Op vlerke van die wind. Tryna du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Op vlerke van die wind - Tryna du Toit страница 9
Emma dink aan Tania en Markus van Aswegen. Is dit wat Sandra se ma vir haar dogter wil hê?
Gewapen met ’n boek en ’n tydskrif is Emma op na die dek waar sy vir haarself ’n dekstoel bespreek het.
Watter weelde, dink sy toe sy lui uitgestrek in die dekstoel lê met ’n reisdeken langs haar vir ingeval die briesie te koel word. Wanneer laas het sy die kans gehad om so te ontspan? Met die boek op haar skoot tuur sy lomerig oor die blou water, te lui om ’n hand te lig.
Hilda kry haar ’n rukkie later daar.
“Ek het jou vir al die wedstryde ingeskryf,” sê sy. “Jy kan nie die hele dag so lê nie – dink net hoe skandelik vet jy sal word.”
“Ek het nie die minste plan om so bedrywig te wees nie,” sê Emma verontwaardig. “Ek gee ook nie om as ek vet word nie. Dis my vakansie en ek gaan my van niemand laat voorskryf wat ek moet doen nie.”
“Jy sal gou genoeg voel jy het die oefening nodig. Speel jy brug?”
“Wat is brug?” vra Emma lui. “Nog nooit daarvan gehoor nie.”
“Ag, toe nou! Maar terloops, ek hoor Sylvia Lessing is ook aan boord. Sy was op haar dag ’n kampioenbrugspeler. Sy is nou tagtig, maar ek waarsku jou: bly uit haar pad by die brugtafel.”
“Ek sal dit verkies om uit almal se pad te bly,” sê Emma, en maak haar oë toe.
“Lafaard! Wat dink jy van ons tafelgenote?” vra Hilda nuuskierig.
Sonder om haar oë oop te maak, sê Emma tergend: “Ek kom van daar doer in die Wes-Transvaal. Daar leer ons om ons ore oop en ons mond toe te hou. Dit wil nie sê dat ek nie geïmponeer is nie, hoor! Nou toe, gaan weg. Ek het baie om oor na te dink.”
Hilda lag.
“Ek dink sy praat met my, nie met jou nie, dokter Van Zyl. Nou ja, verskoon my. Ek het nog werk om te doen.
Emma kyk verbaas op. Jacques van Zyl en Aletta staan langs haar stoel. Die kind het ’n pakkie in haar hand. Hoe lank staan hulle al hier?
Alette gee die pakkie vir haar en sê verleë: “Dis vir jou, om dankie te sê vir gisteraand.”
Deur die dun papier waarmee die pakkie toegedraai is, kan Emma sien dat dit ’n doos sjokolade is. Wat nou? wonder sy ongemaklik. Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy: “Dankie, Aletta, dis vriendelik van jou, maar ek het regtig niks gedoen nie. Ek het so baie vrugte en lekkers present gekry – ek sal dit nooit alles opgeëet kry nie. Wil jy dit nie liewer vir Jessie gee nie? Dis tog sy wat al die werk gedoen het.”
Sy sien hoe die kind se gesig verander en weet sy het gefouteer. Voor sy kan regmaak wat sy verbrou het, sê Jacques van Zyl: “Ek dink dis ’n goeie plan, Aletta, ons gee dit vir Jessie. Sy werk hard en niemand dink seker ooit daaraan om vir haar sjokolade te gee nie. Gaan sit dit in die kajuit, dan gee ons dit later vir haar.”
Aletta aarsel ’n oomblik, dan draai sy om en stap beteuterd weg. Ná ’n rukkie waag Emma dit om na Aletta se pa te kyk, maar hy lyk so koud en ongenaakbaar dat haar hart in haar skoene sak.
“Ek is jammer, dokter,” sê sy. “Ek weet nie waarom ek – wat jou en Aletta betref – blykbaar altyd die verkeerde ding doen nie.”
Sy gesig versag nie. Hy trek ’n dekstoel nader en gaan dwars daarop sit sodat hy reguit na haar kyk. Kortaf sê hy: “Die geskenkie was Aletta se idee, nie myne nie. Sy het dit met haar eie geld gekoop, maar het nie die moed gehad om dit vir jou te bring nie – daarom het ek saamgekom. Of sy ’n beter ontvangs sou gekry het as sy alleen was, weet ek nie. Ek twyfel eintlik. Maar ek wil jou graag vra – as jy dan vasbeslote is om die kinderagtige vete met my vol te hou, moet asseblief nie vir Aletta daarby betrek nie.”
Emma is nou self omgekrap en, tot haar ontsteltenis, baie na aan trane. Geraak sê sy: “Ek het gister met Aletta probeer praat. Sy was alleen en het so verlate gelyk. Toe sê sy reguit vir my haar pa laat nie toe dat sy met vreemde mense praat nie en draai haar rug op my.”
“Ek is jammer. Ek het nie geweet nie. Dit is heeltemal waar. Ek hét haar belet om met vreemdelinge te praat – en ek het vergeet om haar te sê dat sy hier op die skip maar kan gesels met wie sy wil. Dit was dan eintlik ’n soenoffer wat sy jou gebring het. Jammer dat jy dit nie kon aanvaar nie.”
Hy aarsel ’n oomblik, dan sê hy: “Aletta is van nature skaam en terughoudend en omstandighede het haar die afgelope jare nog meer so gemaak. Die reis en die kuier by haar Skotse familie is ons eerste vakansie saam en ek hoop dit sal haar help om ’n bietjie te ontdooi en nie so menssku te wees nie.”
Aletta kom by die deur uitgestap. Sy kyk na haar pa waar hy langs Emma sit. ’n Oomblik aarsel sy, dan stap sy na die reling toe om daar op hom te wag.
Emma kyk na die kind in haar lelike lang romp en swaar skoene. Sy dink dat Jacques van Zyl miskien ’n goeie chirurg kan wees, maar dat hy van ’n vrou se sielkunde baie min weet. En eendag, as hy nie oppas nie, gaan sy dit vir hom sê!
“Sal jy asseblief vir Aletta roep, dokter Van Zyl?” vra Emma koel.
Hy staan op, stap na sy dogter toe en sê iets aan haar. ’n Oomblik huiwer sy, dan, onwillig, kom sy na Emma toe. Die gesiggie is geslote, die blou oë waaksaam. Emma wag tot sy langs haar stoel staan, dan neem sy haar hand. ’n Skraal, gevoelige handjie, die naels stomp afgebyt.
“Ek het aan ’n beter plan gedink,” sê sy met ’n glimlaggie. “Ons gee vir Jessie een van my dose lekkers, dan bring jy vir my die sjokolade wat jy vir my gekoop het. Ek wil dit baie graag hê.”
Die kind kyk haar ’n oomblik aan, dan sê sy stroef: “Jessie was in die kajuit. Ek het dit reeds vir haar gegee.”
“Ek is jammer,” sê Emma sag. “Maar dis net my verdiende loon, nè?”
“Gelukkig het jy ander presente ook gekry. Verskoon my,” sê Aletta en stap terug na waar haar pa vir haar wag.
Emma se gemoedsrus is daarmee heen, sy is wawyd wakker. Sy hoop hulle sal voortaan uit haar pad bly! Sy hou vakansie, sy wil haar nie met ander mense se sake bemoei nie. Sy sal nie toelaat dat hulle haar verder ontstig nie. Met ’n suggie tel sy die boek op haar skoot op en begin daarin blaai.
Daar kry Phil de Klerk haar ’n halfuur later.
“Is dit wat jy die hele oggend gedoen het? ’n Sterk, gesonde meisiekind soos jy?”
“En wat het