Hartepad. Gerrit Rautenbach
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Hartepad - Gerrit Rautenbach страница 7
Mama sien die genot op my bakkies en in haar oë kan ek sien sy wil my sommer aanneem as ’n ekstra verlore wegloopkind. Intussen sit Benedetto net daar. Ten minste praat hy nie met ’n mond vol kos nie, maar kou net stadig aan ’n skyf van Mama se margherita. Daai maer wangbene werk ritmies op en af, en wanneer hy sluk, werk sy adamsappel verwoed soos ’n krom windpompsilinder. Andersins is hy stomgeslaan.
Mama is die bakker en Marco het self besluit hy is die skinker, want hy maak my glas vol met Fiano di Avelino, ’n witwyn uit die streek wat dalk ’n bietjie aan die soet kant vir my is, maar nou nie Laatoes of Muscat d’Alexandrie nie, eerder sauvignon blanc met ’n knertsie heuning in. Ná die derde sluk heel aardig, hoor. Solank hy koud bly. En hy het lekker geloop saam met Mama se spaghetti napolitana.
Intussen sit Benedetto net daar en slurp-slurp so aan sy glas Fiano en slurp-slurp sy spaghetti op sonder om ooit ’n woord te sê. Regtig, ek geniet alles terdeë, maar ek begin ’n bietjie wonder oor die maer omie wat net so stomgeslaan sit. Ek en Mama praat lekker deur Marco; ek en Marco praat lekker; Marco en Mama praat lekker. Onse omie seg nie boe of ba nie.
“E adesso per il primo piatto,” kondig Mama aan. Vir ’n oomblik sê Marco niks en ek wonder. Dan besef hy hy word benodig.
“Mama sê die hoofgereg is op pad,” antwoord Marco en ek hou al hoe meer van die Italianers.
“Ragù napoletano,” kondig sy aan en ná ’n tydjie se verduideliking van Marco verstaan ek dit is ’n beesvleisgereg gemaak van skenkel wat goed gekook word saam met die hoofbestandeel van die suide van Italië. Ja, dis reg, tamaties. Daarmee saam uie, rooiwyn, olyfolie, baie basilie, rosyntjies en geroosterde dennepitte, eenvoudig vervolmaak met sout en swartpeper.
My glas is leeg en Marco maak hom vol met Montesolae Taurasi van Campania, net so ’n klipgooi noordoos van waar ons sit. Dis vriende van die D’Amatto’s wat hierdie donker, amper swaar maar tog bessierige wyn maak. Dit proe so effe soos ons pinotage van die 1970’s; dalk net so ’n graad of wat vrugtiger. Framboos op die tong.
Benedetto D’Amatto sit net daar. Niemand is bekommerd oor hom nie, dalk net ek. Hoekom is die man so stomgeslaan?
Mama babbel voort. Ek verstaan driekwart nie, maar ek sit nou ook met ’n ander dilemma. Mama weet nie ek eet nie vleis nie. Daar is g’n manier hoe ek nie Mama se hoofgereg gaan eet nie. Nie ná al haar liefde en moeite nie. Dis snaaks, in die deel van Italië waar groente en seekos seëvier, sal daar nou wragtig op hierdie aand besluit word op een van omtrent drie vleisgeregte tradisioneel aan hierdie streek. Dit het my ’n tydjie gevat om te besef dis ’n spesiale bederf omdat belangrike mense kom kuier het. Dus, vanaand is ek nie ’n vegetariër nie.
Vir die oomblik besluit ek om nes Benedetto te raak. Ek sê niks en kyk maar net voor my uit. Mama skep op en sit die bord vol ragù en rys voor my neer met ’n fanfare, staan terug en wag met afwagting vir my om die eerste hap te hap. Ek hap. Hierdie vegetariër moet nou hier ’n erkenning maak. Ragù napoletano kan nou wel vleis wees, maar Mama Lalea! Is dit lekker!! Lekker genoeg om ’n vegetariër te bekeer. Maar hier teen die einde van Mama se groot porsie begin die beesvet dik op my binnewange lê. Ek smag na iets soos ’n suurlemoen om dit teë te werk. Mama gooi my toe met Struffoli, sulke heuningballetjies wat soetlekker is, maar nie regtig die beesvet van my binnebek wil wegvat nie. Inteendeel, dit bou so ’n ekstra suikerlagie bo-op die vet wat my laat voel ek gaan nou omkap. Versuikerde beesvet …
Intussen sit Benedetto net daar. Hy pop die Struffoli-heuningballetjies in sy kieste in, kou-kou langsaam-lekker en sluk-sluk dat sy adamsappel so hop-hop. Alles so stil-stil en stomgeslaan.
Ewe skielik is alles klaar. Die pizza, antipasto, secondo en dolce. Ek is dankbaar vir Mama wat my so dik gevoer het en laat huis kry het. Lanklaas het ek so tuis gevoel. Alles is klaar, ja, maar my koukamer is steeds vetvervat en ek wil hom skoonkry. Maar helaas.
Op daardie oomblik kry Benedetto lewe. Hy klap die houttoonbank voor hom met ’n seningrige hand dat die pote bewe en die vetvuil skottelgoed ratel. Almal sit versteen ek kyk vir hom.
Stadig lig hy sy regterhand en wys met ’n gekromde wysvinger na elkeen van ons. Hy stop by my en oor sy wysvinger soos ’n skewe geweerkorrel loer hy onder dik wenkbroue deur vir my. Die stilte hang swaar om ons. Hy staan op, loop na die hoek van die kombuis, en van onder uit ’n donker rak pluk hy iets uit wat hy dawerend op die houtoppervlak neerplak. Dan kraak stom Benedetto een woord. Kliphard en klokhelder.
“Grappa!”
Terwyl hy die proppie pluk, maak Mama drie klein dopglasies voor hom staan. Sy self vat nie.
“My Benedetto het die grappa self gemaak,” sê sy met dikke liefde en trots. Wat sy vanaand gemaak het, tel nie meer nie.
Benedetto skink drie maal. Ek en Marco staan nader. Ons drink elk een maal. Toe begin Benedetto praat. Onsamehangend. Praat en lag. ’n Ronde later praat ons almal saam in ’n Babelse verwarring. ’n Bottel later verstaan ons almal mekaar. Die vet op my binnewange is weg. Nee, dis nie ’n grap nie; dis grappa.
Ek is stomgeslaan.
’n Bygesleepte storie …
Ja-nee wat, daar is heelwat goeters wat vir ons ou volkie darem maar net totaal ononderhandelbaar lekker is. Soos nou byvoorbeeld potjiekos. Klippies en Coke. Bier, wyn, potbrood. En braaivleis. Selfs met ’n bietjie ertappelslaai, sousboontjies, slaphakskeentjies of dalk ’n hoender as groente om die gewete so tussendeur mee te sus. Maar wat ook al, moet nou net nie gaan staan en die braai bedonner nie, want braaivleis is net braaivleis as daar ’n beskaafde balans is tussen die groentes en die res. Die 80/20-beginsel. Met meer as genoeg tjoppies, boerewors en steak. Of enige ander liplek-lekker plak van ’n skaap, bees of vark. Soos ’n glimmende ribbetjie; vark of skaap, ongeag, solank hy lekker op sy kant hang langs die kole. En praat …
Maar om reg te laat geskied aan al hierdie lekkerte verg ’n ernstige mate van kennis en ervaring. ’n Kwalifikasie. Vir gewone goed in die lewe soos ’n loopbaan of ’n salaris gaan jy universiteit of kollege toe. Daar leer jy om ’n advokaat, dokter, prokerower, juffrou, argitek, loodgieter of wat ook al te word. Vir die belangriker goed gaan jy Universiteit van die Lewe toe. Om te kwalifiseer as byvoorbeeld ’n vuurmaker, vleisbraaier, broodbakker of tentopslaner. Dis baie intens geskoei op oorlewing. Van vader tot seun, moeder tot dogter, maar in moderne tye ook omgekeerd. Niks verder daaroor op hierdie oomblik nie …
Nou deel van Vleisbraai 101 en die ander hoofvakke is toerusting. Dit wat nodig is om te verseker jy word nooit ’n Smokey Robinson nie. Jy moet weet watter hout werk die beste vir watter vleis. Jy moet ook weet van gespesialiseerde roosters, braaitange en verskillende driehoeke om roosters op neer te sit en hake en grypers vir driepootpotte en hulle se deksels. Et nogal al.
Dis so ’n intree-ietsie oor die braaideel. Dan kom ’n mens by die drinkdeel en besef jy moet weet hoe om ys behoue te laat bly by die vuur en die regte drinkgereedskap en so. En skaduwee, o wee, hou tog net die koelerboks met ys onder die sambreel. Dis immers hoekom jy die ding het. En stoele wat reg sit vir groot kuier met ’n holtetjie in die lap-armleuning vir jou vlekvryestaal-glasie/beker/houertjie/dingetjie.
Ja-nee kyk, onse mense weet hoe om dit lekker te doen. Daarom het elkeen nou al lankal daai formidabele toerusting wat die lewe uniek maak by die huis. Alles en nog wat … Jou eie persoonlike voorkeure. En kom vakansietyd, dan wil ons nou hierdie groot lekkerte van braaivleis en kuier op ’n ander plek loop staan en doen. Soos wildtuin toe of langs die see. Maar om de dood toe kan ’n mens dit mos nou nie gaan staan en probeer