Satyn Omnibus 3. Helena Hugo

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 3 - Helena Hugo страница 26

Автор:
Серия:
Издательство:
Satyn Omnibus 3 - Helena Hugo

Скачать книгу

gewoonte steek sy haar hand uit om te antwoord.

      “Hallo, daar!” groet Melt se diep stem. “Jammer dat ek nou eers bel. Ek het tot laat vir jou by die Impala gewag, maar toe kry al twintig katte skielik weer kleintjies – almal tegelyk. Sal ons vanaand weer probeer vir daardie ete?”

      Sy sluk pynlik. “Ekskuus?”

      “Het jy geslaap?”

      “Nee . . .”

      “Cecilia?” sê-vra hy. “Hoe klink jou stem so vreemd?”

      “Ek’s oukei . . .”

      “Jy klink nie oukei nie. Wat gaan aan?”

      Sy sukkel kombuis toe en probeer om met een hand ’n glas water te tap. “Niks nie . . . ek makeer niks nie.”

      “Dit klink nie so nie. Waar’s jy?”

      “Hierso . . .”

      “By die huis?”

      Sy sluk ’n mond vol water onder die kraan en ruk haar reg. “By my chalet,” antwoord sy, maar Melt het reeds afgelui.

      Seker weer sy blieper of ’n noodgeval waaraan hy moes aandag gee, dink sy en drink nog ’n bietjie water vir haar keel. Dan besef sy haar keel is nie net droog nie, dis seer ook. En nie net binne nie, buitekant ook. Dis rou geskaaf en geswel. Môre gaan haar nek en lyf vol bloukolle wees. Dit was traumaties, maar sy was gelukkig, dit kon soveel erger gewees het. Aaklige skepsel . . . Sy gril by die herinnering aan sy suur sweetreuk en drankasem.

      Buite stop ’n voertuig. ’n Deur klap toe en voetstappe weerklink op die patio. Sy verstar en pluk die geskeurde kraag van haar japon toe. Is dit Leonardo wat teruggekom het? Sy was in so ’n toestand, sy kan nie onthou of sy die voordeur agter hom gesluit het nie.

      Daar is ’n klop aan die deur en ’n stem wat na haar roep. Sy skrik en hardloop in die gang op – vas in ’n donker figuur op pad deur die sitkamer. In die skemer kan sy nie behoorlik sien nie, net aan die buitelyne uitmaak dis ’n man. Iemand groot . . . Sy skree en swaai wild met haar arms om hom te probeer afweer.

      Sterk hande vat haar vas. Een arm pen haar arms vas en die ander een haar bolyf om haar te probeer beheer. “Hokaai! Stadig nou! Dis ek.”

      Hoewel haar brein registreer, is haar lyf nog vol adrenalien. Sy ruk weg, rem en spartel teen die hand wat haar gewrigte vasdruk. Totdat iets aan die skouers en die hemp opeens vir haar bekend is. En sy die vae muskusgeur ruik . . . Toe verslap sy.

      “Ekskuus dat ek sommer ingestap het, maar ek het gedink iets het gebeur,” sê Melt.

      Sy knyp haar oë toe, staan doodstil en laat ná ’n paar oomblikke met ’n sidderende sug haar kop teen sy bors rus.

      Sy arms wat om haar vou, word sag en beskermend. “So ja . . . dis beter. Wat het gebeur? Wat gaan aan?”

      Cecilia kan nie ’n woord uitkry nie, net teen hom leun terwyl verligting in ’n vloedgolf oor haar spoel.

      “Wie het jy gedink is dit?” probeer Melt weer.

      Sy moet eers sluk voordat sy die naam kan uitkry. “Leo.”

      ’n Frons laat trek sy wenkbroue saam. “Leonardo? Hoekom hý?”

      Sy was lank genoeg dapper en selfstandig. Dis ’n verligting om haar nagmerrie-ervaring op sy skouers af te laai: Leo se sweterige, vroetelende hande, die gestoei op die bank, die blompot, haar angs en skok. Dis ’n saligheid om veilig en beskut in sy arms te wees, wetend daar is geen ander plek op aarde waar sy op hierdie oomblik liewer sou wou wees nie.

      Melt hou haar ’n armlengte weg om in haar gesig af te kyk. “Leo, hier in jou chalet?” vra hy skerp. “Die vuilgoed! Ek gaan sy kop van sy lyf af donner!”

      Skielik, met vaste sekerheid, besef Cecilia: sy het hierdie man met die sterk skouers en koesterende hande lief. Nie net nou uit dankbaarheid en verligting nie, maar lankal. Van die heel eerste oomblik toe sy aan sy baadjiemou vasgehou het en hy gesê het sy moet dink aan nartjies eet by ’n rugbywedstryd of sjokolade aflek van haar vingers . . .

      Haar hart het geweet dis besig om te gebeur, maar haar verstand het weggeskram met die voorwendsel dat Steve nog te deel van haar is, dat sy emosioneel nie gereed is om betrokke te raak nie. Dit het ’n dronk Laeveldleeu gekos om haar wakker te skud en die simptome te herken.

      “Hy was vol bier, hy het nie geweet wat hy doen nie.” Sy is só gelukkig, sy kan selfs vir Leonardo verskoning soek. Sy voel om te sing en te dans onder ’n stortreën van sjampanje. Sy wil haar arms om Melt se nek sit en teen sy lyf versmelt.

      “Hy was nugter genoeg om te weet waar jy bly en dat jy vrou-alleen hier is!” sê Melt ontsteld. “Ek het gesien die spul daar by die Lapa bêre die biere asof ’n droogte op pad is, maar ek het darem nie gedink daardie stuk skuim sal hom met geweld op ’n vrou afdwing nie. Hoekom het jy my nie gebel nie?”

      Cecilia is op ’n ander bladsy. Sy wens Melt wil ophou om oor die aaklige Leonardo te praat. Sy wil die vlesige lippe en drankasem vergeet en op belangriker dinge konsentreer. Op die heerlike wete van die ontdekking wat sy so pas gemaak het.

      “Ek is nie hulpeloos nie, ek kan na myself omsien. En jy is besig, jy’t te veel ander pligte om jou ook nog oor my te bekommer.”

      “Na jouself omsien?” Hy lag kortaf en sonder humor. “Deur ’n dronk ou oor die kop te moet slaan om te keer dat hy jou verkrag?”

      “Dit was nie so erg nie. Ek het ’n onnodige bohaai opgeskop.”

      Melt laat hom nie paai nie. Hy is hewig ontsteld. “Te besig, te veel pligte? Bog! Ek het jou voorheen gesê ek is tot jou beskikking as jy my nodig het – dag of nag. Ek het dit bedoel, Cecilia. Ek gee vir jou om en jy is vir my belangrik. As jy my nodig het, sal ek alles los en dadelik kom. Ek het gedink teen hierdie tyd weet jy dit.”

      Gee vir haar om – wat beteken dit? Soos vir sy beste hemp, sy gholfstokke en die weeskindertjies in Kambodja?

      “Waar was Garth, dat hy niks kon doen nie? Of Joe?”

      “Garth was ver, by die sitruspromosie. En Joe ook, seker by sy werkswinkel.”

      “Jy moes om hulp geroep en die noodknoppie gedruk het! Wat baat sekuriteitswagte en ’n alarmstelsel as jy dit nie gebruik nie?”

      “Hy was te vinnig op my en te sterk. Ek kon nie by die knoppie kom nie.”

      En sy is vir hom belangrik, het hy gesê. Omdat sy vir hom werk en sy hele personeel vir hom belangrik is? Sy weet Melt is nie heeltemal neutraal teenoor haar nie; ’n vrou kan so iets intuïtief aanvoel. Daar is iéts tussen hulle, ’n aangetrokkenheid – ’n toegeneentheid, het hy dit op ’n keer genoem.

      Sy vingerpunte lig haar kakebeen versigtig na die lig toe sodat hy beter kan sien. “Wat makeer jou keel?”

      “Dis niks. Geskuur. Sy baard was lank . . .”

      “En jou japon?” Sy mond span in ’n onverbiddelike lyn en hy raak aan die V-vormige kraag wat oopgeskeur oor haar skouer gaap. “Ook daardie verdomde seksmaniak se werk?”

      Cecilia

Скачать книгу