Ena Murray Omnibus 40. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 40 - Ena Murray страница 8
“Juis. Maar dit is seker ’n vreeslike gevoel om te dink jy het meer as genoeg en een oggend word jy wakker en kom tot die besef dat jy skaars genoeg het om van te leef. Hou jy maar kop, kind. Spaar maar waar jy kan, maar moet tog nie vrekkerig wees nie. Jy moet altyd iets hê om uit te deel aan dié wat dit nodiger het as jy.”
“Dit laat my dink … Ek wil Pa se elektriese kombers maar vir Nellie gee. Ek is nog jonk genoeg om daarsonder klaar te kom. Die arme Nellie kla so in die winter oor haar been.”
Tant Bes knik, kyk haar goedkeurend aan. “Dit sal vir haar baie beteken, Annatjie. Sy sal baie bly wees.”
Tant Bes kyk haar oudergewoonte agterna toe sy aanstap huis toe. Glimlaggend sê sy by haarself: “Jý is die ryk een, Annatjie, nie mevrou Cloete nie. Jý het die rykdom wat die Cloetes van Sandton nog nooit gesmaak het nie. Jý is die miljoenêr, nie hulle nie.”
Wanya besef in die maande wat volg dat sy beslis nie meer miljoenêrstatus het nie. Die dag breek aan dat Niel Cloete gevonnis word: agt jaar tronkstraf waarvan die helfte opgeskort is vir vyf jaar. Niel se hoofadvokaat verduidelik aan Wanya wat die vonnis behels.
“Dit beteken dat hy vier jaar effektiewe gevangenisstraf moet uitdien.”
“Niel moet vir vier jaar … tronk toe?”
Advokaat Pelzer se oë rus simpatiek op die bleek gesig wat die afgelope tyd duidelik vermaer het. Hy wonder of sy besef die ergste lê nog voor. Hy verduidelik vinnig verder: “Hy is verplig om een derde van die vier jaar te sit. Daarna kan ons aansoek doen om parool. Hy sal dus ’n bietjie langer as sestien maande … e … weg wees. Dit is darem nie só lank nie. Alles sal van Niel self afhang. Hulle sal nie parool weier as hy hom goed gedra nie.”
Haar kop sak. Soos ’n kind in ’n koshuis, dink sy dof. Kan ’n mens sterf van skaamte en skande?
“Het jy al gedink waarheen jy wil gaan?”
Sy kyk hom onbegrypend aan.
Hy voel skielik ongemaklik. Die vrou besef klaarblyklik nog nie ten volle wat haar getref het nie. “Die huis en sy inhoud word verkoop om soveel moontlik te verhaal om die skuldeisers te vergoed. In hierdie stadium bereken ons dit op so twintig sent in die rand.”
“Jy bedoel … álles word verkoop? My huis … alles?”
“Alles, Wanya. Ook jou nuwe motor. Net jou heel persoonlike besittings sal jy kan saamneem waarheen jy ook al gaan. Wat is jou planne?”
Daar is geen planne nie, wil sy sê. Watse planne kan ’n mens hê wat een oggend opstaan en besef hy of sy besit absoluut niks nie? “Ekke … ek sal seker na my ma-hulle toe gaan.”
Hy knik. “Dit sal verstandig wees. Niel sal dan ook meer gerus voel oor jou.” Die kyk in haar oë laat hom nadink. Hy sug innerlik. Ja, dis ’n bietjie laat om nóú oor sy vrou en haar welsyn bekommerd te raak. Hy moes aan haar gedink het toe hy sy slim planne gesit en beraam het. “Daar is ’n bietjie kontant tot jou beskikking. Jy sal nie meer kan leef soos jy daaraan gewoond is nie, Wanya, maar jy sal met goeie berekening kop bo water kan hou. Ek het nog nooit gevra … Het jy opleiding in enige rigting? Jy sal daaraan moet dink om te gaan werk. Nie net vir die inkomste nie, maar ook om jou gedagtes besig te hou terwyl Niel … nie hier is nie.”
“Ek was ’n model toe ek Niel ontmoet het.” Sy kyk vlugtig na die spieël teen die muur agter hom. Haar mond trek wrang. Soos sy nou lyk … Sy bring haar blik terug na syne, trek haar skouers agteroor. “Ek sal regkom, dankie.”
Hy staan op. “Jy het my telefoonnommer. Bel my asseblief as jy dit nodig vind.”
Toe sy terugkom van die voordeur, staan Thomas voor haar. Hy lyk verleë. Hy wil maar net seker maak … gaan madame hom behou of … ? Natuurlik! Haar personeel weet wat aangaan. Soms weet hulle nog voor jou, soos dit ook nou blyk. Advokaat Pelzer het haar maar pas ingelig oor haar finansiële situasie, maar Thomas weet blykbaar reeds dat sy hom nie meer kan bekostig nie.
“Ek is bevrees ek kan jou nie behou nie, Thomas. Maar ek sal jou ’n goeie getuigskrif gee. Jy sal glad nie sukkel om … ”
“Mevrou Oberholzer het my reeds gevra of ek nie na haar toe sal kom nie. Ek het gesê ek sal maar eers by madame moet hoor, dan sal ek haar laat weet.”
Sy behou haar selfbeheersing, knik net. “Jy kan haar maar laat weet sy kan jou kry net wanneer dit haar en jou pas. En Alfred kan ook maar intussen uitkyk … ”
“Hy het reeds werk gekry, madame. Hy begin volgende maand as hoofkelner by die Park Lane Hotel.”
Dis nie ék wat húlle die trekpas gee nie. Dis hulle wat my in die pad steek, dink sy met ’n groeiende histerie in haar. Maar haar kalm, byna doodse stem verraai niks nie. “Dan is dit goed so, Thomas.”
Haar hand huiwer op die telefoon. Sy wil nie, maar sy het geen keuse nie. Sy het nêrens om heen te gaan nie. Dis net by haar ouers waar daar vir haar skuiling is tot tyd en wyl sy uit hierdie chaos weer rigting gekry het.
Maar ook hier het daar onverwags komplikasies ingetree.
“Ek wou jou al gebel het, maar ek was so besig met inpak. Ek … ”
“Inpak?”
“Ja, my kind. Thys het besluit dis beter as ons nader aan hom kom bly. Hy het vir ons plek in ’n tehuis vir bejaardes in die Kaap gekry.”
“ ’n Tehuis vir bejaardes?” Dis nie moontlik nie! Haar pa sal liewer sterf voordat hy na ’n oumensplek gaan! “Maar hoekom, Ma? Julle het nog altyd gesê julle bly in jul huis totdat julle die dag doodgaan.”
Haar ma is vaag met die verduideliking, en skielik dring dit tot haar deur wat werklik aan die gang is. Haar pa se belegging in Rock Trust het veroorsaak dat hy sy huis moes verkoop! Haar broer moet nou vir hulle sorg, vir hulle ’n dak oor die kop soek. Watter bitter pil moet dit nie vir hulle wees nie, vir hierdie twee mense wat nog altyd so trots was op hul onafhanklikheid! En dis hul eie skoonseun wat hulle dit aangedoen het … vir hulle en duisende ander soos hulle. Vir hulle is daar darem nog ’n seun wat kan omsien. Vir hoeveel is daar niemand nie? Haar stem wurg in haar keel.
“Ek weet nie of ek sal kan kom groet nie, Ma. Ek is self baie besig op die oomblik. Moet ook inpak … ” Sy kan nie vir haar ma sê sy sit van môre af sonder ’n motor nie! Op haar ma se vraag antwoord sy sommer blindelings: “Ek kry ’n woonstel. Ek gaan nie alleen in hierdie groot huis bly nie.” Sy kan haar mos nie vertel sy sit van môre af op straat nie! “Nee, Ma, alles is reg. Moet asseblief nie oor my bekommerd wees nie. Ek kan nie nou hier weg nie. Daar is Niel … Ek moet hom besoek … ” Ja, sy sal haar man seker soms in die tronk kan besoek … moet besoek.
Haar ma beaam haar gedagtes: “Dis nou die tyd dat jy by jou man moet staan, Wanya. Jy is reg. Jy kan nie nou daar weg nie. Maar sodra jy kan, kom kuier vir ons. Thys … ”
Sy hoor die aarseling in haar ma se stem, weet sonder dat sy ingelig word. Haar broer is woedend. Die feit dat sy nog niks van hom gehoor het nie, het haar dit reeds vertel. Hy is bitter teenoor Niel … soos so baie ander mense … en hoe durf sy hom verkwalik?
Heer, waar dan heen? wonder sy vaag en stom toe sy van die telefoon af wegdraai. Van Niel se familie is daar geen hulp te wagte nie. Sy ouers is reeds dood, en hy het die afgelope jare,