Die glasappel. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die glasappel - Christine le Roux страница 4
Hy knyp sy oë vir ’n oomblik styf toe, kners op sy tande en kyk weer na haar. “Jy het nog nie verduidelik hoe jy in my woonstel gekom het nie.”
“Die sleutel was in die uitgeholde tarentaal.”
Hy staar haar onthuts aan. “Het Sandra jou vertel? Nee, sy kon nie, ek het nog nie hier gewoon toe ons uitgegaan het nie.”
“Dis logies,” sê sy eenvoudig. “As jy nie jou sleutels by jou het nie, beteken dit jy steek dit iewers weg. Die tarentaal was die logiese plek.”
“Hoe weet jy ek het nie my sleutels by my gehad nie?”
“Sleutels maak ’n knop in ’n mens se sak. Veral mans se sleutels omdat hulle altyd sulke bosse het. Motorsleutels, huissleutels, kantoor . . .”
“Ja, ja,” val hy haar in die rede. “En jy bestudeer elke mens so deeglik dat jy kan sien wie hulle sleutels aan hulle persoon dra en wie nie?”
“Ja.” Sy glimlag, die behulpsame glimlag van ’n goeie bibliotekaresse wat pas ’n kind met ’n moeilike opdrag gehelp het. “Vrouens is natuurlik moeiliker omdat hulle handsakke dra.”
“Fassinerend,” sê hy suur. Sy kop klop, hy het miskien te veel wyn gedrink, besef hy. “Jy sal my nou moet verskoon, ek wil gaan slaap.” Maar hy is dors, hy wil eers tee drink. “Wil jy tee hê?” vra hy.
“Nee dankie.”
“Koffie?”
“Nee dankie.”
Hy frons, swaai om en loop na sy goed beplande kombuis waar hy die yskas oopmaak en vir hom ’n groot glas yswater inskink. Met die glas in sy hand loop hy terug na die woonkamer. “Ek sal jou verskoon,” sê hy koel. “Jy mag maar gaan slaap.”
“Waar?”
Sy hoofpyn word erger. “In jou woonstel.”
“Maar jy sê dan Sandra is al weg.”
Hy wys na die telefoon. “Bel ’n taxi.”
Sy weifel. “Sal hulle so laat nog ry?”
“Ek weet nie, jy is die een wat alles weet.”
“Ek het al bloutjies geloop,” sê sy angstig en kyk na die telefoon asof dit sy skuld is.
“Bloutjies geloop? Wat op aarde bedoel jy?”
Sy sug. “Sandra is soos jy.”
Met sy duim en voorvinger vryf hy oor sy neusbrug. “Jy hét dit al gesê. Wat bedoel jy?”
“So gedurig aanmekaar met iemand van die teenoorgestelde geslag.”
“Ek is nie gedurig aanmekaar met . . .” stik hy. “Waar kom jy aan so ’n uitdrukking?”
“Jy weet wat ek bedoel,” sê sy nugter. “En dis baie swaar vir ’n woonstelmaat. Toe jy en sy nog uitgegaan het, moes ek een nag in die biblioteek gaan slaap.” Sy speel afgetrokke met haar kraag. “Dit was teen die einde van julle . . . julle verhouding. Ek het eers teen die einde saam met haar ingetrek.”
Hy voel sy bene gee mee en sak lam in een van die leunstoele neer. “Hoekom het jy in die biblioteek gaan slaap?” vra hy verslae.
“Omdat sy gesê het ek moet my uit die voete maak, sy bring iemand huis toe.” Sy vou haar dun, wit hande op haar skoot. “Ek het gelukkig die sleutels by my gehad.”
“Ek is seker,” beaam hy. “Jy is paraat as dit by sleutels kom.”
“Net sowel, anders sou ek seker in die park op ’n bank moes gaan slaap.”
“Maar,” sê hy, teen sy beterwete skuldig, “julle kan mos nie . . . ek bedoel, Sandra kan mos nie net verwag jy moet slaapplek vir die nag kry elke keer dat sy . . .”
“Ek weet,” stem sy saam. “Ons het nou ’n werkende beleid vasgestel. Sy moet my betyds waarsku en ek onderneem om nie uit my kamer te kom nie. Dis ook maar moeilik, want soms voel mens lus vir tee of so iets.”
“Ja,” sê hy verstom.
“Riaan gee nie om nie,” gaan sy voort. “Ek en hy is goeie vriende. Jy het nie dalk gesien of sy saam met hom huis toe is nie?”
“Nee.”
“Nee,” beaam sy. “Jy was besig met Jenny.”
Hy hou met albei hande aan sy humeur vas. “Mens kan darem seker aanvaar dit was Riaan, dink jy nie so nie? Hulle is per slot van rekening verloof.”
Sy rol haar oë, vir die eerste keer klink sy ergerlik. “Ek sê dan sy is soos jy.”
Hy druk albei handpalms teen sy kloppende voorkop. “As jy dit wéér sê . . .”
Sy kry hom blykbaar jammer, want toe sy weer praat, is haar stem simpatiek. “Jy sien, sy weet Riaan is die een met wie sy gaan trou, maar intussen voel sy sy moet haar laaste maande van vryheid gebruik. Vir oulaas met mans uitgaan en so. Vir iemand soos ek is dit onbegryplik, maar iemand soos jy behoort te . . .”
“Iemand soos ek behoort te gaan slaap,” sê hy en spring op. “Doen my ’n guns, sit die sleutel terug in die tarentaal as jy uit is, sal jy?” Hy klim die trappe na die boonste verdieping en klap sy kamerdeur so hard dat ’n skildery langs die deur afval, maar gelukkig nie breek op die sagte mat nie.
Hy borsel sy tande verwoed, was sy gesig, stroop sy klere af en val op sy bed neer.
Toe hy die volgende oggend wakker word, is hy in die eerste plek bewus van sy droë mond en ’n vreeslike dors. Ná hy twee glase water gedrink het, sy gesig gewas en geskeer het, voel hy weer mens en kruip ’n vreemde skuldgevoel deur die verskansing van sy bewussyn. Hy was . . . hy soek na die regte woord. Ongeskik? Brutaal? In elk geval te ru met daardie vreemde meisie gisternag. Sy het geen reg om sommer in sy woonstel te kom lê nie, maar aan die ander kant het sy op die minste ’n ongemaklike lewe as Sandra se woonstelmaat. Hy kon aangebied het om haar huis toe te neem.
Hy trek sy broek, hemp en sokkies aan en probeer onthou wat hy van Sandra se woonstelmaat geweet het. Hét hy van haar geweet? Nee, moet hy erken. Hy was nie bewus van haar teenwoordigheid nie, maar dit kan wees omdat daar nooit iemand in die plek was behalwe Sandra nie. Daarby was hulle verhouding reeds aan die uitrafel en het bestaan uit hewige rusies in openbare plekke. Hy onthou nog die aand toe sy ’n glas wyn oor sy hemp uitgeskiet het en hoe geskok die kelner en ander eters was. En die keer toe sy . . .
Hy skud sy kop, hang sy das om sy nek, sy baadjie oor een skouer en tel sy skoene op. Koffie is wat hy nou nodig het. Sterk koffie.
Hy stoot sy deur oop en stap uit op die galery wat afkyk op die woonkamer. Son stroom deur die groot venster en baai alles in ’n gerusstellende warm lig wat die binnenshuise plante groener laat lyk. Sy neusvleuels kriewel; hy ruik koffie en dis onverwags. Met ’n effense frons stap hy op sy sokkies met die trappe af.
Dit ís koffie, sien hy toe hy in die kombuisdeur