Ena Murray Omnibus 40. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray страница 6

Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray

Скачать книгу

’n skatryk man getroud en sy kla nooit oor enigiets nie. Maar die ouerharte voel aan dat hul kind nie so gelukkig is as wat sy behoort te wees nie. En sy kom al weer sonder haar man kuier … Geredelik aanvaar hulle die gewone verskonings: “Niel is baie besig. Vergaderings, die een op die ander. Pa weet mos?” En eintlik is hulle heimlik verlig dat hy so “besig” is. Hulle kon nog nooit gemaklik voel in hul skoonseun se teenwoordigheid nie. Ná hul eerste en enigste besoek aan die luukse huis van hul dogter en skoonseun in Sandton, het hulle erg minderwaardig gevoel. Dis nie die lewe wat hulle ken nie. Ook nie wat hulle verkies nie – hulle het hulself trouens altyd maar tekort gedoen om hul pragtige dogter elke gerief en geleentheid te probeer gee. Maar hulle is dankbaar dat dit so goed met haar gaan … Maar toe hulle daardie middag van hul dogter afskeid neem, wonder hulle stilswyend of dit werklik so goed met hul kind gaan. Wanya kan ongelukkig nie oorslaap nie. Sy ontvang môreaand baie spesiale gaste tuis. Mynmagnate, kabinetslede, vername manne in die kapitalistiese wêreld. ’n Baie belangrike ete. Nie dat sy self veel te doen het nie. ’n Ekstra sjef word gehuur om Thomas in die kombuis by te staan. Alfred ken al die kuns om ’n formele tafel te dek. Sy moet net ’n lae rangskikking vir die tafel maak. Maar sy moet darem daar wees … Dus groet sy maar.

      “Sê groete vir Niel. ’n Agent was nou die dag hier en vertel ons toe van Rock Trust. Hy sê Niel is een van die direkteure.”

      “Ja, Pa. Dis eintlik sý geesteskind en dit gaan glo baie goed.”

      “So het die agent gesê. En hulle betaal werklik goeie rente. Ek het toe ook maar ’n paar rand belê.” Hy glimlag. “Ek moet darem my skoonseun ondersteun!”

      Sy glimlag terug. “Dankie, Pa. Ek sal vir Niel sê.”

      Maar die boodskap word nooit oorgedra nie, want toe sy ná donker by die huis kom, is Niel nog nie tuis nie. Sy is reeds in die bed, die lig al later afgeskakel, toe hy inkom. Sy groet is vlugtig en ongeërg, sy gedagtes duidelik met ander dinge besig. Die frons tussen sy oë moedig haar ook nie aan om vrae te stel nie. Sy draai haar dus maar op die ander sy. Hy het nie eens daaraan gedink om te vra hoe dit met haar ouers gaan nie, daarom bly die groete wat gestuur is ook ongesê.

      Die volgende aand, glimlaggend tussen haar gaste, kom die besef tot haar dat sy werklik nie hier nodig is nie. Sy kon maar by haar ouers oorgebly het. Sy kon ’n bloemiste gebel het om ’n rangskikking vir die eettafel te stuur. Die twee sjefs se kos is onverbeterlik; Alfred se tafel onberispelik korrek gedek. Háár bydrae is ’n nuwe silwerarmband wat bewondering en afguns by haar vrouegaste wek, en die mans laat besluit dat Niel Cloete darem ’n gelukkige derduiwel is om met só ’n voortreflike vrou te kan spog.

      Maar in die weke wat volg, lyk Niel Cloete al minder na ’n gelukkige derduiwel. Altans, so lyk dit vir sy vrou wat hom deesdae byna net by sosiale okkasies sien. Ná so ’n okka­sie val hy vermoeid op die bed neer en slaap soos ’n dooie tot die volgende oggend wanneer hy hom weer inderhaas vir die dag se bedrywighede regmaak en verdwyn.

      “Jy kan nie so voortgaan nie, Niel,” sê sy een oggend be­sorg.

      Maar sy stem is ongeduldig soos dit dikwels deesdae die geval is: “Ek kan nie anders nie. Wanneer ’n mens kan oes, moet jy oes.”

      Sy weet nie presies wat hy bedoel nie, maar vra: “En wanneer is die oes verby? Ons het nie meer ’n lewe saam nie, Niel. Daar is geen vreugde of gemeensaamheid meer tussen ons nie.”

      “Dit sal op ’n dag rustiger gaan. Ek doen dit tog vir jou ook. Of dink jy alles wat jy hier om jou sien, val sommer soos manna uit die hemel neer?”

      Sy swyg maar. Sy geïrriteerde houding maak haar net nog ongelukkiger.

      Die volgende dag bars die bom.

      Die naam Rock Trust staan groot op elke koerant se voorblad. Dis selfs hoofnuus oor die radio en televisie. Daar is groot fout met Rock Trust en die miljoene wat die publiek daarin belê het, is in gevaar – hulle kan hul geld verloor. Nie net die rykes word geraak nie, maar veral dié mense wat dit die minste kan bekostig, die afgetredenes en pensioentrekkers wat deur die hoë rentekoerse verlei is om die neseier wat ’n leeftyd lank vir die oudag bymekaargemaak is, ten beste te benut. Of so het hulle gedink … Maar die kans dat hulle gaan verloor, is baie goed. Dit is wat Wanya in die koerante lees en oor die televisie hoor.

      Geskok en desperaat wil sy by haar man weet: “Niel, wat is aan die gang?”

      “Hou maar jou neus hier uit, Wanya. Jy verstaan daar tog niks van nie.”

      Ontredderd keer sy hom in die gang voor op pad deur toe. “Nee, ek verstaan niks van jou geldsake af nie, maar wat ek wel verstaan, is dat onskuldige mense, mense wat jou vertrou het, hul geld gaan verloor. Mense soos my pa. Hy het óók in jou Rock Trust belê. Die oes waarvan jy gepraat het . . Was dit toe al die tyd die oeste waaraan ánder mense geswoeg het, wat jý toe soos ’n dief gaan afmaak het?”

      Hy staan bleek en gespanne voor haar … en lyk glad nie meer soos die man met wie sy ’n paar jaar gelede getrou het nie. Hy ís ook nie, besef sy toe hy haar ru wegdruk en bars laat hoor: “Man, ek het nie tyd vir jou sedepreke nie. My advokate wag vir my.”

      Maar die hulp van die beste advokate in die land kan nie verhoed dat die dag aanbreek dat Niel Cloete in hegtenis geneem word vir bedrog nie. ’n Bedrag van meer as tweehonderd miljoen rand word genoem … Tweehonderd miljoen rand het skielik tussen neus en ore verdwyn. Die wyses skud hul koppe. Sal die mensdom dan nooit leer nie?

      En skielik, soos met ’n towerslag, verander Wanya se daaglikse roetine so onherkenbaar dat haar verstand dit nie heeltemal verwerk kry nie. Ook Niel Cloete kom skielik in aanraking met dinge wat hy nooit geken het nie, nooit sou glo hy ooit sou ervaar nie. Soos om in sy luukse kantoor gekonfronteer te word deur die lang arm van die gereg. Om voor jou geskokte personeel tussen twee speurders uit te stap, bekendes in die hysbak raak te loop en te besef dat hulle weet wat aan die gebeur is. Om in ’n polisiekantoor soos net nog ’n landsburger behandel te word, beleef maar onpersoonlik. Die óú Niel Cloete het in sy luukse kantoor op die tiende verdieping agtergebly. Hiér is hy net nog ’n burger wat die wet oortree het. Soos die ou voor hom en die een ná hom, moet hy sy hande uitsteek vir die noodsaaklike vingerafdrukke, word hy na ’n sel gelei en die deur sonder seremonie agter hom gegrendel. Om hom sien hy ’n toneel wat hy geglo het sý oë nooit sal aanskou nie – ’n enkelbed met ’n dun sponsmatras en ’n bruin kombers daaroor. ’n Toiletbak van vlekvrye staal in die een hoek, ’n kassie langs die bed … kaal mure … en ’n deur met ’n opening in die middel waardeur oë jou vier-en-twintig uur van die dag kan dophou.

      Hy is geregtig op regshulp, maar daar moet volgens vasgestelde riglyne gehandel word … So bring Niel Cloete sy eerste nag in ’n sel deur en Wanya slaap soos soveel kere tevore alleen in die groot huis in Sandton. Slaap … ? Nee, lê wakker en tel die lang nagure om.

      Weer is dit hoofnuus in die media. Dit is immers hul taak om die publiek op die hoogte te hou. Duisende niksvermoedende mense het hul kosbare geldjies aan Niel Cloete toevertrou.

      Die volgende oggend om halfnege word ’n miljoen rand aan borggeld betaal. Niel Cloete se paspoort word in veilige bewaring geneem. Die saak sal oor ’n maand voorkom; intussen is hy distriksgebonde en moet hy hom daagliks by die polisiekantoor aanmeld.

      Man en vrou se oë ontmoet toe hy die huis binnestap. Op albei se gesigte lê die spore van ’n slapelose, kommervolle nag. Woordeloos, sonder ’n groet, stap hulle in teenoorgestelde rigtings – sy om die kombuis te gaan sê dat daar ontbyt vir meneer gemaak moet word en dat sy self niks wil hê nie; en hy slaapkamer toe om te gaan bad en te probeer om die nag in die sel van hom afgewas te kry.

      Die telefoon

Скачать книгу