Ena Murray Keur 2. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 2 - Ena Murray страница 3

Ena Murray Keur 2 - Ena Murray

Скачать книгу

regop gesit en ’n wrang glimlag het om sy mond getrek. Hy het geen illusie gehad oor die rede vir haar ontsteltenis nie.

      “Ja. Daar sal seker van jou vriendinne wees wat bereid sal wees om by jou te kom inwoon. Jy sal nie alleen wees nie.” Hy het geaarsel en toe vervolg: “Net een ding, Pauli, volgende keer sal die toenadering eerste van jou kant moet kom. Sodra jy gereed is om met ons huwelik te begin, kan jy my laat weet. Jy het my woord dat ek jou nie weer sal lastig val nie.”

      Louw het ’n week later saam met ’n span argeoloë vertrek en sy het agtergebly met die wete dat hy gelyk gehad het in sy beskuldigings.

      In die weke terwyl hy weg was, hét sy toe dinge uitgepluis, soos hy voorgestel het. Sy het eindelik helder besef dat sy wel met Louw getrou het sodat hy haar pa se plek moes inneem. Nie een keer het sy haar afgevra of sy hom liefhet soos ’n vrou ’n man moet liefhê as sy met hom gaan trou nie. Louw was Louw, die een anker waaraan sy kon vasklou, die man wat van nou af die dinge vir haar sou doen en vir haar beteken wat haar pa vir haar gedoen en beteken het.

      Sy onthou nou daardie aand toe Louw haar gevra het om met hom te trou, en weer krimp sy ineen van skaamte. Die eerste keer besef sy dat Louw Hattingh niks anders kon doen as om haar te vra om met hom te trou nie.

      Sy het weer in haar pa se studeerkamer gesit en huil toe hy ingestap gekom het.

      “Pauli! Pauli! Jy kan nie so voortgaan nie! Jy sal moet leer om te aanvaar …”

      Sy het haar arms om sy nek gegooi en al haar vrese teen sy bors uitgesnik.

      “Ek weet hy is dood, Louw, maar … Ek is so bang! Ek is so alleen! Môre gaan almal weg, terug huis toe en dan … sal ek alleen wees. Die universiteit sluit môre en jy gaan dan ook weg …”

      Hy het haar ’n entjie weggehou en in haar bang oë afgekyk, teer soos haar pa altyd gedoen het.

      “Wil jy hê ek moet bly?”

      “Sal jy, Louw? Sal jy my nie alleen laat nie?”

      Hy het haar weer vas teen hom getrek en toe gesê: “Maar dan sal ons moet trou, Pauli.”

      “Trou?”

      “Ja. Sal jy met my trou?”

      Pauli beweeg rusteloos in haar stoel by die herinnering aan daardie oomblikke terwyl sy voel hoe ’n vlam teen haar wange opskiet. O, hoe kinderagtig en onvolwasse was sy tog nie! Dis asof sy vanaand eers werklik dinge in perspektief sien en besef dat daar nooit ’n woord oor wedersydse liefde gepraat is nie.

      Haar gedagtes vat weer koers …

      Terwyl Louw op die ekspedisie weg was, het sy besef dat hy gelyk gehad het en dat hulle nie vir ewig op so ’n platoniese wyse kon voortgaan nie. Weliswaar was sy nie verlief op hom nie – sy het nooit eens die moontlikheid oorweeg nie. Maar dat sy die wêreld se respek en bewondering vir Louw Hattingh gehad het, was seker. Dit is tog seker ook ’n grondslag vir ’n gelukkige huwelik? Maar toe hy terugkeer van die ekspedisie af, was Louw skielik vir haar ’n vreemdeling. Nie dat sy houding en optrede teenoor haar verander het nie. Hy het dieselfde steunpilaar en vriend gebly, altyd geduldig, altyd vol begrip.

      Maar sy het nou met ander oë na hom gekyk. Sy het nie meer voor haar die man gesien wat haar pa se plek moes inneem nie, maar die man met wie sy die intiemste ervarings van die lewe moet deel … en sy het besef dat hulle op hierdie gebied volslae vreemdelinge vir mekaar is. Sy het tot hiertoe ongekende selfbewustheid in sy teenwoordigheid gevoel wat nog verder verdiep het by die wete dat hy van haar verwag om die eerste teken van toenadering te gee.

      Dit het haar senuweeagtig en gespanne gemaak, want vir die eerste keer het sy besef dat sy twaalf jaar jonger as hierdie man is; dat hy reeds ’n volwasse man van twee en dertig is terwyl sy nog in baie opsigte seker jonger as haar twintig jaar is.

      Hy het haar afsydigheid verkeerd vertolk en haar daardie eerste aand teen slapenstyd byna bars verseker: “Hou in hemelsnaam op om soos ’n bang haas te lyk, Pauli. Ek het jou gesê ek sal jou nie lastig val nie. Ek gee jou weer daardie versekering. Gaan slaap en slaap rustig. Jy het niks te vrees nie.”

      Voordat sy nog van die stywe band om haar keel ontslae kon raak, het hy in die studeerkamer verdwyn. Sy het na haar kamer gegaan en die eerste keer sedert haar pa se dood, het sy haar om ’n ander rede aan die slaap gehuil.

      Hulle was ses maande getroud toe Louw weer eens genooi is om ’n groep wetenskaplikes op ’n belangrike ekspedisie te vergesel – en hy het gegaan. Hierdie keer sou hy heelwat langer weg wees as die eerste keer.

      En gister het hy teruggekeer … en weer het hulle soos twee vreemdelinge voor mekaar gestaan. Hoe sy ook al probeer het om spontaan teenoor hom op te tree, sy kon nie, want hierdie keer was dit hy wat gespanne en afsydig was. Hy het haar vlugtig op die voorkop gesoen, ’n paar beleefde vrae oor haar welstand gevra en hom toe in die studeerkamer teruggetrek.

      Sy het desperaat gevoel. Sy moes iets doen. Hulle kon nie so voortgaan nie. Sy het op die gedagte gekom om vir hom ’n verwelkomingspartytjie te gee en só te toon dat sy nou gereed is om sy vrou te wees. Hy het hom die partytjie sonder veel geesdrif laat welgeval, en die hele aand het hy haar skaars raakgesien.

      Haar blik rus op die toe studeerkamerdeur. En nou is hulle groter vreemdelinge as ooit tevore. Nou is hulle nie eens meer vriende nie. Die eerste keer sedert hulle mekaar ken, het hulle amper woorde gehad. En dit kan hom so min skeel dat hy hom in sy studeerkamer gaan terugtrek het en natuurlik weer in een van sy boeke sit en lees en naslaan, seker oor Paaseiland, sonder om ’n tweede gedagte aan haar te gee.

      Op daardie oomblik gaan die deur oop en hy kyk haar verbaas aan.

      2

      “Is jy nog op? Ek het gedink jy het lankal gaan slaap.”

      “Nee.” Sy vee moeg oor haar oë. Wel, sy kan dit ewe goed nou verbykry. “Louw, ek wil met jou praat …”

      “Dis al baie laat, Pauli. Jy lyk moeg. Dit kan wag tot môre. Gaan rus eers.” Die frons is terug tussen sy wenkbroue.

      Pauli voel weer iets hier binne-in haar ruk. Wel, hy kan haar beskou as ’n kind, maar sy gaan haar nie vanaand soos ’n kind kamer toe laat stuur voordat sy haar sê gesê het nie.

      “Dis belangrik. Ek wil nóú met jou praat,” hou sy vol en selfs vir haarself klink sy kompleet soos ’n koppige kind. Louw se ongeduldige blou oë vertel haar dis presies wat hy ook dink.

      “Nou goed dan. Eintlik is daar iets wat ek jou ook moet sê. Ek het eintlik nog nie tyd gehad nie …”

      Sy swyg. Nee, hy het nog nie tyd gehad om sy vrou te vertel dat hy oor veertien dae weer vertrek nie, maar daar was wel genoeg tyd om dit vir Zelia Meyer te vertel … Maar dan … sy is nie regtig sy vrou nie, is sy? Eintlik is Zelia Meyer nader aan hom as sy.

      “Wat is dit?” sê sy om tyd te wen, hoewel sy nie weet hoekom nie. Hoekom wil sy nog langer wegskram?

      “O, dis nie so uiters belangrik nie. Dis maar net dat ek weer op ’n ekspedisie sal vertrek …”

      “O.” Haar stem klink droog, sonder emosie. Nee, dis seker nie so belangrik vir ’n vrou om te weet dat haar man na die uithoek van die aardbol toe gaan nie.

      “Waaroor wou

Скачать книгу