Tiferet Yisra'el. Die roem van Israel. Marzanne Leroux-Van der Boon

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Tiferet Yisra'el. Die roem van Israel - Marzanne Leroux-Van der Boon страница 7

Tiferet Yisra'el. Die roem van Israel - Marzanne Leroux-Van der Boon

Скачать книгу

In werklikheid lewe ons nie vanuit die positiewe aspekte van lewe nie, maar net om van die dood af weg te hardloop. Maar ons weet daar is ’n plek waar die lewe werklik positief is en dat dít is waarheen ons op pad is.”

      Ná die onderhoud met die rabbi word daar in ’n volgende besprekingsprogram weer eens op die Donderdagaand se verskriklike gebeure teruggekyk. Die programleier verduidelik dat die aanvaller skynbaar die dood van die aartsterroris Mughniyeh, wat in Februarie in Damaskus doodgeskiet is, wou wreek. ’n Berig van Hisbollah se televisiestasie, Al-Manar, word aangehaal, waarvolgens ’n groep wat hulself “die Galilese Vryheidsbataljon – die Martelare van Imad Mughniyeh” noem, verantwoordelikheid aanvaar vir die jong aanvaller se daad. Hul leuse het al ’n bekende Moslemslagspreuk geword: “Ons sal wen omdat, terwyl julle die lewe liefhet, ons die dood liefhet.”

      “Daar kan seker nie sprekender kommentaar as dít wees op die verskil tussen Islam en Judaïsme nie,” sug Marc tussen die gepraat deur.

      Rivkah skud net haar kop in sprakelose ellende.

      Die ankerman verstrek ook nuwe inligting wat aan die lig gekom het. Toe die twintigjarige aanvaller, Alaa Abu Dhein, die Donderdagaand kwart voor nege met ’n groot TV-boks in sy arms by die yeshiva opdaag, het van die studente net grappenderwys gevra wat hy met ’n televisie by die yeshiva kom maak, maar niks vermoed nie en hom ook nie toegang geweier nie. Dis uit dié houer dat hy die outomatiese wapen gehaal en die biblioteek binnegegaan het waar tagtig studente aan die studeer was terwyl hulle gewag het om die begin van die Adar te vier.

      Toe die aanvaller op dié studente losbrand, het pandemonium losgebars. Terwyl hy rondte op rondte in die biblioteek afgevuur het, het skreeuende studente in alle rigtings gespat. Party het deur die vensters gespring om aan die dodelike koeëls te ontkom. Party het op die vloer geval en net daar bly lê terwyl hulle nog hul teksboeke en gebedsjaals vasgeklou het.

      Later kom Yehuda Meshi-Zahav, hoof van ZAKA, in beeld. Met afgewende oë en ’n byna onhoorbare stem vertel hy wat hy waargeneem het toe hy ná die aanval die biblioteek binnegegaan het: “Die hele gebou het soos ’n slagveld gelyk. Die vloer was besmeer met bloed … Omdat die studente besig was om te studeer toe die aanval plaasgevind het, het daar oral in die saal ook bebloede heilige boeke en talliyot verstrooi gelê.”

      Verskeie ander mense word ook by die program betrek. Een van hulle is rav Lazer Brody wat die verhaal vertel van die Etiopiese student Doron Mahareta (26), een van die agt wat in Mercaz HaRav gesterf het.

      “Gisteraand was ek op shiva-besoek by Doron se gesin,” vertel hy, duidelik ontroer. “Daar was Jode van elke soort bymekaar, van Etiopiese tot Poolse Chassidim. Mans het enigiets van veelkleurige gebreide tot wit Yerushalmi-kippot gedra; van jeans en sandale tot lang swart gewade. Jammer dat dit vir ’n martelaar van Doron se statuur nodig was om geloofsgenote só te verenig. Een van die rabbi’s van Mercaz HaRav het vir my ’n feitlik ongelooflike storie vertel – van Doron Mahareta se toegewydheid om die Tora te leer. Dis ’n storie wat meeding met die Talmoed se verhaal van Hillel wat byna doodgevries het op die dak van Shmaya se yeshiva soos ons in die Yoma-traktaat 35b lees.

      “Die rabbi het vertel dat Doron graag die Tora aan die Mercaz HaRav wou studeer omdat dit een van die beste yeshivot in Israel is. Maar omdat hy in Etiopië ’n redelik gebrekkige vroeë skoolopleiding ontvang het, het hy ’n goeie Talmoedagtergrond kortgekom. Dit het hom egter nie ontmoedig nie. ‘As julle my dan nie die Tora wil laat leer nie, sal julle my die skottelgoed in die kombuis laat was?’ het Doron aan die yeshiva-leiers gevra. Hulle het ingestem en ’n jaar en ’n half lank het hy daar in die kombuis gewerk. Maar elke vrye oomblik het hy in die studiesaal deurgebring. Hy het altyd rondgevra waarmee die yeshiva-studente besig was, en dan het hy die meeste van die tyd snags en op Shabbat met sy kop in die Gemara gesit om te leer wat hulle geleer het.

      “Op ’n dag vra dié ‘skottelgoedwasser’ toe vir die rosh yeshiva om hom te toets. Dié man het hoflik geglimlag en probeer om op ’n mooi manier van hom ontslae te raak, maar Doron het geweier om pad te gee en die yeshiva-hoof feitlik in ’n Torabespreking ingedwing. Nou ja, die volgende dag was hy nie meer ’n skottelgoedwasser nie, maar ’n volwaardige yeshiva-student.

      “Wanneer hy oor naweke huis toe gegaan het na sy familie in Ashdod, het hy ook die ganse Shabbat óf in die Melitzer-shul óf in die naburige Gerrer-shtiebel deurgebring, waar hy die Halachah en die hoofkommentare bestudeer het. Drie weke gelede het hy toe dié studies suksesvol voltooi. Doron het in sy tere ses en twintig jaar bereik waarby ander nie in agt en tagtig jaar uit kon kom nie.”

      Dan kyk rav Lazer reg in die kamera en sê: “As u volgende keer u Talmoed toemaak om TV te kyk, dink aan Doron. Die volgende keer dat u seun nie sy Tora-huiswerk wil doen nie, vertel hom van die prys wat ’n Tzaddik soos Hillel en Doron Mahareta betaal het vir kennis van die Tora …”

      Die TV-program kom tot ’n einde met Hillel Fendel wat vertel hoe hy die Vrydagoggend ná die vorige aand se aanval in ’n bus verby die yeshiva waar die aanval was, gery het.

      “Elke môre haal ek bus no.35 werk toe. Dis ’n klein entjie en gewoonlik neem die rit nie langer as twaalf minute nie. Die derde halte nadat ek by die Machane Yehuda-shuk opklim, is direk voor die yeshiva Mercaz HaRav. Ek het ongemaklik gevoel, ek was nie seker wat ek sou sien as ons daar verbyry nie. Toe ek rondkyk, sien ek doodsberigte wat oral langs die straat opgeplak is, en die hele ingang na die yeshiva was vol blomme. Toe ons by dié bushalte kom, het die bestuurder stilgehou, die bus afgeskakel en uit sy plek agter die stuurwiel opgestaan. Daar was trane in sy oë toe hy vir ons passasiers vertel dat een van die seuns wat daar doodgeskiet is, ’n broerskind van hom was. Hy het gevra of ons sal omgee as hy ’n paar woorde sê oor sy nefie en die ander seuns wat daar gesterf het. Toe hy koppe oral in die bus sien knik, het hy in ’n trotse stem vertel dat sy nefie ’n jong seun was wat altyd op die uitkyk was vir waar hy iemand in nood kon help. Hy was lief om te leer en het ure aan die ingewikkeldhede van die Gemara bestee. Hy was opgewonde oor die feit dat hy oor ’n paar jaar by die IDF sou aansluit, en wou uiteindelik betrokke raak by opleiding vir minderbevoorregtes.

      “Terwyl hy praat,” vertel die ooggetuie Fendal verder, “het ek gemerk dat die bejaarde vrou langs my in die bus huil. Toe ek my sakdoek vir haar aanbied, het sy vertel dat sy ook iemand wat sy geken het in die bloedbad verloor het. Haar bure se seun was een van die jongmense wat daar vermoor is. Terwyl sy my hand styf vashou, het sy opgestaan en gevra of sy ook ’n paar woorde ter herinnering aan haar buurseun kon sê. Sy het hom beskryf as ’n jong man wat bruisend van lewenslus was. Elke Vrydag het hy vir haar kom kuier met ’n bos blomme vir Shabbat en ’n gedagte uit die Tora wat hy gedurende die week by die yeshiva geleer het. Hierdie Shabbat was daar nie blomme in haar huis nie.”

      ’n Ruk nadat Marc die TV-stel afgeskakel het, sit hulle stil daar. Eindelik draai Rivkah haar na Marc en hy neem haar in sy arms. Toe huil sy vir die eerste keer, lank en sidderend.

      Drie

      Jerusalem

      Maart 2008

      Voordat Adar, die vreugdemaand, tot ’n einde kom, is dit duidelik dat die Joodse staatjie nog nie die einde van terroristedade gesien het nie. Dit lyk eerder vir Israeli’s asof die gebeure van die afgelope paar jaar en maande dié Arabiere wie se uitsluitlike doel dit is om die Jode uit te dryf en die hele streek vir Islam terug te wen, grootliks aangespoor het.

      Dit blyk egter dat dit nie net Arabiere is wat hulle tot terrorisme wend nie. Skaars twee weke ná die Mercaz HaRav-tragedie, is daar ’n geweldige ontploffing in die huis van ’n Messiaanse pastor, David Ortiz, in Ari’el. Sy vyftienjarige seun, Ami, word ernstig verwond. Soos die ondersoek vorder, raak die polisie oortuig daarvan dat die verskriklike daad nie, soos aanvanklik vermoed is, deur Palestynse terroriste gepleeg

Скачать книгу