Op vlerke van die wind. Tryna du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Op vlerke van die wind - Tryna du Toit страница 8

Op vlerke van die wind - Tryna du Toit Tryna du Toit-omnibus

Скачать книгу

      “Ek dink nog ek moet liewer ander tafelmaats soek,” sê Emma half huiwerig. Wat sal ’n plaasjapie soos sy tog in sulke uitgelese geselskap maak? “Wie is daar nog?”

      “’n Kapenaar, Phil de Klerk – radioman, joernalis en skrywer. Jy het seker al van hom gehoor. Markus ken hom – hy het hom genooi.” Sy kyk op, dan sê sy nugter. “Hier kom hulle nou.”

      Emma kyk ook op. Begelei deur die hoofkelner kom ’n ouerige man en ’n jong meisie aangestap. Die man is omtrent sestig en is fors gebou met ’n groterige bles. Hy lyk soos ’n boer wat meer op sy gemak sal wees op sy landerye en tussen sy skape as in dié geselskap. Maar uit sy hele persoon straal ’n dinamiese krag waarvan ’n mens dadelik bewus is. Die meisie is omtrent vyf-en-twintig, slank en soepel soos ’n wilgerlat. Haar roesbruin hare is hoog op haar kop gekam en sy het besondere geelbruin oë en ’n pragtige roomwit vel. Aan haar vinger skitter ’n yslike blouwit diamant. Sy lyk soos ’n eksotiese blom, mooi, wêreldwys, en jonk genoeg om Markus van Aswegen se dogter te wees.

      Trots stel Markus haar aan Hilda en Emma voor. Is dit die trots van die besitter, wonder Emma – dieselfde trots wat hy in sy mooi plase, sy duur perde of ’n kosbare juweel sou hê? ’n Interessante paar, maar dit is die man, meer as die meisie, wat haar belangstelling prikkel. En dan is daar ook die Kapenaar, Phil de Klerk. Inderdaad ’n uitgelese geselskap. Wie sou die ander leë plek aan die tafel vul?

      Dokter Jacques van Zyl het pas by die eetkamer ingekom. Sy dink hoe sy hom “meneer” het, aan die ontmoeting daar op die trap, en half ergerlik, half verleë kyk sy af na haar bord. Dan staan hy langs hulle tafel. Markus van Aswegen staan op en sê hartlik: “A, Jacques, hier is jy. Kom, dat ek jou voorstel … dokter Jacques van Zyl, dames. Jy ken vir Tania, Jacques. En dit is Hilda Bekker en langs haar Emma Conradie.”

      Emma knik koel. “Dokter Van Zyl en ek het reeds kennis gemaak.” Langs haar is ’n leë stoel, maar hy gaan gelukkig langs Tania sit.

      “Ek hoor jy kom nou net uit die hospitaal, dokter,” sê Tania. “’n Ongewone rol vir die dokter om ’n pasiënt in sy eie hospitaal te wees.”

      “Heel ongewoon en baie leersaam,” sê hy met ’n glimlag. “En beste van alles, dit het gemaak dat ek skielik met vakansie kan gaan.”

      “Sou jy nie binnekort Duitsland toe gegaan het om ’n konferensie by te woon nie?” vra Markus van Aswegen.

      “Ek is op pad na die konferensie toe. Ek sou later per vliegtuig gegaan het; nou het ek besluit om vakansie te hou en met die skip te gaan. Dis nog iets wat ek daar in die hospitaal geleer het: dat niemand onmisbaar is nie. As jy die dag nie meer daar is nie, gaan die wêreld doodgewoon sonder jou aan.”

      “Dié stelling geld vir baie mense, maar beslis nie vir almal nie,” sê Markus. “In elk geval, dis hoog tyd dat jy ’n bietjie vakansie hou. En toe het jy besluit om Aletta saam te bring?”

      “Sy sou in elk geval saamgekom het. Ek wil hê sy moet met haar Skotse familie kennis maak.”

      “Is jy van Skotse afkoms, dokter?” vra Hilda verbaas.

      “Nee, my vrou was. Ons het saam in die hospitaal in Edenburg gewerk en sy het later saam met my Suid-Afrika toe gekom.”

      Sy stem is koel en bruusk, asof hy nie graag sy eie sake bespreek nie. Niemand waag dit om hom verder uit te vra nie.

      Hulle is klaar met ontbyt en besig om tee te drink toe Phil de Klerk opdaag. Markus van Aswegen stel hom voor en nuuskierig kyk Emma na hom. Nie meer so danig jonk nie, besluit sy. Hy is seker al in die veertig. Sy dik bos hare, te vroeg grys, vorm ’n interessante kontras met sy gladde, nog jong gesig en donker oë. Maar hy lyk moeg. Daar is sakkies onder sy oë. Te min slaap, ’n te harde, te vinnige lewe? wonder Emma.

      Phil glimlag innemend toe hy aan die punt van die tafel regoor Markus van Aswegen gaan sit en vra verskoning dat hy so laat is. Hy gee sy bestelling aan die kelner en draai dan na Emma.

      “Emma Conradie, het Markus gesê? Is dit van die Kaap se Conradies – Mon Désir, Eikenhoutfontein – of van daar doer agter die berg?”

      “Van daar doer agter die berg. ’n Mooi ou dorp in Wes-Transvaal: Potchefstroom. Miskien het jy al daarvan gehoor?”

      Hy grinnik.

      “Ek ken my geskiedenis,” sê hy bestraffend. “En ek het self jare gelede eenkeer in die nag deur die dorp gery. Ons het verdwaal en was honger en dors, maar kon in die hele dorp geen kafee of hotel kry wat vir ons iets te ete of te drinke wou gee nie.”

      Emma glimlag en sê verskonend: “Dis ’n ou boeredorp, met boeretradisies. Ons werk bedags en slaap snags. Maar jy kon by enige huis aangeklop het – ons Transvalers is nog bekend vir ons gasvryheid.”

      “Verskoon my,” sê hy met ’n tergende glimlag. “Ek praat nie graag op ’n leë maag politiek nie. Later, as ek sterker voel, sal ek graag die argument wil hervat.”

      Net voor hulle opstaan, sê Hilda: “Ek het luitenant Horn be­lowe ek sal help om die kompetisies te organiseer. Ek maak staat op julle almal se samewerking. Nee, ek luister na geen versko­nings nie. Die oefening sal ons almal goed doen, en daar is brug en skaak vir dié wat nie van oefening hou nie. Ek sien julle later.”

      In die kajuit is Sandra besig om uit te pak. Emma bewonder al die mooi klere – gesofistikeerde langbroeke en bloese met blinkers en pêrels; elegante pakkies, lang, wasige aand­rokke – die een mooier as die ander.

      “Dis alles geskenke van verskillende firmas vir Mejuffrou Suid-Afrika,” sê Sandra. “Mamma het gehelp om die klere uit te soek. Sy het baie goeie smaak, en maak gewoonlik al my klere self. Sy weet presies wat my pas.”

      “Jy is ’n gelukkige kind,” sê Emma. “Dis ’n uitrusting waarop enige bruid trots sou wees.”

      Sy sien die skaduwee wat oor Sandra se gesig val en onthou hoe krampagtig sy gistermiddag die telegram in haar hand vasgehou het. Is dit net die vrees van ’n kind wat die eerste keer van die huis af weggaan en alleen die onbekende moet aandurf? Die skaduwee wat so dikwels onverwags oor die mooi gesig val – wat sou die rede daarvoor wees?

      Sy sien nou die geraamde portret van ’n jong man op die spieëltafel. Sy tel dit op. ’n Mooi, sensitiewe gesig, maar nog jonk, ongevorm. Onderaan die portret staan geskryf: “Van Jerry, met al my liefde.”

      “Is Jerry jou kêrel?” vra Emma glimlaggend.

      Die skaduwee is nog daar.

      “Ons … ek hou baie van Jerry. Ons wou graag nou verloof geraak het, maar Mammie dink ek is te jonk, ek moet my nie nou al bind nie.”

      “Miskien is sy reg,” sê Emma sag. “Ek weet vandag se jong mense is meer volwasse as wat ons was, maar twintig is nog baie jonk. Julle kan maklik nog ’n jaar of twee wag. Geniet die lewe – ’n mens is net een maal jonk. As Jerry jou liefhet, sal hy nie omgee om nog ’n rukkie vir jou te wag nie.”

      “As ’n mens mekaar liefhet – en jy het mekaar nodig – waarvoor moet jy dan wag? Die wêreld is anders as toe jy my ouderdom was. Alles is vandag so onseker … Daar gebeur so baie dinge so vinnig. ’n Mens kry die gevoel daar is nie meer so baie tyd nie.”

      Emma sit die portret op die spieëltafel neer.

      “Ja,

Скачать книгу