Tiferet Yisra'el. Die roem van Israel. Marzanne Leroux-Van der Boon
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Tiferet Yisra'el. Die roem van Israel - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 3
“Dis reg, liefling. Jy moet dit nooit vergeet nie.”
Yhoshi knik heftig. “Wat het Saba vir my gebring?”
Chaim glimlag. “Kom ons kyk wat het ek voor die deur laat staan.”
Yhoshi gryp sy hand en rem hom in die rigting van die voordeur. Oomblikke later hoor Rivkah die kind se opgewonde kreet. Die twee kom terug met ’n helderkleurige vlieër wat Chaim dra. Yhoshi trippel opgewonde om hom.
“Kan ons hom nou laat vlieg, Saba?”
“Daar’s ongelukkig nie nou wind nie, Yhoshi. Ons moet wag vir wind, dan gaan ons dit hier onder op die plein laat vlieg. Maar ek dink dit gaan nou eers sneeu.”
“Wéér?” vra die kind teleurgesteld. Hy stryk met eerbiedige vingertjies oor die vlieër se gloeiende blou en wit kleure, dié van Israel se vlag.
“Ja, jong, ek ruik dit in die lug,” sê sy oupa. “Binne ’n uur sneeu dit.”
“Dis koud genoeg.” Rivkah bring die varsgemaakte koffie na haar pa wat sy hande koulik om die warm koppie vou.
“Kan ons hom nou laat vlieg?” vra Yhoshi ’n paar minute later, terwyl hy steeds liefkosend oor die sagte sy van die vlieër streel.
“Nog nie, lief. Maar as die weer beter word en die wind goed waai, gaan ons hom hoog laat vlieg, Yehoshua, dit belowe ek jou.”
“Kan hy tot by HaShem vlieg?” vra die kind grootoog en bring twee vingertjies teen sy lippe.
“Tot voor sy aangesig, geseënd is Hy.” Chaim gaan sit, tel die seuntjie op sy skoot en druk sy krulkoppie teen hom vas. “Kom ek vertel jou wat het my daaraan laat dink om vandag vir jou ’n vlieër te koop.”
Yhoshi vly sy kop ingenome teen die ouer man aan. “Is dit ’n storie?” vra hy.
“Dis ’n wáár storie. Onthou jy dat ek jou vertel het van daardie mense in die ander land wat so baie van ons Joodse mense doodgemaak het?”
“Die mense met die swart kruishaak?”
’n Droewige laggie raak aan die rabbi se mond. “Hakekruis. Dis reg. In die tyd van daardie mense, het daar in die groot stad Warskou ’n man gewoon wat ook vir vlieërs lief was, en vir kinders. Sy naam was Janusz Korczak.”
“Was hy ’n goeie man?” vra die kind angstig.
Chaim stryk gerusstellend oor sy kleinseun se neusie. “Ja, hy was ’n baie goeie man, Yhosh. Hy was ’n kinderdokter en hy het boeke vir kinders geskryf, en in Warskou het hy ’n huis spesiaal vir weeskindertjies gebou …”
“Dis kindertjies wat nie mammas en pappas het nie,” val Yhoshi hom in die rede.
Chaim kyk verbaas in die groot donkerblou oë. “Hoe weet jy dit?”
“Abba sê so.”
Chaim frons vraend en kyk na Rivkah wat net haar kop skud.
“Wat het die haakkruis-mense met Janusz gedoen, Saba?”
Die rabbi sug. “Hulle het op ’n dag na hom toe gekom en gesê hy moet vir hulle wys watter kindertjies in die weeshuis Joodse kinders is …”
“Hoekom wou hulle dit geweet het, Saba?”
Chaim en Rivkah kyk na mekaar en sy trek haar skouers op, skud haar kop.
“Hulle wou die kindertjies wegneem …”
“Om hulle dood te maak?”
Chaim kan nie wegkyk voor die kind se oë nie. “Dis reg,” sê hy sag.
“Wat het Janusz toe gedoen?”
“Hy kon niks teen daardie slegte mense doen nie. Maar toe hulle vir hom sê hý hoef nie saam met die kinders weg te gaan nie, hy kan vry kom, het hy nee gesê, hy gaan saam met hulle sodat hulle nie bang sal wees nie.”
“Daardie slegte kruishaak-mense het mos die Jode geslaan en gevloek, nè, Saba? Het hulle dit met die kindertjies ook gedoen?”
Chaim vryf sy kleinseun se skouertjies. “Hulle het, Yhoshi. Maar omdat Janusz saam met die kindertjies gegaan het, was hulle nie bang nie en hulle het stil saam met hom na die plek geloop waar hulle op die trein moes klim.”
“Het Janusz teruggekom?”
“Nee, Yhoshi, hy het nie.”
“En die kindertjies?”
“Hulle ook nie.”
“Die haakkruise het hulle almal doodgemaak.”
“Dis reg, my lief.”
Yhoshi sê niks, maar hy druk sy beertjie styf vas.
“Maar, Abba, vertel nou vir hom hoekom die vlieër jou aan Janusz se storie laat dink het,” sê Rivkah na ’n rukkie sag.
“O ja, natuurlik. Yhosh, ek het jou van Janusz vertel omdat hy die man was wat altyd gesê het daar’s min dinge wat vir ’n kind, en vir grootmense, so mooi is soos om ’n vlieër te laat vlieg. Toe ek vandag langs die pad ’n man sien wat in Jaffastraat vlieërs verkoop, het ek weer aan Janusz gedink, en toe koop ek vir jou die mooiste een.”
“Todah rabah, Saba. Het Janusz met sy weeskinders vlieërs laat vlieg?” vra Yhoshi.
Die rabbi soen een klein handjie. “Ek is seker hy het, my skat.”
“Dit sneeu weer,” sê Rivkah wat deur die venster staan en uitkyk – bly vir iets om te sê wat die somber atmosfeer kan verbreek.
“Wil jy op die plein na die sneeu gaan kyk, Yhoshi?” vra sy oupa.
Hy knik dadelik.
“Neem jy hom dan, Abba, ek bly hier by Natan. Imma en Marc sal ook nou-nou kom. Yhosh,” wend sy haar tot haar oudste, “gaan haal jou sneeujekker en jou stewels in jou kamer.”
Toe hy uit is, sê sy gedemp vir haar pa: “Ek verstom my oor die kind se vermoë om al die dinge wat ons met en voor hom praat in te neem en te onthou. Ek meen … ’n mens kan byna nie glo wat hy alles onthou van die Tora en die dinge wat Marc hom so speels leer nie!”
“Rivkah,” die rabbi stryk oor sy baard. “Jy het blykbaar nog nie die verduideliking daarvan gehoor nie. Die storie van babas en die Tora?”
“Bábas en die Tora?”
Hy glimlag. “Ja! Die tradisie vertel dit so: Voor ’n kind se geboorte word hy met kennis van die volle Tora gevoed. Maar by die geboorte lê ’n engel sy vinger hier op die bolippie waar die duikie is.” Hy druk met sy vinger op sy eie lip. “En hulle vergeet dit. Dan is dit die plig van die ouers – veral van die pa – om, soos in D’varim geskryf staan, die Tora dag na dag vir hulle te leer. So word daar dan lagie vir lagie van die vergeet afgeskil totdat die volheid van wat hulle voor geboorte al geleer het, uiteindelik