Annelize Morgan Omnibus 4. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Annelize Morgan Omnibus 4 - Annelize Morgan страница 27
“So ja, nou kan ons ry.”
“Ons sal moet gou maak as ons nog die nedersetting wil haal, Henri,” sê die ander een. “Ons het reeds ’n dag te lank gewag.”
Gréville snork vies. “Daardie dikke sal maar net moet verstaan. ’n Man kan nie meer doen as wat moontlik is nie.”
Hulle help die meisie op ’n perd en klim dan op hul eie rydiere.
Leia gluur hulle met blitsende oë aan. Sy weet nie wat hulle beplan nie, maar sy het haar ontvoerder herken as een van die mans wat La Liberté voorheen besoek het. Hy was net een keer daar en het baie kwaad vertrek. Is dit nou sy wraak? En hoekom is sý daarby betrokke?
Sy laat haar blik sak. Daar is nie vir haar enige hoop nie. Niemand sal kom om haar van hierdie mans te red nie. Die graaf sal dalk maar te bly wees dat sy nou weg is en hy hom nie langer oor haar hoef te bekommer nie.
“Drieduisend dukate!” roep Gréville se helper opgewek uit. “Die dikketjie is mal om soveel vir dié vroumens te betaal!”
“Noudat ons haar het, kan ons die skroef ’n bietjie vaster draai, Philippe! Dink jy ek gaan hierdie voëltjie vir so min verkoop?” Hy snuif hard en hervat: “Sy is minstens veertigduisend op die oop mark werd, en dit is wat die duiwel vir haar gaan kry.”
Philippe se oë blink. “Dis nes jy sê, Henri, ons kan die skroef ’n bietjie vaster draai.”
Leia byt op haar tande. Ek gaan weer verkoop word … hulle gaan my soos ’n dier aan die volgende eienaar verkoop en niemand kan daar iets aan doen nie! Sy sug. Die noodlot het haar ’n wrede streep getrek. Sy het net begin om haar lot op La Liberté te aanvaar, en nou begin die hele proses van voor af.
Terwyl hulle ry, dink sy aan Jacques de la Fontaine. Verskil hy werklik van hierdie soort mense? Hy sal haar ook maar aan die hoogste bieder verkoop as hy geld nodig het. Hoeveel keer sal ek nog van eienaar verwissel voordat ek te oud word om ’n goeie prys te haal?
Diep in die nanag ruil hulle perde en dan sit hulle hul reis na die nedersetting voort.
As ek hul bose planne wil fnuik, moet ek my voorkoms skend, dink Leia koelbloedig. Dis al manier waarop ek dalk kan loskom. Met kloppende hart beskou sy die omgewing. Sy kan van die perd afval en haarself seermaak. Sy kan haar gesig deur ’n skerp tak laat krap. Dan sien sy die klipperige terrein voor hulle in die flou maanlig en sy neem ’n besluit. Dis nou of nooit. Daar voor is die nedersetting, en dan sal dit te laat wees om nog iets te probeer doen.
Toe hulle tussen die klippe inry, staal Leia haarself teen die onvermydelike pyn wat gaan kom. Sy kies die oomblik versigtig en toe dit daar is, skop sy haar voete uit die stiebeuels en val sywaarts met haar kop eerste.
Gréville roep verskrik uit toe hy sien wat gebeur. Hy is te laat om die meisie te keer en sien met afgryse hoe sy met haar gesig teen ’n ruwe klip val. Dan hou hy sy perd in en wip uit die saal. Hy vloek soos hy lank laas gevloek het.
Leia lê doodstil tussen die klippe. Die skerp kant van die klip het ’n diep sny oor haar voorkop gelaat, en die donker bloed sypel stadig daaruit.
Philippe staar geskok na die meisie. Hulle moes haar ongedeerd aan die dik mannetjie afgegee het. Die duiwel gaan los wees oor daardie lelike sny.
“En wat de duiwel gaan ons nou maak?” brul Gréville. “Daardie wond gaan ’n letsel laat!”
“Ons kan haar hare half oor haar gesig laat hang,” doen Philippe ontsteld aan die hand.
“Dit sal te opvallend wees. Ons kan maar tot siens sê vir die drieduisend dukate, ou maat! Ons sal gelukkig wees as ons nie afgeslag gaan word hiervoor nie!”
Philippe lyk ongelukkig. “Ons kan nie omdraai nie. Miskien moet ons haar hier laat en spore maak.”
Gréville byt op sy tande. “Ons sal gejag word totdat iemand ons nekke vir ons breek.” Hy kyk af na die meisie aan sy voete wat nou weer tekens van lewe begin toon. “Al ons sorgvuldige planne is in die war gestuur deur een koppige vroumens. Ek wed jou dat sy dit moedswillig gedoen het.”
Philippe sidder. “Dis darem nie moontlik nie.”
Gréville gluur hom aan. “Met hierdie een is alles moontlik! Het jy dan vergeet dat sy soos ’n barbaar grootgeword het? So ’n letsel beteken vir haar niks!”
Leia sit regop en kyk om haar rond. Sy glimlag effens toe sy die taai bloed oor haar voorkop voel loop.
Gréville ruk die doek van haar mond af. “Toe, praat! Wat het gebeur?”
Sy staan stram op. “Niks. Ek het van die perd afgeval, dis al.”
Hy maak haar hande los en gluur haar woedend aan toe sy sonder meer weer op die perd klim. Hy help haar nie, al sien hy dat dié handeling haar skynbaar pyn besorg.
“Toe maar, jy sal jou verdiende loon kry!” sis hy en stap na sy perd.
In stilte ry hulle verder. Die twee ontvoerders se opgewektheid het soos mis voor die son verdwyn.
Bako is die eerste een wat besef dat Leia nie in haar huisie is nie. Hy soek oral rond na haar totdat die kommer hom naderhand na die graaf dryf.
Dis nog baie vroeg toe hy aan die agterdeur klop, maar De la Fontaine is geruime tyd reeds op en kom dadelik na Bako toe.
Die slaaf se ontstelde gesig vertel hom dat iets groots verkeerd is.
“Leia is weg, meester,” sê hy uitasem.
De la Fontaine frons. “Weg?”
“Ja, meester. Sy was gisteraand laat nog by die vuur en vanoggend is sy skoonveld. Sy het nie in haar bed geslaap nie.”
De la Fontaine byt op sy tande. Dan het dit nou uiteindelik gebeur, dink hy omgekrap. Leia het weggeloop. ’n Koue woede neem van hom besit. Hy het haar genoeg kanse gegee en hierdie keer gaan hy haar swaar straf. Dis meer as wat ’n geduldige mens kan verduur. Hierdie volgehoue uittarting moet eens en vir altyd end kry.
“Bako, jy en Silo moet te perd na die naaste bure ry en gaan uitvind of hulle Leia iewers gesien het. Dit maak nie saak hóé julle dit doen nie. Bring haar net terug hierheen.”
Bako knik en draf weg. Sy hart voel swaar in sy binneste. Hy weet dat Leia hierdie keer geen genade van die meester kan verwag nie.
De la Fontaine gaan omgekrap die huis binne. Sy moeder wag hom in die voorkamer in.
“Iets verkeerd, Jacques?”
Hy haal ’n keer diep asem om sy emosies onder beheer te kry.
“Dis weer Leia. Sy het laas nag weggeloop.”
Die gravin sug diep. “Jy moes haar maar liewer verkoop het.”
Hy byt op sy tande en sy aantreklike gesig is hard en ongenaakbaar.
“Hierdie keer gaan sy haar vasloop. Sy waardeer skynbaar nie goeie behandeling nie.”
“Gaan jy haar dan nog behou?”