Op vlerke van die wind. Tryna du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Op vlerke van die wind - Tryna du Toit страница 7
“’n Skooljuffrou, sou ek raai, wat ’n welverdiende vakansie van lastige leerlinge en hulle ewe lastige ouers geniet. Ek is jammer as ons jou ongerief veroorsaak het.”
Emma bloos vererg. Haar groen oë glinster ergerlik, maar sy beheer haarself en sê koel: “Ek is seker ons sien almal uit na die vakansie, meneer Van Zyl. Laat ons dit nou nie met ’n kinderagtige vete bederf nie. Die skip is groot, daar is genoeg plek vir ons almal.”
Daarmee draai sy om en stap weg, maar haar vreugde in die mooi, sonnige dag is gedemp. Wat het haar makeer om so met die man te praat? Sy het niks daardeur bereik nie, haarself net in groter verleentheid gedompel.
Sy stap vinnig en ná ’n rukkie bedaar haar onstuimigheid. Waarom het sy haar so ontstel? wonder sy half geamuseerd. Die kool is die sous nie werd nie.
’n Rukkie later verskyn Agnes Greeff op die dek. Sy wag toe sy Emma sien aankom en groet haar glimlaggend.
“Jy lyk so energiek! Hoe vroeg het jy opgestaan?” vra Agnes.
“Voor sonop. Ek kon net nie langer in die kajuit bly nie.”
“Ek wou ook opstaan, maar Moira het nog geslaap en ek wou haar nie hinder nie.”
Emma vra hoe dit met haar skoonsuster gaan en Agnes skud haar kop. Daar is ’n frons tussen haar wenkbroue. “Sy voel nie baie lekker nie.” Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy: “My broer is ’n bietjie meer as ’n jaar gelede skielik oorlede en dis ’n moeilike aanpassing vir Moira. Jy sien, dis nie net dat Henk dood is en sy nou alleen die mas moet opkom nie. Saam met Henk het sy ook so baie ander dinge verloor wat vir haar belangrik was. Sosiale status, vriende, ’n groot huis en tuin, ’n besige sosiale lewe …”
“Ek wil glo dis ’n moeilike aanpassing vir enige vrou,” sê Emma simpatiek.
“Sy was baie mooi toe sy jonk was,” sê Agnes en die frons is nog daar. “Almal het haar bederf – eers haar ouers, toe Henk. Henk het alles vir haar gedoen. Hy was altyd die buffer tussen haar en alles wat onaangenaam was. Dis vir haar moeilik om te aanvaar dat sy nou alleen is, dat ’n deel van haar lewe – so ’n belangrike deel – vir goed verby is.”
“Het sy kinders?” vra Emma.
“Een getroude seun, Dirk. Moira het ’n ruk by Dirk en sy gesin gewoon, maar sy hou nie baie van Dirk se vrou nie en dit het nie goed gegaan nie. Sy is toe eers na ’n hotel, later na ’n woonstel, maar sy kan – of wil – nêrens aanpas nie. Ons hoop maar die reis sal haar ’n nuwe uitkyk op die lewe gee.”
“Waarheen gaan julle oral?”
“Ons beplan eintlik ’n reis om die wêreld. Word ons moeg – of gebeur daar iets – kan ons altyd vroeër terug huis toe gaan. En jy? Wat is jou plan?”
Emma glimlag effens.
“Ek het geen vaste plan nie. Ek volg maar net my ster!”
Agnes glimlag begrypend.
Hulle gaan saam na binne. ’n Man kom die trap op. Die blougrys oë betrag haar koel, effens spottend, en verleë kyk sy weg.
Langs haar sê Agnes Greeff verras: “Hallo, dokter Van Zyl. Dis ’n verrassing! Ek het nie gedink besige dokters kry nog tyd om skip te ry nie. Ek het gedink as hulle êrens wil gaan, vlieg hulle altyd.”
“Hallo, Agnes. Reis jy saam met ons?”
“Ek het besluit om jou raad te volg. My skoonsuster en ek is op die eerste skof van wat ons hoop ’n wêreldreis sal wees.”
Emma wag verleë dat die dokter opsy moet staan dat sy kan verbykom, maar Agnes sit haar hand op haar arm en sê: “Laat ek julle voorstel: dokter Jacques van Zyl van Kaapstad, Emma. En dit is Emma Conradie.”
Hy steek sy hand na Emma uit. ’n Oomblik aarsel sy, dan lê sy haar hand onwillig in syne.
“Emma Conradie,” sê hy liggies terwyl hy haar hand nog in syne hou. “Die skip is nie heeltemal so groot as wat jy gedink het nie, is dit?”
“Nee,” sê sy koel en maak haar hand uit syne los. Hy glimlag en lyk meteens jonger, meer genaakbaar. “En is juffrou Conradie ook op ’n wêreldreis?” vra hy beleef.
“Ek weet nie. Ek het nog geen vaste planne gemaak nie,” sê sy, net so beleef.
“Sy volg maar net haar ster, sê sy,” vertel Agnes.
“Avontuurlike gees,” merk die dokter op.
“Dit kan ook ’n gebrek aan verbeelding wees,” sê Emma liefies. “Verskoon my, asseblief, ek moet my kajuitmaat gaan wakker maak.”
Sonder ’n woord staan hy opsy sodat sy kan verbykom.
Sandra is reeds op. Sy het ’n langbroek met wit en blou strepe en ’n wit trui aan. Sy het haar rooigoue hare agter haar kop vasgebind en is besig om haar gesig te grimeer.
“Hoe oud is jy, Sandra?” vra Emma met ’n glimlaggie.
“Twintig,” sê Sandra, besig om haar handewerk van naby te beskou.
“Perfek,” sê Emma. Sy haal haar kopdoek af, maak haar lippe rooi en sê: “Kom ons gaan eet.”
“Waar sit ’n mens?” vra Sandra. “Ek ken niemand op die skip nie.”
“’n Ander vrou het my gevra om by haar aan tafel te sit,” sê Emma. “As daar nog plek is, kan jy by ons sit. Maar hier sal seker ander jong mense wees en jy sal tog seker verkies om by hulle te sit.”
Saam stap hulle eetkamer toe. By die deur staan Hilda met ’n jong offisier en gesels. Sy het ’n blou broekpak aan met ’n blou serp om die nek en lyk uitgerus en opgewek. Sy knik vir die offisier tot siens en kom na Emma toe. Verras staar sy na Sandra, en met ’n glimlag stel Emma hulle voor.
“Mejuffrou Suid-Afrika!” Hilda Bekker kyk na die beeldskone meisie: die vleklose vel, die byna volmaakte gelaatstrekke, die glorie van haar rooigoue hare, en ’n vreemde uitdrukking flits oor haar gesig. Hartseer? Jaloesie? Dis weg voordat Emma kan sê. Dan glimlag Hilda en sê vrolik: “Geniet dit, liefie! Ons gesels later.”
Die kelner neem hulle na hul tafels toe: Emma en Hilda na die tafel waar Emma die vorige aand gesit het; Sandra na ’n tafel daar naby met twee jong mans en ’n jong meisie.
“Ons het tafelmaats,” sê Hilda nadat die kelner hulle bestelling gevra het. “Markus van Aswegen, die nyweraar, en sy nuwe jong vrou. Markus en my man het saam in verskillende direksies gedien en hy het dikwels by ons aan huis gekom. Hy is ’n paar maande gelede van sy vrou geskei – hulle was by die dertig jaar getroud – en ek het onlangs gehoor dat hy met Tania, ’n jong model, getroud is. Hy het gesê ons – jy en ek – moet by hulle aan tafel sit.”
Emma kyk onseker na haar.
“As jy ander vriende het …” begin sy. Maar Hilda glimlag. “Ek wil graag hê jy moet hier sit. Jy sal hou van Markus – ’n ruwe diamant, maar eg. Jack, my man, het altyd gesê hy is een van die slimste sakemanne wat hy nog teëgekom het. Hy het belange oor die hele land en is seker vandag ’n miljoenêr. Hy