Hartepad. Gerrit Rautenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hartepad - Gerrit Rautenbach страница 5
Ons stap die res van die sowat vier kilometer in stilte terwyl die dag se krag minder begin raak. Met die ompad om die olifant kom ons toe heel skeef by Oddballs aan, maar dit hou ook ’n voordeel in. Ons stap in op die werksmense se sokkerveld waar ’n paar al besig is om warm te maak. Hulle skree almal geesdriftig vir System om te kom aansluit toe hulle ons sien.
“My naam is System, want ek verstaan sokker,” verklaar hy alles.
Oddballs is eenvoudig, maar Oddballs is mooi. Die groot jakkalsbessies, wildevye en vaderlandswilge oral op die rand van die water vorm die legkaart van die kamp. In die middel is die eetplek en watergat vir mensekele. Oraloor is houthutjies en staanplek vir tente weggesteek tussen dik lower en die diepdonker waterare van die Delta. Ek is baie bevoorreg en kry ’n boomhuis in ’n jakkalsbessie. ’n Boomhuis met ’n koningsgrootte-dubbelbed, en suite-badkamer met selfs warm water en ’n koffiemaker. ’n Boomhuis wat uitkyk oor die water van die Delta wat nagswart begin raak soos die son sy rus gaan soek.
Die nag het sy eie simfonie gebring. Eers het ek by die eetplek gaan sit en luister na die paar gaste se gemengde dialoog met die knetterhout van die vuur as ondertoon. Daar was Australies en Brits en Duits en Frans en Vlaams. Later het Jessy van Wellington – dis nou die ene in Nieu Seeland – ophou praat, haar kitaar nader getrek en een vir een snaar gestem. Een vir een het die mense ophou praat in afwagting. Sy het saggies ’n paar note uitgepluk. En met haar hees Maori-stem begin sing.
I see skies of blue, clouds of white
Bright blessed days, dark sacred nights
And I think to myself: what a wonderful world …
Die laaste note van haar godgemaakte stem het soos watersirkels oor die waters weggekring totdat net die paddas en krieke oorgebly het in hierdie wonderlike wêreld van die Delta. Ek was gelukkig. Ek was tevrede.
In hierdie plek kry jy voornag, dan nanag, dan diepnag en dan ounag voordat vroegoggend aanbreek net voor dagbreek. Voornag het die mense gepraat. Nanag het die leeus gegroet. Diepnag en ounag het net die krieke en paddas onverpoos gekras. Vroegoggend skeur ’n huislose hiëna sy hart vol heimwee stukkend. Ek is dadelik wakker en verlang. Na my ma. Na my pa. Ek wens die groot dubbelbed was nie so enkel beset nie.
Stadig het die son se onkeerbare naderkoms die swart verpers tot ’n dieprooi. Ek het die rietskanse van die boomhuis oopgelos deur die nag en deur die oopte begin kyk na die Skepping wat herrys. Wit wasemslierte het oor die swart water gehang. Voor my in die vlak water het twee langtone grasieus die dag van een lelieblaar na die volgende binnegestap. Swartkeelgeelvinke het kwetterend begin koer en rumoer. ’n Visarend het brekfis begin soek. Die ewigheid het weer lewe gekry.
Ná koffie het System vir my aan die onderpunt van die boom gewag. Ons is daar weg in ’n uitgeholde boomstamkano genaamd mokorro. System het ons sistematies voortgedu met ’n paal op die bodem van die rivier. Hamerkoppe, hoep-hoepe en hadedas het om ons gehang. Later het ons aangeland op ’n kleiner eiland en voetpad gevat. ’n Trop rooibokke het snorkend gevlug, neusvleuels oop in die wind en horings agteroor gegooi.
“Nou kom ons leer van die rooibok,” begin System. As ’n ooi dragtig raak en die weer bly verkeerd, kan sy haar lam tot twee maande langer binnehou en wag totdat die veld reg is.”
’n Entjie verder kry ons seekoeie wat wegwaggel, maar gou weer gaan staan om te wei. Hulle pluk-pluk aan die groen en ek sien dis maar net ’n verwerkingseenheid. Soos die gras ingaan, so word dit verteer totdat ta dit in honderde klein bolletjies agter uitplop. Of liewer uitswiep, want hy wikkel daai verspotte stertjie heen en weer dat die drolletjies so spat.
“Nou kom ons leer van die seekoei,” gaan System voort. Lank-lank gelede was hy net ’n landdier en het baie, baie warm gekry. Toe gaan hy na die Groot Skepper en vra of hy nie maar water toe kan gaan nie. Die Groot Skepper wys dit uit dat hy groot is en dat hy baie poef maak en dat dit nie goed sal wees in die water nie. Seekoei gaan toe ’n ooreenkoms aan met die Groot Skepper dat hy nooit in die water sal poef nie, maar altyd op land. Maar hoe sal ek weet? vra die Skepper. Seekoei onderneem toe om sy poef so wild en woes met sy stert te sprei dat Skepper kan sien. En tot vandag kan hy nog steeds water toe, want hy het by sy belofte gehou.
Om die volgende draai steek System vas. Hy wys voor hom in die sand. Dis nie nodig dat hy iets sê nie. Voor hom is ’n leeuspoor so groot hy pas nie op ’n A4-fotostaat nie.
‘Nou kom ons leer van die leeu,’ sê System. ‘Die leeu is ’n hond. Sommer ’n brak. Hy hou hom groot, maar hy is lui. Hy hou nie van weerstand nie. As hy jou uitdaag, moenie hardloop nie. As hy storm en jy staan stil, weet die brak nie waarheen nie. Dan gaan staan hy sommer.’
Ek hoop van harte ek hoef nie sy lering te beproef nie.
So het ons verder geleer van die koedoe se horings wat gedraai is en waar die stink van die muishond vandaan kom en hoe die maanhaar van die blouwildebees hom help trou het. Laatmiddag roei ons terug Oddballs toe en skielik kyk ek na die houtbootjie waarin ek sit en wonder oor krokodille.
“System, sal ’n krokodil hierdie boot hap?”
“As hy honger is, sal hy hom knak, ja, soos ’n vuurhoutjie.”
“En dan? Wat doen ons dan?”
System het met so ’n hele paar hale die mokorro verder vorentoe gedruk, toe die paal opgetrek en daarop geleun terwyl die druppels daarvan af drup-drup. Die mokorro gly op daai punt geruisloos verby ’n groot, dooie boom wat geplant in die water staan. System het die boom so sistematies op en af bekyk en toe oopbek geglimlag dat jy net wit Afrika-tande in die namiddagson sien blink.
“Dan dink ek dis tyd dat ons leer boomklim!”
Ek het gelag en laer afgeskuif in my sitplek. Dinge diep in die Delta is diep spesiaal.
“Dink jy daai olifant van gister is oukei?” vra ek hom later.
“Ek dink nie so nie. Ons dink hy is so bedonnerd, want die poachers het hom gekwes. Maar ons weet nie. Hy kruip weg.”
Die volgende oggend vroeg het System weer vir my gewag. Daar was iets anders in sy oë toe ek by hom kom.
“Ons het die olifant gekry,” is al wat hy sê.
“Gaan wys my.”
Hy het besef ek is ernstig en heel waarskynlik teen regulasies in het hy my gevat. Halfpad op pad terug vliegveld toe het die grootvoet onder ’n paar mopanies gelê. Onder agter sy linkeroor was ’n koeëlwond wat nog dik, donker bloed gelek het waar die brommers gemaaier het. Sy oog het verstar in die niet in gekyk. Maar van die lid teen sy wang af het die traanspoor dik gestol.
Nou kom ons leer van die mens. Hy is die laagste skepsel in die skepping van die Groot Skepper.
Italiaans is nie ’n grap nie …
Benedetto D’Amatto sit en kyk voor hom uit met sy swartbruin oë sonder om regtig iets te sien. Of so wil dit voorkom. Hy skuif die moue van sy verslete woltrui op tot bokant sy knopperige elmboë. Die trui wat eens swart was, het nou al vergroen van die ouderdom. Sy seningrige, bruingebrande leervel-arms gaan rus dan weer op die growwe houtoppervlak van die kombuistoonbank. ’n Wysvingernael wat min geknip word en blougeslaan is deur ’n