Die tonnel. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die tonnel - Ena Murray страница 4
“Dis Liza, meneer Stander. Sy het my grootgemaak,” verduidelik Ilse.
“Ons ken mekaar al, nè, Liza?” sê-vra Jakobus vriendelik.
“Ja, meneer. Ek is bly meneer het daardie aand gekom, anders was Ilse se pa alleen toe hy …”
“Ja,” val hy haar vinnig in die rede. “En ek is net so bly dat jy hier is om Ilse te help.”
“Ek is baie lief vir haar. Sy is soos my eie kind. Het ek dan nie vir haar van …”
“Liza, ek is seker die kos is besig om aan te brand. Moet jy nie eers gaan loer nie?” val Ilse haar in die rede en met ’n gemompelde verskoning haas die swart vrou haar terug na die huis. Ilse glimlag verskonend. “U moet haar maar verskoon, meneer Stander. Wanneer sy op daardie onderwerp kom, kos dit omtrent ’n bom om haar stil te kry!”
Jakobus lag.
“Dis alles reg, Ilse. Jy gee nie om dat ek jou so noem nie, nè? Jy kan my gerus maar oom Jakobus noem. Ons sal in die toekoms nog baie met mekaar te doen kry en formele aanspreekvorms het my nog nooit aangestaan nie.”
“Goed, oom Jakobus,” stem sy in en weet meteens dat sy vandag ’n vriend bygekry het. Sy het tot dusver ’n baie geslote lewe gevoer en baie selde met mense in aanraking gekom. Sy het selfs in die teenwoordigheid van haar familie ongemaklik en selfbewus gevoel. Maar hierdie man is anders. Sy voel sommer tuis in sy geselskap en die vriendelike, opregte, belangstellende kyk in sy oë het dadelik haar vertroue gewen.
“Nou ja, dan verstaan ons mekaar, my kind. Ek het nog nie my meegevoel met jou pa se heengaan betuig nie.”
Sy kyk hom ’n oomblik stil aan en sê dan eerlik: “Dankie … maar hy was ’n vreemdeling vir my. Ons het mekaar skaars geken. Ek sal baie vals wees as ek voorgee dat daar met sy dood ’n groot leemte in my lewe gekom het. Maar hy wás my pa, die enigste lewende siel wat ek my eie kon noem. En nou is hý ook nie eens meer daar nie …”
Jakobus lê ’n simpatieke hand oor hare.
“Ek weet. Hy het my vertel. Al het dit nie so gelyk nie, het hy jou liefgehad en was hy die afgelope tyd baie bekommerd oor jou. Hy het baie van jou gepraat.”
Hy sien die verbasing op haar gesig en vervolg sag: “Hy was tog jou pa, my kind, en hy het hom bitterlik verwyt dat hy jou so verwaarloos het. Moet hom nie te hard oordeel nie, Ilse.” Toe sy nie antwoord nie, word sy stem dringend. “Ek weet dis maklik vir ’n buitestander om so iets te sê, maar sal jy nie probeer nie? Jou pa se lewe was baie eensaam, en vir die foute wat hy in sy lewe begaan het, het hy dubbel en dwars geboet met die groot lyding aan die einde.”
“Ek voel nie haatdraend en verbitterd teenoor hom nie, as dit is wat u vrees. Ek sal nie ontken dat sy vreemde, onpersoonlike houding teenoor my my seergemaak het nie, maar ek het mettertyd daaraan gewoond geraak en aangeneem dat dit seker maar sy geaardheid was, want teenoor my oorlede stiefma en stiefbroer het hy ook nooit enige teken van gevoel getoon nie. Dis net …” Sy soek na woorde. “Dis net dat ek nie hartseer oor sy afsterwe kan voel nie, dat ek hom nie mis nie. O, ek het hom jammer gekry tydens sy siekte, maar soos wat ek vir ’n vreemdeling of iemand wat ek nie juis goed ken nie, jammer sou voel. Maar of ek kan sê dat ek ’n persoonlike verlies gely het met sy afsterwe … Ek weet nie of u kan verstaan wat ek bedoel nie …”
“Ek verstaan, my kind. ’n Mens kan nie liefde verwag waar jy nie liefde gegee het nie. ’n Mens kan ook nie rou van ’n vreemdeling verwag die dag wanneer jy sterf nie.” Dan draai hy doelbewus na haar en kyk haar eers ’n ruk stilswyend aan. Daar is ’n huiwering in sy hart. “Ilse, eintlik is ek hier op ’n sakebesoek. Dis in verband met jou pa se testament,” laat hy dan eindelik hoor. Sy kyk hom vraend aan, en hy vervolg: “Wil jy hê dat ek dit vir jou moet voorlees, of kan ek maar net die inhoud kortliks vir jou skets?”
“Moet Mynhardt nie ook by wees nie?”
“Nee. Dit was jou pa se uitdruklike wens dat julle apart ingelig moet word oor die inhoud daarvan.”
Sy huiwer en dan vra sy, haar oë ondersoekend: “En het u ’n kort rukkie gelede die inhoud daarvan met Mynhardt bespreek?”
Hy kyk haar verbaas aan.
“Ja. Was hy hier?”
Sy laat haar ooglede vinnig sak om die onrus daarin weg te steek.
“Ja, maar hy het my niks vertel nie.”
Jakobus kyk haar bekommerd aan en skuif ongemaklik rond. Hy is bly dat sy oorlede vriend uitdruklik in die testament gevra het dat Mynhardt en Ilse apart vertel moet word. Hy is dankbaar dat Ilse nie teenwoordig was toe Mynhardt vir die eerste keer van die bepalings gehoor het nie. Die dinge wat hy gesê het, sou hierdie kind baie seergemaak het. Markus Rademeyer het nie besef in watter moeilike posisie hy sy prokureursvriend sou plaas nie. Hy weet nie hoe en waar hy moet begin nie!
“Skort iets, oom Jakobus? U lyk so bekommerd …” dring Ilse se onrustige stem tot hom deur.
“Nee … nee! Dis maar net … Ilse, ek wil jou vooraf waarsku dat dit nie ’n gewone testament is nie.” Sonder om haar kans te gee om te antwoord, vervolg hy: “Maar voordat ons begin, wil ek net ’n boodskap van jou pa oordra.” Hy vertel van die laaste uur van sy vriend se lewe en van sy laaste woorde. Dan sluit hy af: “Ek wil hê jy moet dit onthou wanneer ek vir jou vertel wat in die testament staan.”
Sy knik stilswyend, maar met die intuïsie van ’n vrou weet sy dat wat sy nou gaan hoor haar hele lewe gaan verander.
Jakobus begin om haar te vertel van haar pa se bekommernis oor haar en Mynhardt se welsyn, die groot bedrag wat Mynhardt by hom geleen het, en sy begeerte om hulle albei te help.
“Om dit te kon doen, was daar net een weg vir hom oop.” Hy kyk weg en sug. “Indien jy en Mynhardt binne ’n maand ná sy dood in die huwelik tree, hou Mynhardt die geld wat hy geleen het. Maar hy moet dan swart op wit belowe dat hy nie van jou sal skei nie, dat julle saam in een huis sal bly en dat hy vir jou sal sorg tot jou dood. Indien hy voor jou sterf, moet daardie bedrag aan jou uitbetaal word en so ’n skuldbewys moet opgestel word ten gunste van jou. Indien hy nie hierdie bepalings nakom nie, is hy verplig om die volle bedrag wat hy geleen het, aan jou uit te betaal. Indien een of albei van julle weier om in die huwelik te tree, sal die bedrag onvoorwaardelik op jou naam geplaas word en ek as eksekuteur van die boedel sal dit in maandelikse paaiemente aan jou uitbetaal totdat jy mondig is. Mynhardt erf dan niks, behalwe die motor en die erf.”
2
Mynhardt se hande bewe toe hy uiteindelik voor die moderne woonstelblok stilhou. Daar is ’n woelende, kolkende woede in hom wat tot uitbarsting wil kom. Hy sukkel om die voordeursleutel van sy woonstel in die slot te kry, maar dan gaan die deur onverwags voor hom oop en twee sagte arms gly om sy nek.
“Hallo, my liefling. Waar bly jy dan so laat? Het jy vergeet dat ons vanaand gaan dans?”
Hy stamp die deur agter hom toe en trek ergerlik aan die twee sagte hande agter sy nek.
“Hoe kom jy in my woonstel,