Rewolusie van die hart. Adriana Faling

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Rewolusie van die hart - Adriana Faling страница 16

Автор:
Серия:
Издательство:
Rewolusie van die hart - Adriana Faling

Скачать книгу

stap ook nader. “Julle stories laat my dink aan die plaasmoorde hier. Dit gebeur elke week, maar niemand doen iets daaraan nie.” Sy skud haar kop hartseer. “Die Here moet ons almal genadig wees. Hoe durf ons ons oë wegdraai van soveel onreg. Ek sal vir julle bid.” Sy gee Salomé se arm ’n drukkie en stap moeisaam weg.

      Hulle is stil toe hulle uiteindelik huiswaarts keer. Lamppale skree die nuus uit dat nog iemand vermoor en verkrag is en nog ’n bekende sanger sy vrou verneuk het. Die Wêreldbeker-sokkertoernooi het toe nie soveel geld ingebring soos wat daar gehoop is nie.

      Ons is ’n volk wat lamgeslaan word deur slegte nuus, dink Salomé.

      Voos maak sy koffie. Sak op die rusbank neer.

      “Maak dit alles enige verskil, Sally?”

      Sy sê niks nie.

      “Maak nie saak wat ek sê nie, dit voel vir my die kerke bly horende doof.” Toe, as ’n nagedagte: “Jesus het dit twee duisend jaar gelede ook gesê.”

      “Dis darem nie almal nie, Petrus,” troos sy.

      “Jy’s reg, dis nie almal nie. Ek besef ook dat almal nie betrokke kan raak nie; elkeen het sy roeping. Maar daar is nog veels te veel wat nie betrokke is nie. Dit is aaklig om te voel dat jy die draer is van sulke ongemaklike nuus en dat niemand jou boodskap wil hoor nie.”

      Sy luister stil.

      “Ek wil nie ’n skuldlas op mense plaas nie, Sally. Dit sal so verkeerd wees om mense skuldig te laat voel en só ’n geldjie uit hulle te wurg. Bewaar my daarvan. Ek wil hulle net laat besef wat ’n geleentheid ons as kerk deur ons vingers laat glip as ons nie betrokke raak nie. Ek weet dat hulle nie weet wat ons mis nie.”

      Sy knik simpatiek.

      “Soms is ek lus en pak ons goed op en trek na die Midde-Ooste. Dan hoef ek niks te make te hê met die slapende kerke in Suid-Afrika nie.”

      Sy skrik.

      “Dan hoef ek nie vir soveel weke van julle af weg te wees nie. Dan is ons heeltyd bymekaar,” sê hy passievol.

      Sy dink aan hulle huis, die kinders se skool en haar werk en weeg dit op teen die onbekende Midde-Ooste.

      “Sally?”

      “Ek deel nie jou roeping nie, Petrus,” sê sy sag.

      Dit slaan hard. Hy sit terug op die leunstoel.

      “Ek is jammer. Ek wens dit was anders,” probeer sy opmaak.

      “Dis nie jou skuld nie,” sê hy moedeloos.

      Die dag is bederf.

      “Kom ’n keer saam met my, Sally?” vra hy die aand.

      “Ek was mos al saam met jou.”

      “Nee, ek bedoel op ’n gebedsreis, nie net ’n besigtigingstoer nie.”

      ’n Koue hand klem om haar keel. Sy het gedink hulle rolle is verdeel: Hy behartig die reise en die geestelike deel, sy pas die kinders op en hou die fort.

      “Wat van my werk en die kinders?” Sy weet sy klink soos die mense by die kerk en sy haat dit.

      “Ons kan dit in vakansietyd probeer reël en ons kan mos vir een keer iemand vra om ons uit te help met die kinders? Of nog beter, die kinders kan saamkom,” maak Petrus planne.

      “Volstrek nie.” Haar juffroustem. “Ek sal nooit instem dat jy my kinders na so ’n gevaarlike plek neem nie.”

      “Dis my kinders ook,” sê hy waarskuwend, hoewel redelik. “En Suid-Afrika is net so gevaarlik. Die mense in die Midde-Ooste kan nie glo dat ek jou en die kinders alleen in hierdie gevaarlike land agterlaat nie.”

      Sy dink aan die koerantopskrifte. “My ouers kry ’n oorval!”

      “Dis ons kinders, nie hulle s’n nie.”

      “Nee, Petrus, vergeet daarvan.”

      “Nou goed, ek onderhandel nou eers vir jou teenwoordigheid, U Majesteit,” sê hy ondeund.

      Hy gaan hierdie rondte wen, sy kan dit op sy gesig sien. Sy wonder of hy weet dat sy enigiets vir hom sal doen. “Petrus, ek weet nie, ek …”

      “Ek wil hê jy moet verstaan en sien, Sally.” Hy is skielik weer baie ernstig.

      “Dis hoekom ek saam Doebai toe was en ek het steeds nie verstaan nie.”

      “Dan probeer ons weer. Ek sal probeer tot jy verstaan.”

      “Ag, Petrus.”

      “Sally, ek het Jesus in die Midde-Ooste in die vervolgde kerk leer ken op ’n manier wat ek Hom nog nooit in ons kerke beleef het nie,” sê hy intens.

      “Bedoel jy Hy is nie in ons kerke nie?” vra sy versigtig.

      “Nee, glad nie. Natuurlik is Hy hier. Maar dis anders. Hoe kan ek dit verduidelik? Dis daardie aspek van Jesus wat Petrus op die water laat loop het wat ek daar leer ken, Sally. Dit is Hy wat vir mense blinde geloof gee, dapperheid. God se vaderhart beleef ek so intens daar. Ag, en nog ’n duisend ander eienskappe van Hom!” roep hy uit.

      Sy is stil.

      “Ek wil so graag hê jy moet Hom en sy kerk ook so ervaar, Sally. Ek wil hê jy moet verstaan. Dink daaroor. Bid daaroor. Ek sal nie nou ’n antwoord vra nie, maar belowe my jy sal bid daaroor?”

      Sy kyk eers lank ernstig na hom. Hulle maak nie leë beloftes teenoor mekaar nie. Toe knik sy. Dit is vir hom baie belangrik.

      Dis meer as net die kinders wat sy vir ’n ruk hier sal moet agterlaat, of om haar ouers te moet vertel, of die vrees vir Moslem-mans wat blonde vroue ontvoer en deel maak van hulle harems, wat haar huiwerig maak. Dit is Petrus se wêreld wat haar intimideer. Sy haat elke werksfunksie. Haat die binnekring van sy werk waar almal lyk of hulle op ’n ander geestelike planeet as sy beweeg. Mense wat dae lank kan vas en bid en sy kry dit skaars vir een dag reg. Mense wat haar altyd so innig vriendelik groet, asof hulle in hulle gebedstyd die een of ander voorkennis oor haar by die Heilige Gees opgedoen het en dit nou in hulle koppe oor en oor maal terwyl hulle haar met iets soos simpatie betrag. Sy voel altyd heeltemal uit haar diepte.

      Niks van haar vrese bespreek sy met Petrus nie. Sy wonder net in stilte oor die ure wat hulle in gebed bestee op so ’n reis. Sal sy dit kan doen? Sal haar klere reg wees vir die kultuur daar? Eintlik voel sy skaam dat sy ná al die jare wat hy al hiermee besig is eerder minder van die detail wou weet as meer. Sy is niks beter as die mense van die kerk wat hulle horende doof hou nie. Soos hulle is sy trots op Petrus, maar wil nie self haar hande gaan vuilmaak nie en sy vermoed hy weet dit. Sy verkwalik haarself daarvoor. Soms dink sy selfs dat hy met die verkeerde vrou getrou het. Nie oor sy nie vir hom lief is nie, maar bloot omdat sy nie die diepte van sy werk verstaan en sy passie deel nie. Sy wens sy was ’n beter vrou vir hom. Miskien moet sy tog saamgaan. Sy wíl God ook so ervaar soos hy sê. Maar wat van die kinders? Moet Petrus nie juis nou in hierdie seisoen by die huis wees en hulle help grootmaak nie? Versuim hy nie sy plig nie? Moet hy nie ’n beter man en pa wees nie? So begin haar gedagtes weer van voor af die sirkelgang en

Скачать книгу