Die tonnel. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die tonnel - Ena Murray страница 8
’n Vreemde opwinding roer in Ilse se hart. As sy Mynhardt se vrou kon wees … Die wete dat sy hom liefhet, het die afgelope dae tot haar deurgedring. Dit help nie meer om dit te ontken nie. Maar dan omklem die bittere besef haar: Al sou sy ook instem tot hierdie fantastiese plan, sal sy tog nooit sy vrou wees nie, nie soos sy dit met haar hele hart begeer nie. En dit is duidelik dat Mynhardt hoegenaamd nie as vrou aan haar dink nie. Hy het dit reguit gesê! Dis net die geldelike nood wat hom tot hierdie daad dwing.
“Vertrou jy my dan nie?” vra hy reguit toe sy nie dadelik antwoord nie. “Ilse, ek is seker jy het nog nie só oor die saak gedink nie. Belowe my dat jy jou besluit sal heroorweeg, asseblief,” pleit hy dringend.
Sy huiwer ’n oomblik en sê dan: “Goed, Mynhardt, ek sal weer oor die saak dink.”
“Baie dankie, Ilse. Ek gee jou my woord van eer dat ek nie in jou lewe sal inmeng nie.” Hy staan op. “Kan ek dan maar Donderdagaand weer kom om te hoor wat jy besluit het?”
Sy knik instemmend. Maar in die dae wat volg, is sy jammer dat sy hom dit belowe het. Toe hy Donderdagaand uiteindelik weer vertrek, verberg sy haar gesig in haar hande en snik sag. Hoekom sy huil, verstaan sy self nie. Daardie nag slaap sy byna niks en toe sy die Vrydagmiddag weer op dieselfde plek onder die boom op Jakobus en Mynhardt wag, lyk sy baie bleek en gespanne.
“Nou ja, dis seker die laaste van hierdie gesprekke. Laat ons hoor, Ilse,” val Jakobus dan ook dadelik met die deur in die huis.
’n Oomblik hou Mynhardt se oë hare gevange en dis asof die hipnotiese mag van sy donker, dringende oë die antwoord uit haar dwing.
“Ek het besluit om tog maar met Mynhardt te trou.”
Jakobus staar haar ongelowig aan. “Ilse!” Dan kyk hy na Mynhardt en sê reguit: “Dis jóú werk dié, nè?”
Mynhardt se oë flits gevaarlik.
“Ilse het besluit om met my te trou. Dis wat haar pa ook wou gehad het. U mening is nie van belang nie.”
Daar is ’n waarskuwende noot in sy stem en Jakobus besef dat hy miskien sy perke oorskry het. Maar om hierdie onskuldige kind aan die genade van Mynhardt Wessels oor te laat …
Hy sit agteroor terwyl sy verstand blitsvinnig werk. Om nou ’n rusie met Mynhardt aan die gang te sit, sal Ilse niks help nie. Nee, hy sal maar moet wag totdat hy en sy weer alleen is. Hy staan op en draai na haar toe.
“Daar is nog tot môremiddag tyd, my kind. Dink weer oor die saak na.” Terwyl hy Mynhardt heeltemal ignoreer, stap hy na sy motor.
Dis eers toe sy motor deur die ysterhekke verdwyn dat Mynhardt ontspan en na Ilse kyk. Hy sien dat sy hewig ontsteld is, en die trek om sy mond raak nog meer vasbeslote.
“Baie dankie, Ilse, dat jy jou belofte van gisteraand nagekom het. Maar nou wil ek jou nog ’n guns vra.”
Sy kyk hom met wydgerekte, bang oë aan. Die vrees dat sy verkeerd besluit het, knaag weer aan haar binneste.
“Ek het vanoggend reeds alle reëlings vir ons huwelik getref,” vervolg hy. Hy huiwer. Haar oë is so vreesbevange op hom gerig. Sy is nog so onskuldig … Dan stoot hy die steurende gedagtes met geweld van hom af weg. Hy móét daardie geld behou, en Jakobus Stander is van plan om alles in sy vermoë te doen om dit te verhoed. Dit kan hy sien! “Ek het ook met ’n predikant gereël om ons sommer vanmiddag hier in die huis in die huwelik te kom bevestig.” Sy snak na asem en Mynhardt draai na haar. “Ek het gedink hoe gouer ons alles agter die rug kry, hoe beter. Waarvoor sal ons wag? Dis onnodig om die spanning langer uit te rek. En aangesien jy belowe het om met my te trou …” Hy swyg betekenisvol.
’n Paar uur later, nadat ’n baie bekommerde Liza aandete aan die twee voorgesit het, staan Mynhardt op en stoot sy stoel weer onder die tafel in.
“Ek wil weer eens vir jou dankie sê, Ilse. Ek hoop nie jy sal ooit spyt wees nie. As jy my sal verskoon, ek moet gaan. Ek het ’n afspraak.”
Toe buk hy af en soen haar liggies op die wang. Lank nadat hy vertrek het, sit sy nog so met haar een hand op die plek waar sy lippe gerus het. Haar oë blink oneindig treurig. En so tref Jakobus haar aan. Hy maak ook geen geheim van die doel van sy besoek nie.
“Dis nie my gewoonte om ander mense te beswadder nie, maar in hierdie geval …” Hy sug en sê dan reguit: “Ilse, jy is besig om op ’n afgrond af te stuur en ek durf dit nie toelaat nie. Nee, wag dat ek klaar praat. Ek het in die verlede allerhande lelike dinge van Mynhardt gehoor, en nadat ek vanmiddag hier van julle af weg is, het ek bewyse gaan soek. Die stories wat van hom vertel word, is waar.”
“Watter stories, oom Jakobus?” Daar is vrees in haar oë.
“Hy is jou stiefbroer, my kind, maar, nou ja … Hy het nie ’n te mooi reputasie wat vroue betref nie. Verder ken hy soms nie sy perke met drank nie, en die keuse van sy vriende laat ook veel te wense oor.”
Terwyl hy praat, verbleek Ilse al hoe meer en fluister dan skor: “Is dit die waarheid, oom Jakobus?”
“Ja, my kind. Ek is jammer, Ilse, maar ek was verplig om dit te doen. Jy durf nie met so ’n man trou nie. Jy is nog so onskuldig, weet nog so min van die lewe af.” Hy kyk na haar doodsbleek gelaat en sê vertroostend: “Toe maar, my kind, ek sal self vir Mynhardt sê dat jy nie kans sien om met hom te trou nie.”
“Ek … oom Jakobus, ek kan nie meer terugdraai nie.”
“Wat bedoel jy?” vra hy angstig.
“Ek … ek en Mynhardt is vanmiddag getroud!”
Die aand toe Ilse in die bed lê, dink sy weer aan wat die prokureur haar vertel het. As dit werklik alles waar moet wees! Sy sidder. Jakobus Stander was verskriklik ontsteld nadat sy hom van die huwelik vertel het, maar hy het, net soos sy, besef dat daar nou niks meer aan verander kon word nie.
Sy is nog so ingedagte toe sy die voordeur hoor oopgaan en Mynhardt se voetstappe in die gang hoor afkom. Dis reeds lank ná middernag en die angs verskerp in haar hart toe sy hom voor haar kamerdeur hoor huiwer. Met bewende hande trek sy die beddegoed op tot teen haar ken en staar stip na die deur wat stadig oopswaai. Die kamer is in helder maanlig gebaai, dus kan sy sy gestalte duidelik in die deur sien staan. Sy trek haar asem skerp in toe hy met onseker treë na die bed toe stap. Hy buk oor haar en die drankreuk wat aan hom kleef, walg haar. Dan voel sy sy hande op haar hare en sy maak haar lippe oop om te skree, maar geen geluid wil uit haar toegetrekte keel kom nie.
“Ilsetjie,” fluister hy met ’n swaar tong bokant haar kop. “Goeie, dierbare, ou Ilsetjie! Gee sjommer klompe geld weg!” Hy hik en ’n oomblik lank lyk dit asof hy bo-op haar gaan val, maar hy herwin sy balans net betyds. Sy bewe onder die aanraking van sy hand en hy gee ’n skor laggie. “Isj jy dan bang vir my? Jy hoef nie bang te weesj nie. Ek hou van vrouensj soos Helo … Heloïsje …” Hy knik weer en kyk haar half onseker aan. Dan draai hy om. “Sjlaap lekker, my vrou!” Hy loop-val deur toe. “My vróú!”
Sy smalende, spottende lag bereik haar ore en dan is hy weg. Haar hele liggaam bewe van ontsteltenis terwyl warm trane oor haar wange rol. My eerste huweliksnag! Wat hét my besiel?
En soos ’n tergende refrein eggo haar verwonde hart agterna: Wat hét my besiel …?