Satyn Omnibus 3. Helena Hugo
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Satyn Omnibus 3 - Helena Hugo страница 22
Sy is nie al een wat van die spoor af is nie. Melt lyk ook of hy ’n kompas nodig het. Hy neem die beker wat Garth vir hom aangee en roer die koffie om en om, al weet Cecilia hy het nie suiker ingegooi nie. Hy neem ’n sluk en kom blykbaar nie agter dis bitter nie.
“Ek is bly om jou te sien,” sê hy sag.
“Ek ook,” fluister sy.
Dis asof die sterre verskiet en die wêreld ophou draai.
Garth was by die wasbak doenig. Hy haak ’n stoel nader en kom sit, onbewus van die onderstroming tussen hulle wat soos ’n elektriese storm broei.
Hy lig Melt in oor die gholffunksie, die volgende toernooi in Desember en die dag se skedule. Dan vervolg hy: “Ek hanteer die sitruspromosie, en Perskebloeiseltjie sorg vir die Laeveldleeu se konsert. Die klank- en beligtingtegnici is aan die werk in die Lapa, en al die kaartjies vir môreaand se vertoning is uitverkoop. Leonardo self arriveer elfuur op die lughawe. Bloeiseltjie gaan hom haal.”
“Ek sal die nuwe bussie gebruik,” voeg Cecilia by.
Melt skud sy kop. “Liewer ’n motor, dis meer persoonlik.”
“Die voertuie is almal uit, en myne is in Joe se werkswinkel,” verduidelik Cecilia, hoewel sy nie kan dink dat ’n vermaaklikheidster van Leonardo se status tuis sal voel in die Golf nie.
Melt haal sy motorsleutels uit sy sak. “Hierso . . . Gebruik myne.”
Cecilia se oë rek. Tien uit tien, meneer M, dink sy. Haar eks sou harakiri gepleeg het eerder as om sy motor vir haar te leen.
Sy wil dubbel seker maak dat sy nie verkeerd verstaan het nie. “Jóú motor?”
“My motor,” beaam hy.
“Wat as ek hom stamp?”
Hy haal sy skouers op. “Dis net ’n stuk blik . . . Dan betaal die assuransie.”
As Garth nie by was nie, het sy hom vol op daardie mooi mond van hom gesoen.
“Dankie, dis gaaf van jou,” antwoord sy stemmig.
Melt neem nog ’n sluk bitter koffie. “Plesier.”
“Ek sal versigtig ry.”
“Ek weet jy sal.”
Die blieper op sy heup maak ’n piepgeluid en Melt sug terwyl hy dit afskakel. “Ek het gehoop op ’n bietjie rus en vrede . . . Jammer, plig roep.” Voor hy loop, kyk hy vraend na Cecilia. “Daar is ’n dringende saak waaroor ek met jou wil praat. Wat van ete eenuur by die Impala?”
Al die meisies gooi hul flikkers vir hom, het Garth gesê. Haar voorganger ook, en dis hoekom sy sak en pak weg is. Sy moenie dieselfde paadjie loop nie. Melt Meiring behoort ’n etiket om sy nek te dra wat waarsku: Gevaar! Bly weg!
“Leonardo se vlug land eers elfuur; ek sal nie eenuur terug wees nie,” soek sy verskoning.
“Dan maak ons dit halftwee, as dit jou beter sal pas.”
“Halftwee is baie laat. Miskien moet jy solank eet en nie vir my wag nie.”
“Ek sal wag.” Hy gee haar nie kans om nog verskonings uit te dink nie. “Afgespreek. Sien jou dan.”
Garth kyk Melt agterna toe hy wegstap. “Hoekom lyk hy asof hy die boerpot by die casino gewen het?”
“Lyk hy so? Ek het nie opgelet nie.”
“Wat wil hy so dringend met jou bespreek?”
“Ek weet nie.”
“En jy?” Hy kyk nuuskierig na haar. “Wat lyk jy so agterstevoor en onderstebo?”
Cecilia vryf haar hare plat. Dis ’n soort heldeverering, besluit sy. Omdat sy Steve mis, projekteer sy haar gevoelens op die eerste ou wat verbykom. Die fase sal oorwaai, en volgende week is dit dalk Garth se beurt. Of Joe. Of netnou dalk Leonardo.
Dié logiese ontleding laat haar beter voel. Die res van haar hartkloppings blameer sy op die lentepakkie. Sy moet ’n klagte oor ’n stukkende TV-stel in suite 482 opvolg, en daarna gaan sy ter wille van haar gemoedsrus ’n donker romp en sober bloes aantrek. Dis nader aan ’n uniform, waaraan sy gewoond is en waarin sy veilig voel.
In antwoord op Cecilia se vraag beduie die sekuriteitswag na ’n wit Mercedes Benz-sportmodel op die parkeerterrein. Dáái een is meneer Meiring se vuurwa . . .
Cecilia het by Steve van duur motors geleer. Sy knip haar oë. Sy het mos die eerste dag al geraai dit sal sy styl wees . . . Haar vingerpunte streel waarderend oor die enjinkap, waaronder daar ’n lokomotief se perdekrag wegkruip. Is dít wat hy “ ’n stuk blik” noem? Wat nie saak maak as sy dit stamp nie, want die assuransie sal betaal?
Binne ruik dit na leer en muskus, met Melt se Monte Carlo-donkerbril wat oor die truspieëltjie hang. Sy skuif vol ontsag agter die stuur in.
Hoewel sy deeglik vertroud is met die pad na die Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe, bestuur sy stadig en versigtig. Sy konsentreer op die aankomende verkeer en kyk nie rond nie. Op die lughaweterrein parkeer sy in ’n stil doodloopry en gee die veiligheidswag ’n vet fooi.
“Meneer, pas hierdie motor met jou lewe op. As ek terugkom en hy is weg, of daar is soveel as net ’n mérkie aan hom, spyker ek jou met ’n stomp tuinvurk aan die naaste boom vas.”
Hy skrik. “Reg so, juffie, ek sal sorg!”
Sy is besig om die motordeur te sluit toe ’n bekende stem agter haar roep: “Cilla? Ek het gehoor jy werk by ’n hotel buite Nelspruit . . . Is dit wraggies jy?”
Sy draai verras om. “Kaptein Doep! Wat maak jý hier?”
“Ek is op die hop-hop-sprinkaanroete: Nelspruit – Durban – Oos-Londen – Port Elizabeth – Kaapstad. Net gou uit die aankomsaal geglip om ’n paar dampe te stook. Kan nog steeds nie die skoorsteengewoonte afskud nie.”
Cecilia onthou hy is ’n strawwe roker; hy het swaargekry toe rook op vliegtuie verbied is. “Dis gaaf om ’n bekende gesig te sien. Hoe gaan dit?”
“Goed, maar blykbaar nie so goed soos met jóú nie.” Hy kyk veelbetekenend na die wit sportmotor. “Jou wiele?”
“Ek wens . . .” Sy lag. “Nee, dis my ryk baas s’n. En hoe gaan dit by Jakaranda?”
“Darem nog neus in die lug en bokant die wolke. Ons het ’n nuwe roete Rio de Janeiro toe ingestel en is besig om die oorsese poel aan te vul. Ons mis jou. Jy was een van Jakaranda se topwaardinne. Oorweeg jy dit nie om terug te kom nie?”
Haar oë is broeiend toe sy wegkyk en haar kop skud.
“Lugdiens is nie die enigste wat jou mis nie, Cilla. Dit gaan sleg met Steve. Hy wou vir jou kom kuier, maar jy wil hom glo nie sien nie.”
“Dis beter so, dat die wonde kan genees.”
“Kry julle nie julle probleme uitgestryk