Die dae van ons nietigheid. Ena Murray
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die dae van ons nietigheid - Ena Murray страница 6
“Ja?” Sy verstand het alles wat hy so pas gehoor het, probeer verwerk. Lizl het die mense vertel dit was sý diagnose! Hoekom? Hy het wel met haar saamgestem; maar hy het haar soos talle kere tevore eers teengestaan. Nou gee sy voor dit was net sý diagnose.
“Ja. Lizl is ’n pragtige vrou, en nie een van die raad is blind nie, al is ons hare al taamlik grys en yl!” het dokter Luddick geskerts. “Op ’n dag gaan sy wel trou, sy is ’n normale vrou ook, wil kinders hê. Die gewone ding, jy weet? Uit hierdie pos kan ’n man tot bo vorder, en daarom het ons besluit dat ons liewer die pos vir ’n man wil gee. Maar, asseblief, dít vertel jy Lizl nie!”
“Ek het dus die pos gekry omdat ek ’n man is?” het hy verslae gesê-vra, maar dokter Luddick het sy kop geskud.
“O nee, my jong kollega. As daar enigsins ’n keuse van bekwaamheid tussen julle twee was en Lizl was onomwonde as die bekwaamste aangewys, sou sy die pos gekry het, dit verseker ek jou. Maar aangesien daar volgens ons geen sprake van so iets is nie, het jou geslag die deurslag gegee. Dis al.”
Willem was eers stil, het toe nog half verdwaas gesê: “Dankie, dokter. Sal u … sal u my asseblief kans gee om die saak te oordink? Ek sal u môre my finale antwoord gee.”
“Soos jy wil, my jong vriend. Net dít, Willem, daar is min jong dokters wat so ’n wegspringkans gegun word.”
“Dit besef ek terdeë, dokter. Dankie. Dis ’n groot eer. Maar ek sal u môre laat weet of ek dit aanvaar of nie.”
En nou staan hy voor Lizl en wonder of hy nie die grootste flater van sy lewe gaan maak nie. Maar sy het hom reeds binnegenooi en hy is al oor die drumpel. “Dankie.”
“Sit gerus.”
“Dankie.” Hy gaan sit, kyk om hom rond. Haar woonstel toon duidelik dat daar tog darem ’n verskil tussen ’n man en ’n vrou is, al ewenaar hul verstand en vermoëns mekaar. Die woonstel lyk warm en huislik, nie soos syne waar die goed maar net funksioneel neergeplak is om daar te wees nie. “Jou plek lyk goed.”
“Dankie.” Sy probeer haar nuuskierigheid wegsteek. Willem het beslis nie vanaand hierheen gekom om haar met haar woonstel te komplimenteer nie.
“Sal ons iets drink? Koffie of tee? Wat verkies … ?” probeer sy die kort, swanger stilswye oorbrug.
“Nee, dankie. Ek … ek is ’n bietjie haastig.”
“O.”
Stilte. Dan keer sy blik terug na hare en hy vra op die man af: “Hoekom het jy dokter Luddick vertel dat die Victor-diagnose myne was?”
Sy ruk instinktief soos sy skrik, haar hande skielik styf inmekaargestrengel. “Hoekom, Lizl?”
Sy sluk. “Dit was eintlik jou diagnose. As jy nie met my gestry het nie … ”
Skielik speel die ou bekende, vir haar hartroerend bekende, skewe glimlaggie om sy mondhoeke. “Dis darem ’n onlogiese redenasie vir so ’n logiese verstand.”
Verwarring en onsekerheid flits in die blou oë. Sy weet nie wat sy van die situasie moet dink nie. “Dis logies vir my.” Dan glimlag sy ook dapper terug. “Onthou, ek is ’n vrou, en ’n vrou se logika is soms anders as dié van ’n man!”
Nou glimlag hy openlik en hierdie keer misgis sy haar nie. Daar is meteens ’n lig in sy grys oë wat sy nooit gedink het sy weer sou sien nie.
“Vrouelogika word gewoonlik deur die hart beheer, nie deur die verstand nie. Kan dit werklik waar wees, Lizl?”
“Waar? Wat waar?” vra sy en klink hierdie keer regtig so normaal soos ’n doodgewone vroumens dat hy hom moet beheer om nie daar en dan op te spring en haar van die stoel af op te ruk in sy arms in nie.
“Dat dit jou hart was wat jou dit laat sê het?”
“My … hart?”
“Dan gee jy nog om … ’n bietjie?”
Twee paar oë pen mekaar vas. Eindelik knik sy, haar lippe skielik bewerig. “Ek het nog nooit opgehou omgee nie en … ek het nooit net ’n bietjie vir jou omgegee nie, Willem … ”
Hy sluk en sy adamsappel spring op in sy keel. “Sal jy met my trou, Lizl?”
“Trou? Jy bedoel … tróú?”
“Ja. Regtig. Wettig. Met ring, predikant, die lot. Maar daar is ’n voorwaarde.”
“Ja?”
“Ek wil die vrou trou, nie die dokter nie.”
“Wat bedoel jy?”
“Ek dink jy begryp. Jy was nooit onnosel nie,” probeer hy die erns van die oomblik ligter maak.
Hy sien die verstarring van die lieflike gelaat, van die blou oë.
“Jy bedoel … ek moet my mediese loopbaan prysgee en net jou vrou wees? By die huis bly en … ”
“En ’n ma vir ons kinders wees en ’n vrou vir my. Ja. Dis wat ek bedoel, Lizl.”
Dis ’n grafstilte wat volg.
“Hoekom wil jy met my trou, Willem?” Haar stemtoon vertel hom dat hy nie veel hoop moet koester nie.
So egalig en besadig as wat kan kom, antwoord hy: “Omdat ek … ”
“Moet my net nie vertel omdat jy my ook liefhet nie.” Sy trek haar asem swaar, stadig in. “Soos jy pas gesê het: ek was nog nooit só onnosel nie.”
“En as ek jou verseker dit is die rede?”
“Die een en enigste?”
“Watter ander rede kan daar wees? Hoekom sal ek ’n vrou vra om met my te trou as ek haar nie liefhet nie?”
Sy staar strak na hom, en hy weet wat hy gevrees het, gaan gebeur: Dit was ’n groot, ’n báie groot flater om vanaand hierheen te kom.
“Uit jou reaksie lei ek af dat jy my huweliksaanbod van die hand wys. Mag ek weet hoekom?”
“Jou voorwaarde is vir my totaal onaanvaarbaar.”
“Om net my vrou en die ma van ons kinders te wees? Ek verstaan. Is dit omdat jy nie gelukkig kan wees sonder om ook dokter te wees nie? Of het die senior pos iets hiermee te doen?”
“Dit het niks … ”
“Ek dink dit het, dokter Landman. Ek dink dit het alles daarmee te doen. Jy is natuurlik klaar oortuig dat jý die pos gaan kry, en natuurlik kan jy so ’n geleentheid om weer te bewys dat jy beter as ek is, nie onbenut laat verbygaan nie.”
“Willem, dis onregverdig! Dis nie waar nie … ” roep sy geskok uit, en hy staan vinnig op.
“Jammer