Ena Murray Keur 2. Ena Murray

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 2 - Ena Murray страница 5

Ena Murray Keur 2 - Ena Murray

Скачать книгу

rede?”

      “Ja. Is daar dalk … iemand anders? Nee, ek stel dit sleg. Om reguit te wees, het jy verlief geraak in die tyd dat ek weg was – op een van jou vriende, iemand van jou ouderdom miskien?”

      “Nee, natuurlik nie!”

      “Dis nie nodig om so geskok te lyk nie.” Sy wenkbroue lig. “Dis heeltemal moontlik en niemand sal jou kwalik neem nie. Ek is tog heelwat ouer as jy. Jy is skaars een en twintig. Die meeste meisies van jou ouderdom is verlief, of verloof. Dis ook natuurlik en normaal.”

      “Dit mag wees, maar ek … ek is beslis nie verlief nie … op niemand nie.”

      “O, ja? Daardie … e … Lionel, dink ek is sy naam, met wie jy nou die aand so gedans het …”

      “Hy is ’n blote vriend. Louw, regtig, ek verseker jou daar is niemand nie. Hy is ’n ou skoolmaat van my, soos jy goed weet.”

      “Nee, ek weet nie. Ek ken jou vriende maar sleg. Ek het nie juis kontak met die jonger klomp nie. Dan wil jy nie vry wees omdat jy op iemand verlief is nie?”

      “Nee. Beslis nie!”

      “Jy sien ook nie kans om ons huwelik nog ’n kans te gee nie?”

      “Nee, daar is geen kans nie. Jy gaan al weer oor vier dae weg … vir hoeveel maande. Louw, ek weet jy wil nie regtig nog ’n kans hê nie en jy het net so min hoop vir ons huwelik as ek. Dis maar net omdat jy my nog verder wil beskerm teen al die gevolge wat ’n egskeiding meebring, maar … ek gaan jou nie toelaat om my weer ’n keer te beskerm nie. Jy het reeds genoeg gedoen vir my. Te veel. Ek gaan niks verder van jou neem nie.”

      “Ek verstaan. Het jy baie goed nagedink oor die gevolge van ’n egskeiding? Jy is baie jonk om as ’n geskeide vrou aan die wêreld bekend te staan.”

      Sy blik rus op haar en sy weet nie hoe jonk sy werklik op hierdie oomblik lyk nie. Sy lyk kwalik agttien met haar ligte rokkie, sagte krulle, groot blou oë, skraal, fyn gestaltetjie … Haar blik sak voor syne.

      “Ek weet, maar … dit sal ook oorwaai.” Daar heers ’n kort stilte. Dan kyk sy hom weer pleitend aan. “Asseblief, Louw!”

      Sy blik dwaal weg, rus ’n oomblik op die portret van die man teen die muur. Hy frons.

      “Goed, Pauli. Ek sal jou ’n egskeiding gee – maar op een voorwaarde.”

      “Ja?”

      “Jy gaan eers saam met my op hierdie ekspedisie. Wanneer ons terugkeer en jy voel nog soos jy vandag voel, sal ek jou jou egskeiding gee.”

      “Saam?” Sy kyk hom fronsend aan. “Maar hoekom? Watter sin sal dit hê? Wat moet ek daar gaan maak?”

      “Dis my voorwaarde. As jy nie kans sien nie, is dit jou saak, maar dan kry jy nie ’n egskeiding van my nie. Ek bedoel dit.”

      Sy spring op. Net sy weet hoe pynlik die afgelope paar minute vir haar was en hoe sy moes uithaal om kalm en bedaard te bly. Maar nou … Soos hy hulle al so dikwels gesien het, flits die blou oë weer kwaai.

      “Ek wonder wie is nou kinderagtig? Natuurlik sal ek beslis nie saamgaan nie …”

      “In daardie geval is daar niks om verder te bespreek nie. As jy my nou sal verskoon … Ek het nog geweldig baie om in orde te kry.”

      Sy neem parmantig stelling voor die lessenaar in.

      “Louw Hattingh, ek weet nie of dit jou idee van ’n grap is nie …”

      “Geensins. ’n Egskeiding het ek nog nooit as ’n grap beskou nie. Jy het vier dae om na te dink oor my voorwaarde.”

      “Daar is niks om oor na te dink nie. Dis belaglik! Wat moet ek daar op die uithoek van die aardbol gaan soek? As dit geselskap is wat jy soek … Jou bekwame en interessante doktor Meyer gaan mos saam!”

      Hy kyk op van waar hy weer begin skryf het, sy stem en oë yskoud.

      “Ja, jy het gelyk. Dit sal my beslis nie aan aangename en volwasse geselskap ontbreek nie.”

      “Presies! Waarom moet ek dan …?”

      “Dis jy wat ’n egskeiding wil hê – en dis my voorreg om die voorwaardes te stel. Die saak is afgehandel, Pauli.”

      Hierdie keer is sy stem so beslis, sy oë so waarskuwend dat sy nie anders kan as om stil te bly nie. Hy begin weer skryf, maar dis of hy haar gedagtes kan lees en die begeerte in haar aanvoel om een van die dik, geleerde boeke te gryp wat op die lessenaar rondlê en hom daarmee te gooi, want hy laat kalm hoor: “Gaan pak liewer in, Pauli. Jy sal tog saamgaan.”

      “Jy klink baie seker van jou saak, professor Hattingh!”

      “Ja, ek is … want ek weet hoe bitter graag jy van my ontslae wil wees. Daarom sal jy saamgaan, want dis die enigste manier waarop jy ’n egskeiding sal kry.”

      Pauli storm by die deur uit en klap dit met min ontsag agter haar toe. In haar slaapkamer gooi sy haar huilend op die bed neer. Wat gaan met Louw aan? Hy was altyd so inskiklik, altyd so begrypend, die een wat alles vir haar gedoen het, altyd so geduldig was. Sy kan nie glo dat ’n man so kan verander nie!

      In die studeerkamer kyk Louw Hattingh ’n rukkie roerloos na die toe deur en strek dan sy hand na die telefoon uit.

      “Dis professor Hattingh wat praat. Ek wil asseblief nog ’n plek bespreek op die vlug na Panama op die vyftiende …”

      Dis ’n stil groepie van drie wat vier dae later die vliegtuig bestyg wat hulle regstreeks na Suid-Amerika sal neem en van daar na Panama waar professor Islinger en die res van die geselskap by hulle sal aansluit.

      Tot op die bitter end het Pauli haar probeer losmaak van hierdie onverwagte en onwelkome wending, maar dit het niks gehelp nie. Louw was so onbeweeglik soos die Rots van Gibraltar. Toe sy haar voet op die eerste treetjie sit om die vliegtuig te bestyg, het sy haar weer, bykans desperaat, na hom gekeer.

      “Louw …”

      “Die keuse is steeds joune, Pauli. Ek keer jou nie. Jy kan omdraai as jy wil, maar …”

      Hy het ongeërg die treetjies agter Zelia begin opklim en nie eens omgekyk of sy volg nie. Hy en Zelia het reeds gesit toe sy eindelik onder die laastes haar verskyning in die ruim maak en net een blik met die paadjie af het haar na die lugwaardin laat keer.

      “Kan ek en daardie dame nie plekke ruil nie, asseblief?”

      “Ja, seker, as sy wil,” antwoord die lugwaardin vriendelik, en Pauli se glimlag verbreed.

      “O, ek is seker sy sal met my ruil.” Sy kom langs Zelia tot stilstand en laat kortaf hoor: “Jy sit op my plek. Jou plek is daar langs Louw. Ek is seker julle twee het baie om oor te gesels.”

      Zelia lyk verbaas en aangenaam verras en laat haar nie twee keer nooi nie.

      “Dis baie gaaf van jou, Pauli. Ek kan jou seker maar so noem, nè? As Louw nie liewer …”

      “Louw sal jou beslis langs hom wil hê eerder as

Скачать книгу