Die dae van ons nietigheid. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die dae van ons nietigheid - Ena Murray страница 5
Al wat hy weet, en waarvan hy oortuig is toe hulle die einde van hul hospitaaljaar nader, is dat Lizl nie meer veel respek vir hom as medikus kan oorhê nie. Sy het hom darem te veel keer verkeerd bewys. Hoe meer hy haar vertroue in haarself herstel het, hoe meer moes hy haar respek vir hom inboet. Maar daar was niks wat hy daaraan kon doen nie. As sy moet agterkom dat hy eintlik ’n rol aan die speel was – al het hy dit ook met die beste bedoelinge en uit liefde gedoen – sal sy hom nooit vergewe nie.
Sy word byna hierop betrap teen die einde van die jaar. Daar het ’n uiters moeilike geval ingekom. Willem en Lizl is toevallig albei aan diens en, soos altyd, moes hy haar tweede opinie wees.
Hy stem met haar bevinding saam, maar soos dit nou gewoonte geword het, verskil hy eers van haar. Hierdie keer is dit eintlik maklik, want die simptome is verwarrend. Lizl hou egter voet by stuk en uiteindelik moet Willem maar weer saamstem. Die volgende dag loop sy ’n senior dokter raak. “Meer ervare dokters sou maklik met hierdie geval ’n verkeerde diagnose kon maak, dokter Lizl. Knap gedaan. Baie geluk.”
Sy aarsel net ’n oomblik. “Die eer kom eintlik dokter Willem toe, dokter. Dit was sy diagnose.”
“O? Nietemin. Dra my gelukwensing dan aan hom oor.” Die gryskopman kyk haar goedig aan. “Dit gaan vir die raad baie moeilik wees om te besluit aan wie hulle die pos moet aanbied.”
Sy lewer liefs geen kommentaar nie. Dis ook iets wat ’n bron van geheime kommer geword het: die vakature wat ontstaan het vir ’n senior hospitaaldokter. Almal het reeds geweet daar is net twee kandidate. Normaalweg word so ’n pos nie aan sulke junior dokters gegee nie, maar albei jong dokters het hulle in die loop van die jaar deur en deur bewys. Een van hierdie twee gaan beslis die belangrike pos aangebied word.
Natuurlik sal dit ’n baie groot eer wees vir die een wat dit kry. Maar hoekom moet die keuse nou juis weer tussen haar en Willem lê? Kry sý die pos, gaan dit Willem vir ewig van haar verwyder. Geen man se ego sal dit seker kan sluk nie. Hy sal haar junior wees, ondergeskik aan haar. Selfs nie sy liefde sal so iets maklik kan verwerk nie. Nie dat sy meer so seker is dat daar nog ’n tikkie van die ou gevoel vir haar in hom oorgebly het nie. Gedurende hierdie hele jaar het hy nie een keer die geringste teken getoon dat hy hul verhouding wil hervat nie. Hy was nie eens een keer in haar woonstel nie! Buite die hospitaal het hy onwrikbaar ’n aparte lewe van haar bly voer.
En tog … tog het sy die gevoel dat hy nog omgee. Miskien is dit maar wensdenkery aan haar kant, omdat sy hom nog liefhet, dink Lizl mismoedig.
Aan die ander kant is sy menslik genoeg om te erken dat dit vir haar baie sal beteken as sy die gelukkige een is. Die vrou in haar hoop Willem kry dit, maar as dokter weet sy dat sy dit sekerlik verdien. Sy het baie hard gewerk. Soos altyd het sy net haar uiterste bes gelewer. Juis omdat sy geen noemenswaardige privaat lewe gehad het nie, het sy haar volkome aan haar werk gewy. Agter haar rug het die verpleegsters en van haar kollegas haar ou Ysberg genoem – min wetende dat dit vir Lizl geen geheim was nie.
Sy verstaan hoekom die verpleegsters haar so gedoop het. Sy weet sy is soms ’n bietjie streng met hulle, maar sy kan nalatigheid en laksheid net nie verdra nie. Toe sy eendag weer ’n juniortjie kwaai geroskam het, was dit Willem wat, toe die verpleegstertjie in trane padgee, met ’n droë stem en verwytende oë agter haar gekners het: “Ons is nie almal genieë nie, dokter. Jy moet dit soms onthou.”
Sy het hom met kwaai blou oë aangegluur. “Daardie woord is in hoofletters op jou brein gegraveer!”
“En perfeksionisme op joune.”
Teësinnig het sy ook wel verstaan hoekom haar kollegas so geredelik by hierdie benaming ingeval het. Sommige het hul bes gedoen om haar in hul sosiale kring ingetrek te kry, maar sonder sukses. Lizl Landman het nie in ’n sosiale lewe belanggestel nie. Wat hulle nie geweet het nie – en sy het haar ook nie probeer verdedig nie – is dat sy niks daarteen het dat ’n dokter ook soms ontspan en net ’n mens mag wees nie. Maar elke keer wanneer sy êrens heen genooi is, was sy bang sy sou Willem ook daar raakloop en dit nog saam met ’n ander meisie. Sy het nie daarvoor kans gesien nie. Dit sou net seermaak. En as Willem nie daar sou wees nie, sou daar vir haar tog geen glans aan die aand wees nie. Dus … Wanneer sy van diens af was, het sy haar teruggetrek in haar woonstelletjie en haar besig gehou met mediese leesstof en bepeinsing oor die dag se gevalle of die volgende dag se werk. Sy weet Willem het nie ’n kluisenaarsbestaan soos sy gevoer nie, maar het liewer nie probeer vasstel hoe hy sy vrye tyd verwyl nie. Liewer nie … Dis ’n geheime vrees in haar dat hy eendag iemand sal raakloop met wie hy kans sien om die pad te loop; iemand met wie hy nie in gedurige kompetisie gewikkel is nie; iemand wat hom nie minderwaardig laat voel nie.
Dat daardie dag nog nie aangebreek het nie, kom Lizl ’n week later agter.
Sy is verstom toe sy haar woonsteldeur oopmaak en dis Willem wat voor haar staan. Wat op aarde sou hom vanaand die eerste keer na haar woonstel gebring het?
Willem kyk op haar af – in een opsig was hy haar darem nog altyd voor: hy is ’n hele kop langer as sy! – en sy hartspiere trek weer saam. Die eerste keer in ’n lang tyd sien hy haar sonder doktersjas. Wat ’n pragtige vrou! En wat ’n vermorsing, voeg hy by.
Hy kan die verbasing in haar oë lees en hy kan haar nie verkwalik nie. Is hy dwaas om vanaand hier te staan? vra hy homself af. Is hy soos ’n donkie wat hom elke keer teen dieselfde klip te pletter loop? Maar ná sy gespek met dokter Luddick vanoggend het die ou drome weer tekens van herlewing begin toon, al sterker geword in die loop van die dag totdat sy voete hom vanaand na haar woonsteldeur gedra het ten spyte van sy gesonde verstand se waarskuwings.
Toe dokter Luddick hom ontbied, het hy geweet dit kan net in verband met die vakante pos wees. Hy het hom gelate by sy senior se kantoor aangemeld. Hy het selfs geglimlag, hoewel ietwat grimmig. Natuurlik sal dokter Luddick hom nou sê dat dokter Lizl Landman eerste keuse was, maar dat hy darem ook ’n baie sterk kans gehad het. Trouens, hy en Lizl het kop aan kop geloop, maar op die end het die keuse tog op haar geval. Hy was net ’n kort kop agter haar … soos gewoonlik. Maar dat hy hoop – dis nou dokter Luddick – dat hy, Willem Claassen, volgende jaar sal aanbly.
Maar dis glad nie wat gebeur het nie. Dokter Luddick het met uitgestrekte hand nader geloop en hom gelukgewens. Hy kon sy ore nie glo nie.
“Ekskuus?”
Die ouer man het geglimlag. “Jy het die pos gekry, Willem. Nogmaals geluk.”
“Lizl … dokter Landman?”
“Ja, natuurlik is sy in ag geneem. Sy is ’n uiters bekwame dokter, soos jy self weet … ”
“Bekwamer as ek.” Waarom sou hy nou so iets sê? Hy vertel dan sowaar vir dokter Luddick in soveel woorde dat hy die verkeerde keuse gedoen het. Wat gaan aan met hom? Die verterende gedagtes het bly maal. Maar in sy hart het hy geweet: dis die ou minderwaardigheidsgevoel wat hom so laat optree. Hy het al so gewoond geraak daaraan dat Lizl eerste is, dat hy, noudat sy tweede is, haar in die eerste posisie wil skuif! Genugtig!
“Hoe meet ’n mens bekwaamheid? Hoe weet ’n mens die een man is bekwamer as die ander? Nee, ek dink nie dit was ’n geval van verskil in bekwaamheid wat die deurslag gegee het nie. Trouens, jou diagnose