Waar is die kleure heen?. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Waar is die kleure heen? - Louisa du Toit страница 9
“Het ek gou geslaap?” vra Pietertjie, wat skynbaar steeds bang is dat hy iets kan misloop deur die ongewenste, onvermydelike slaapproses. Dit benou soms vir Laura. Die kind lyk na haar. Maar daar is in sy rustelose geaardheid tog veel van Piet. Hoe verknog sy ook aan die driejarige is, net so ver voel sy haar soms van hom verwyder in belewenis. Dis asof hulle ligjare uit mekaar lewe, selfs wanneer hy sy armpies om haar nek sit en haar druk.
Hierdie winkel bied geen uitdagings aan hom nie. Hy is nie die gewone soort seuntjie wat hou van donker hoekies en ’n deurmekaar geweste nie. Hy stel belang in stralers, supersoniese dinge. Sy wou hom al in die kleuterskool sit, maar kry die eienaardige idee dat dit vir hom ’n belediging sal wees om tussen kunsfeetjies en -kabouters te beweeg, met klei te speel en prentjies in te kleur.
“Jy het baie gou geslaap,” verseker Laura hom, en kry dan ’n dankbare ingewing: dis mos nog skoolvakansie, dalk kan sy vir John Walters vra om Pieter vir die dag te kom haal. Sy bel dadelik, tog dankbaar vir die familiebande met Freek en Susara. Susara is wel ’n nydige soort mens, maar sy hou van die kleintjie en Freek, veral, verneem gereeld hoe dit gaan en of hy met iets kan help. Dis meer as wat sy van Meyer kan sê. Sy kry die indruk dat hy, indien hy haar in die straat sien lê, bo-oor haar sal tree en die moeite dan nog ’n jammerte sal vind.
Noudat Pietertjie saam met John weg is, draal die Maandag onmeetlik langsaam verby. Laura verkies haar lewe deur nog ’n vinnige pas. Ledigheid akkordeer nie met haar nie. Sy verbaas haar oor Meyer en Minah, wat so swygsaam kan sit en staar. So was Piet ook nie. Sy en Piet was in daardie opsig eenders; te eenders. Beweeglik. Dis net dat hulle beweeglikheid in verskillende kanale gelei is: hare in werksaamheid, syne in plesierjag, uithuisigheid, geldsug. Soos sy later moes uitvind. Hulle huwelik het op ’n manier standgehou, maar daar was nooit werklik eenheid nie. Soos altyd, hok sy die knellende gedagtes af. Sy wil nie ontaard in ’n tobber nie. Tobberige mense is ’n kruis vir die om hulle heen. Hulle is dinkers, nie denkers nie.
’n Paar minute voor toemaaktyd ry sy om vir Pieter by die Walterse te gaan haal. Eers nadat sy hom gebad en ete voorberei het, onthou sy om te gaan kyk of die winkel toegesluit is. Inbraak sal ’n ramp wees. Die materiaal is duur, en onvervangbare antieke stukke staan rond om oorgetrek te word.
Sy maak seker dat die kind tevrede met sy bordjie kos voor die televisie sit en verseker hom dat sy binnekort terug sal wees. Yl, kil skemer het oor Sederburg neergesak. Die lewe het binnenshuis gekeer, want buite sny daar ’n ysige windjie deur die verlate strate. Iewers op die berge moes kapok geval het. Vanaand oor die weervoorspelling sal mens wel daarvan hoor.
Laura ys toe sy vind dat die winkel inderdaad nie gesluit is nie. Josef se toestand is erger as wat ’n mens besef. Stellig verduur hy genoeg pyn om hom gedagteloos te maak, al wil hy dit nie erken nie. Oomblikke lank staan sy in die verlate, deurmekaar lokaal. As sy haar sin kan kry, word die binnemure uitgebreek sodat die groot pakkamers deel van die lokaal kan uitmaak. Daar kan dan ’n aparte verkoops- en werksafdeling ingerig word, afgeskort van mekaar. Haar gedagtes neem die vrye loop. Dis of sy beter kan dink en visualiseer noudat sy alleen is. Soos Josef sê, kan sy met haar geestesoog sodanige verbeteringe vooruitsien.
Sy steek haar hand uit na die skakelaar teen die muur. In die enkele sekondes voordat die rommelrige lokaal deur lig oorspoel sal word, verstrak sy meteens. Sy voel staalharde spanning deur elke vesel van haar lyf skiet. Sy het … sy het ’n geluid gehoor, so effens dat dit meer intuïtief as sintuiglik was. Iets soos die kraak van ’n rusbankveer. Ten spyte van die spanning van spier, is daar in haar ingewande ’n onbeheerbare trilling.
Sy het nog altyd gewonder hoe sy in ’n dergelike situasie sal optree. Nou weet sy dat sy onvermydelik in so ’n situasie is, en sy is panies bang dat die ander persoon haar warm, hortende asemhaling sal hoor. Want sy is doodseker dat daar iemand by haar in die winkel is. In die oomblik van skrik flits een gesig voor haar verby: Meyer. Sal hy omgee as sy iets oorkom? Sal hy weet hoe sy gevoel het … dat hy sterk in haar verskrikte gemoed geleef het?
Sal hy dan opnuut, en inniger, treur oor wat daar tussen hulle verlore gegaan het, stukkend geval het, vyf jaar gelede?
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.