Die glasappel. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die glasappel - Christine le Roux страница 7
“Die meisie wat gisternag daar geslaap het.”
Kerneels se oë rek. “Dit was nie Jenny nie?”
Theo se aandag is weer by sy ontwerp. “Nee, genade, ek het haar gisteraand vir die eerste keer ontmoet. So wild is ek darem nie.”
Kerneels krap sy kop. Sy wilde blonde krulhare lyk altyd deurmekaar en nou selfs erger. “En die meisiekind wat daar oornag het – wanneer het jy haar ontmoet?”
“Ek het haar nie ontmoet nie. Ek sê dan nou vir jou ek weet nie eers wat haar naam is nie.”
Die tegniese punte ontgaan Kerneels, hy lyk net verwilder. “Hoe lank ken jy haar dan al?”
“Ek ken haar nie. Sy was gisteraand ook op Petro se partytjie. Loop nou, ek is besig.”
Kerneels onttrek kopskuddend. “Lindie,” roep hy in die gang af. “Wag tot jy dié storie hoor. Dis alles veel, veel erger as wat ek en jy in ons onskuld besef het. Tien rand is nie meer genoeg nie, ons sal dit moet opstoot.”
Theo ignoreer die gespot, al sy aandag by sy werk. Hy hou net op om vir Jenny te bel en af te spreek om haar daardie aand te kom oplaai vir ete en ’n fliek.
Sy was vriendelik genoeg oor die foon, maar toe hy oorkant haar sit in die restaurant is sy nie heeltemal so koketterig soos sy die vorige nag was nie. Hy skink maar vir haar wyn in, vra uit na haar werk en bewonder die kuiltjies in haar wange as sy glimlag. Sy is baie inskiklik, besef hy. As hy sê dis koud, stem sy saam. Toe hy haar vra wat sy wil eet, sê sy hy moet besluit.
“Is daar nie iets waarvan jy besonder baie hou nie?” vra hy.
Sy glimlag stralend. “Nee.”
Hy probeer haar uitlok deur oor aktuele sake te praat, maar loop hom vinnig vas. Sy lees nie koerante nie, vertel sy hom, en kyk ook nie na die televisienuus nie. As sy televisie wil kyk, huur sy ’n video. Dis om die waarheid te sê die enigste gebied waar sy vaste voorkeure het. Sy kan al die filmhelde bespreek asof sy hulle persoonlik ken en hy moet na ’n ellelange relaas luister oor een of ander man se gebroke huwelik en waarom dit gebeur het.
“Jy hou dus van romantiese prente?” vra hy.
“O ja,” sê sy. “Dis al waarna ek kyk. Party het ek ses keer gesien.”
In sy binneste sug hy en wonder byna oombliklik waarom dit so is. Hy moet oud word. ’n Jaar gelede sou ’n pragtige meisie soos Jenny hom op die plek verower het deur te erken sy is romanties. Hy het nie met mooi meisies uitgegaan omdat hulle aktuele sake kon bespreek nie – om die waarheid te sê, hoe minder opinies hulle gehad het, hoe beter.
Daar was byvoorbeeld – wat was haar naam nou weer? Elise? Elaine? Eloïse? In elk geval, sy kon net oor haar katte praat. Syself was mollig en kort, nie die soort meisie van wie hy normaalweg hou nie, maar so onbevange vrolik en ongekompliseerd dat hy nie anders kon as om van haar te hou nie.
Aan die begin het hy dit selfs amusant gevind om te luister na die gebabbel oor Mattewis se gewoontes, die kat se wit voetjies, sy manier om op jou skoot te kom lê sodat jy die room van jou koek met ’n lepeltjie kon afskraap en vir hom voer.
“Jy luister nie na my nie,” pruil Jenny en hy knip sy oë vinnig en kyk verskonend na haar. “Jy’t dit gisteraand ook gedoen.”
“Ek is jammer,” sê hy en glimlag sy gewone sjarmante glimlag, al kort dit sy gewone entoesiasme.
Hy vind die bioskoopprent ongenadiglik lank en vervelig. Tienermeisies, identies in kleredrag en lang blonde hare, giggel op die skerm, raak verlief, raak ontgogel, maar hou nooit op giggel nie.
“Dit was pragtig,” sug Jenny toe hy haar huis toe neem. “Hulle was almal so jonk en mooi!”
Hy soen haar op die wang toe hy haar by haar voordeur groet en vermy die effens verwytende blik wat sy hom gee, asof sy iets meer hartstogteliks verwag het. “Ons kuier weer,” belowe hy. “Gisternag het ek baie laat in die bed gekom.”
“Ja,” sê sy beteuterd. “Sal jy my bel?”
“Natuurlik.”
Maar toe hy sy voordeur agter hom toetrek, is sy das al los en skop hy sy skoene af voor hy met ’n geoefende sprong lankuit op sy bank neerval, sy kop in die sagte kussing en sy oë klaar weldadig gesluit.
Hy ruk regop en kriewel sy neus. Sy bank ruik na iets anders, iemand anders. Hy buig af en ruik aan die kussing. Ja, ’n ligte, vervlietende reuk van parfuum, en nie ’n parfuum wat hy ken nie.
Dis daardie meisie, dink hy vies en draai die kussing om. Hy hou van ’n bank wat net na lap ruik. Hy wil nie sy kop in iets druk wat subtiele geure uitdamp nie.
Hy maak sy oë weer toe en dink aan Jenny. Dis ’n deprimerende gedagte. Sy wou hom innooi en hy wou liewer huis toe kom. Hy lig sy hand en voel aan sy voorkop. Nee, hy is nie koorsig nie. As sy ma daar was, het sy gelag, want sy is selfs meer krities oor sy leefwyse as Kerneels. Sy verseker hom elke keer dat sy hom sien dat hy op die pad na die verderf is, dat sy nie weet wat sy verkeerd gedoen het om so ’n losbol vir ’n seun te hê nie en dat sy met haar hele hart wag vir die dag dat hy sy kop hard gaan stamp.
Dis nie sy skuld nie, dink hy. Op hoërskool het hy opgeskiet tot hy die langste seun in die klas was en die een met die slegste vel. Sy bynaam was Riet en alhoewel party meisies gedink het om lank te wees is nie so ’n nadeel nie, was sy benerige lyf so lomp dat hy nie twee treë kon loop sonder om oor sy eie voete te val nie. Onbeholpe, lomp, onaantreklik en so skaam dat hy sou doodgaan voor hy ’n meisie sou nader.
Sy ma het hom dokter toe geneem en sy vel is vinnig gesond gemaak. Hy het begin deelneem aan sport en elke oggend douvoordag kilometers gehardloop en ongesiens het sy liggaam meer definisie gekry. Die knopknieë het verdwyn, sy arms, bene en borskas het spiere ontwikkel en teen die tyd dat hy universiteit toe is, het sy vriende hom verseker hy is aansienlik en hoef nie meer weg te kruip nie. Ongelukkig het dit langer geduur om van sy skaamheid ontslae te raak. Hy het nog steeds gestamel en in ’n figuurlike sin oor sy voete geval as hy met ’n meisie moes praat.
Die keerpunt het gekom toe ’n meisie hom in sy tweede jaar opbel en uitnooi na een of ander geselligheid. Toe hy haar beter leer ken het, het sy gebieg dat sy dit vir ’n weddenskap gedoen het omdat die ander meisies gesê het sy sal nie die moed hê om die aantreklikste man op die kampus te vra nie.
Dit was vir hom ’n openbaring. Die aantreklikste man op die kampus? Hy kon dit skaars glo, maar teen die tyd dat hy sy graad gekry het, het genoeg meisies hom hiervan oortuig.
Theo sug, te lui om nou op te staan en in sy bed te klim. Waarom hy nou skielik introspektief word, sal hy nie weet nie. Hy is net ’n normale man en eendag sal hy gevestig raak en trou en huis opsit en . . . Hy sug swaarder, want hy weet nie of dit moontlik is nie. Sy ma beskuldig hom dat hy sinies geword het en dis waar. Daar was al te veel Jennys en Elaines en Sandras.
“Onsin,” sê hy hardop en staan op. Hy sal gaan stort en in die bed klim. Môre voel hy wel weer beter.
Hoofstuk 4
Twee weke later stap Theo by sy geliefkoosde eetplek in vir middagete. Hy was die hele oggend op die perseel en hy is heeltemal verkluim. Die normale Hoëveldse winterson