meld. Die dagsuster skud haar kop ongelowig. “Ek kan nie dink dat meneer Mulder sulke planne het nie. Hy is dan so anders vandat hy tot inkeer gekom het. Maar ons sal hom dophou.”

      Suster Jo verlaat die saal met dieselfde neerslagtige gevoel van die vorige aand toe dit tyd is om van diens te gaan. Sy verstaan haarself nie heeltemal nie. Eintlik behoort sy haar te verlekker in die kraak in Rudolf Mulder se karakter. Na regte moes sy so iets te wagte gewees het. Sy moes kon dink hy sou nie veel verstandiger geraak het in ses jaar nie. Tog kan sy dit nie regkry om haar in sy swakheid te verlekker nie. Haar teleurstelling en woede is groter as haar veragting. Veral die woede. Woede? wonder sy skielik. Hoekom ís sy so kwaad vir hom?

      Omdat hy haar in die moeilikheid gedompel het, natuurlik, maak sy haarself wys. As hy daardie pille sluk, gaan sy gewis afbetaal word! Sy steek ineens in haar spore vas. Eintlik sal dit haar mos pas as die superintendent haar vra om maar sommer dadelik te gaan . . . sy wil dan wegvlug. Maar dié gedagte bring geen verligting nie. Sy is steeds kwaad vir Rudolf Mulder. Smoorkwaad omdat hy so swak is dat hy pille wil staan en drink omdat hy te lamlendig is om sy gestremde toestand te aanvaar. Dit is so onnodig. Hy sal mos nie heeltemal onproduktief deur die lewe hoef te gaan nie . . .

      Haar gedagtes breek stomp af toe hy plotseling in sy rolstoel voor haar opdoem.

      “Kom, nou gaan ons twee gesels!”

      Daar is so ’n onverbiddelike uitdrukking op sy gesig dat sy half onwillekeurig toelaat dat hy haar na die stil hoekie onder die bome du.

      “Sit daar op die bank!”

      Sy gehoorsaam willoos.

      “Om mee te begin, ek het nie daardie pille gesteel waarvan jy my verdink nie. En die pille wat jy in my laai gekry het, dit was maar . . . sommer.”

      Sy aarseling skok haar verstand nugter. “So, dit was maar sommer. Om sommer te wat, meneer Mulder?”

      “Kyk, suster Jo, miskien was jy nog nooit in ’n posisie waarin jy nodig gehad het om te wanhoop nie, maar . . .”

      “Asof jy kan praat van wanhoop!” sis sy hom meteens onbeheers toe. “Jy wat alles het wat ’n mens kan begeer! Geld waarmee jy ’n hele toekoms kan koop as dit nie anders kan nie. Nee, meneer Mulder, jy weet nie wat wanhoop is nie. Wanhoop is wanneer die mense wat jy vertrou jou in die rug steek! Wanneer . . .” Sy swyg plotseling toe sy agterkom haar vinnige humeur het haar op die punt om hom ook te begin beskuldig oor dit wat hy haar ses jaar gelede aangedoen het.

      “Wanneer die man wat jou ses jaar gelede ’n groot onreg aangedoen het, skielik maak of hy jou nie ken nie. Is dit wat jy wou sê?” waag hy ’n skoot in die donker. En dit blyk ’n voltreffer te wees.

      “Ek gee hoegenaamd nie om dat jy maak of jy my nie ken nie, meneer Mulder. Om die waarheid te sê, dit pas my uitstekend!”

      “En die kind?” waag hy ’n tweede skoot in die donker.

      “Die kind? Watter kind? Ek het mos ’n aborsie ondergaan.”

      “Het jy?”

      Haar blik ontwyk syne en sy soek wild na ’n vasklouplek iewers teen die wit muur van saal B4. “Natuurlik het ek.”

      “Jy is ’n swak leuenaar, suster Jo. Jou ontwykende blik en hees stem verraai jou. Waar is die . . . ons kind?”

      Haar blik kom rus ineens vas in syne. “Hy is niks van jou nie, Rudolf Mulder. Vir hom is sy pa dood. Morsdood, verstaan jy? So dood as wat jy en jou ouers hom wou gehad het. En ek dink nie ons twee het enigiets verder vir mekaar te sê nie.”

      Maar toe sy opstaan, skiet sy hand uit en hy dwing haar aan die arm om weer te sit.

      “Voordat jy so haastig is om verskoon te word, verwag ek dat jy my om verskoning sal vra.”

      “Verskoning waaroor?” wil sy ergerlik weet.

      “Omdat jy my daarvan verdink dat ek pille gesteel het.” Dit is bloot iets wat hy uit die lug gryp om haar langer daar te hou sodat hy sy gedagtes kan orden, want haar onverwagse bekentenis van die kind het hom onverhoeds betrap. Hy het net ’n raaiskoot gewaag en nie verwag dat dit tot ’n bekentenis sou lei nie. Die waarheid laat hom sidder.

      “Jy sal lank wag vir ’n verskoning van mý, meneer Mulder. Nog langer as wat ek gewag het op ’n verskoning van jou gedrag destyds.”

      “Baie mans het meisies al in die steek gelaat,” opper hy versigtig.

      “Ja, baie het. Maar almal van hulle is nie so lafhartig om agter hul ouers se omkoopgeld te gaan skuil om van die meisie en kind ontslae te raak nie.”

      “Ouers se omkoopgeld?” lok hy haar verder uit.

      “Wat help hierdie redenasie ons tog? Jou ouers het my met die geld vir ’n aborsie in die stad gaan aflaai en ek het uit jul lewe verdwyn. Van my kant het ek dus woord gehou dat ek nooit, maar nooit weer met ’n Mulder kontak sou maak nie. Dis jý wat jou verskyning hier in die hospitaal kom maak en alles bebodder het!”

      “Sê my net een ding,” vra Rudolf ernstig. “Het my ouers jou regtig geld gegee om ’n aborsie te ondergaan?”

      “Moenie maak asof jy dit nie weet nie! Ek sal nie een enkele oomblik glo dat jy nie kop in een mus was met hul besluitneming oor my en my kind nie!”

      “Wat is die outjie se naam?”

      “Wat traak dit jou wat sy naam is?”

      “Toe maar, ek weet sy naam is Anton. Is hy gesond?”

      “Los my kind uit! Jy’t niks met hom uit te waai nie!”

      “Jy haat my verskriklik, nè? Maar ek dink . . . ek verstaan. Net een vraag nog . . .”

      “Wat?” wil sy weet, haar mooi groen oë die ene agterdog in haar bleek gesiggie.

      “Gaan jy met dokter Simpson trou?”

      “Trou! Met dokter Simpson? Waar kom jy aan so iets?”

      Hy voel plotseling lighoofdig van verligting. In hom ontstaan daar, soos in sy droom, ’n onweerstaanbare drang om sy arms om haar te sit, maar hierdie keer weet hy waarom hy so ’n drang koester. Dit is omdat hy, ondanks haar verlede, vir haar omgee. Hy het ’n gevoel vir haar wat hy nog nooit vantevore ondervind het nie. ’n Gevoel waaraan hy nie ’n naam durf gee nie.

      “Ek

Скачать книгу