Fluisterliefde. Ettie Bierman
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Fluisterliefde - Ettie Bierman страница 5
“Sy van is Naudé. Christian Gerhardus Naudé.”
Haar binnegoed trek op ’n knop. Beamari se hoop is verpletter.
“Is dit hy wat u soek?” vra die medic.
“Ek is sy ... sy vrou.” Sy moet eers sluk. “Was daar ’n motorongeluk? Is hy beseer?”
“Ja, mevrou, ek is jammer.”
“Hoe ernstig?”
’n Oomblik is daar stilte. “Dit spyt my, ek is nie ’n dokter nie, ek kan nie diagnoses maak nie.”
“Maar hoe lyk hy? Bloei hy? Kopbeserings?”
“In hierdie stadium is dit moeilik om te sê, mevrou.”
“Kan ek met hom praat?”
“Nie op die oomblik nie, nee.”
Standaard-antwoorde wat nooddiensbeamptes geleer word vir wanneer hulle met lede van die publiek te doen kry. Dis al wat hy vir haar sal sê, sy weet dit.
“Na watter hospitaal neem julle hom?”
“Die Nuwehoop-kliniek, op die hoek van Hibiskus-boulevard en –”
“Ek weet waar dit is,” val sy hom in die rede. “Ek kom!”
Sy spring halsoorkop op en gryp haar handsak en sleutels. Dan onthou sy van Stian wat in ’n hoekie van die bank sit – hy het die gesprek gehoor en kyk met groot oë na haar. Sy skakel die TV af, tel hom op haar heup en haas haar kombuis toe terwyl sy na Giftness roep.
“Pappa het ’n eina, ek moet gaan kyk of ek dit beter kan maak,” verduidelik sy tussendeur. “Giftness! Waar’s jy?” Giftness kom verbaas ingestap en Beamari prop Stian in haar arms. “Asseblief, pas vir Stian op, ek moet hospitaal toe, Krisjan was in ’n ongeluk. Ek sal laat weet, ek sal bel. Kyk mooi na hom.”
In die hardloop motorhuis toe glip sy sandale aan wat in die kombuis rondgelê het. Gelukkig is die bakkie se tenk vol. Gelukkig is dit Saterdag en die pad behoort taamlik stil te wees.
Die ongeluk was ernstig, sy voel dit aan. Sy weet dit. Die medic het gepraat van ’n “wrak” en die sirene wat sy gehoor het, beteken hulle jaag volspoed, met flitsende noodligte. Krisjan kry suurstof en hulle probeer hom stabiliseer. Dalk is hy in ’n koma, daarom dat hy nie met haar kon praat nie ... Nee, sy moet kalmeer en daarop konsentreer om nie nóg ’n ongeluk te maak nie. Beamari lig haar voet effens van die petrolpedaal af en haal ’n paar keer diep asem. Dan bel sy haar pa in die ry.
“Bea!” groet hy verras. “Gaaf om jou stem te hoor. Ek dink nou net aan julle terwyl ons rugby gekyk het. Waar’s Krisjan dat hy nie gespeel het nie?”
“Hy’s beseer, Pa.”
“Steeds die enkel? Moet die terapeut nie –”
“Nee, in ’n motorongeluk, Pa,” onderbreek sy hom en vertel kortliks – wat sy weet en vermoed, wat sy nie verstaan nie.
“Ek verstaan ook nie hoekom Krisjan deur Pinetown sou gery het nie. Dis ’n groot draai,” stem hy saam. “My kind, stabiliseer beteken nie noodwendig die ergste nie. Dit kan ’n nekstut wees wat die medic vir Krisjan aangesit het, of ’n gebreekte been wat gespalk moes word. Krisjan ly waarskynlik aan skok, dis reg dat die medic hom nie laat praat het nie. Lui af en konsentreer op die pad. Is jy alleen in die bakkie? Sal jy die hospitaal kry?”
“Ja. Stian was daar vir sy mangels.”
“Hou kop en ry versigtig. Ek sal die hospitaal bel en jou laat weet as ek iets kon uitvind.”
“Dankie, Pa.”
“Het jy iemand wat jy kan bel, Bea? ’n Vriendin om jou by te staan?”
Sy knik, onthou dan haar pa kan haar nie sien nie. “Ja.”
“Sterkte, my kind, jy sal hier deurkom. Moed hou! Ons praat nou-nou weer.”
Sy bel vir Keira. Om te vra sy moet vir Zac laat weet. En vir Coach. En hulle sal nie vanaand kan kom braai nie ...
Keira bly kalm. “Moet jou nie oor ’n simpel braai bekommer nie, dis die minste! Ek prop die vleis en slaai in die yskas. Dalk vir môre, al loop Krisjan met gips en twee krukke – dis ook nie die ergste nie. Is daar iets wat ek kan doen? Waar’s Stian? Kan ek hom gaan haal en hiernatoe bring?”
’n Motor toet agter haar en Beamari besef sy is naby die Durban-afrit, sy het albei hande op die stuurwiel nodig. “Dankie, jy’s dierbaar, maar dis nie nodig nie. Giftness pas hom op. Ek’s nou naby die hospitaal. Sal jou bel as ek Krisjan gesien het.”
Hibiskus-boulevard loop al langs die strand, ’n bedrywige vierbaanpad met hotelle, toringblokke met tyddeelwoonstelle en welige bottelpalms weerskante. Genadiglik is daar ’n parkeerterrein reg langs die hospitaal. Sy trek die gehawende bakkie tussen twee luukse viertrekvoertuie in en kyk rond vir die ongevalle-ingang. Vir die eerste keer is sy bewus van haar uitgerafelde kortbroek en stowwerige T-hemp. Maar dit maak nie saak nie. Niemand gee om hoe sy lyk nie. Sy ook nie.
Voor by die swaaideure staan ’n ambulans, nog met flitsende blou ligte en die agterdeure oop. Krisjan? wonder sy. Beamari kan nie daaraan dink nie. Haar verstand is afgestomp. Makliker is om uit te klim, haar handsak te gryp en die inligtingtoonbank te vind.
“Naudé? Pas opgeneem?” herhaal die middeljarige suster en raadpleeg ’n lêer voor haar op die kliniese wit melamienblad. “Ja, ’n meneer Christian Naudé is ingebring. Twintig minute gelede, motorongeluk, naasbestaandes op Pinetown.” Sy kyk op oor haar bifokale lense. “Is u familie? Slegs naasbestaandes word by hom toegelaat.”
“Ek is sy vrou,” antwoord Beamari met stywe lippe.
“Vrou?” Die suster frons en kyk na Beamari asof sy haar nie glo nie. “Maar ek dag dan –” Sy skud haar kop. “Nee, toemaar ...”
“Christian Naudé se vrou,” herhaal Beamari. “Kan ek hom sien?”
“Gaan hoor by trauma of dalk by intensiewe sorg. Om daai hoek, af in die gang.”
Beamari stap met lang treë in die blinkgepoleerde gang af, al is haar knieë bewerig en voel haar keel soos ’n droë stuk kurk. Sy kom tot stilstand by ’n diensstasie, by nog ’n melamientoonbank.
“Meneer Naudé?” herhaal die suster, jonger en vriendeliker as die vorige een. “Hy is geskuif pas nadat hy ingebring is. Na die meer ... private saal langsaan.” Sy tik simpatiek teen Beamari se hand wat krampagtig om die rand van die toonbank span.
Beamari lek oor haar droë lippe. “Ek verstaan nie ... Is hy nie in intensiewe sorg nie?”
Die suster se oë is sag. “Nee, hy is nie hier nie.”
“Mag ek hom sien?”
“Is u naaste familie?”
“Ja.”