Die glasappel. Christine le Roux
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Die glasappel - Christine le Roux страница 5
Sy is onbewus van hom, haar oë is op twee voëltjies wat buite heen en weer wieg op die onseker blare van die semitropiese plant. Haar hare hang nie meer los nie, maar is in ’n dik vlegsel teen haar rug af gevleg.
“Môre,” sê hy en sy draai om.
Sy lyk nie verbaas, ongemaklik of verbouereerd nie. “Môre,” beantwoord sy sy groet en kyk na die koffiemasjien wat amper deurgeloop is. “Die koffie is feitlik reg.”
“Ek sien so,” sê hy beleef.
Sy lig die glasbeker en skink. “Melk en suiker?”
“Swart, dankie.”
Sy gooi vir haarself melk en suiker by, roer dit en lig die beker. “Mm,” sê sy afgetrokke. “Lekker. Sonder koffie kan ’n mens nie die dag aanpak nie.”
“Nee,” stem hy saam. “En mens laat jou ook nie afsit deur die feit dat dit iemand anders se kombuis is nie.”
“Nee wat. Alle kombuise het een kassie met bekers of koppies en ’n ander een met koffie en tee en suiker.”
“Is dit so?” Hy drink ’n paar slukke en moet saamstem dat dit die dag op sy voete kantel. Dan trek hy een van die kroegstoeltjies nader en gaan sit om sy skoene aan te trek. “Jy het nie sommer ook spek en eiers in die yskas en brood in die broodblik gekry nie?”
“Nee, ek het nou net wakker geword.”
“Dit verklaar die oorsig,” sê hy en bind sy veters vas. “Ek kan dus net aflei dat jy gisternag hier geslaap het. Op my bank.”
“Ja.” Sy glimlag vir hom. “’n Baie lekker bank, moet ek sê. Lank genoeg, wat ongewoon is. Gewoonlik moet ’n mens jou dubbel vou om in te pas.”
“Jy het natuurlik kennis van slaap op ongewone plekke,” stem hy saam. “Maar ek is bly jy keur my bank goed. Ek het dit spesiaal so laat maak juis vir daardie rede.”
Sy kyk hom op en af. “Jy is lank, ja.”
Hy drink nog ’n slukkie koffie en begin sy das knoop. “Was daar geen taxi’s nie?”
“Ek het eers vir Sandra gebel,” sê sy ernstig. “Om uit te vind wat die situasie daar is. Sy was kwaad, want sy het al geslaap.”
“Saam met wie?” kan hy nie help om te vra nie.
Sy gee hom die soort blik wat kleuterskoolonderwyseresse ’n kind gee wat nou net die pot blou verf op die vloer omgekeer het. “Ek vra nie uit nie.”
“Natuurlik,” sê hy. “Jy is nie die soort wat jou opdring aan ander mense nie.” Hy staan op. Maak die yskasdeur oop en kyk in. “Wil jy vir ons eiers bak?” vra hy. “Ek is nogal honger.”
“Nee, ek is nie jou huishoudster nie.” Haar stem is so vriendelik soos altyd.
“Natuurlik nie. Die feit dat jy so pas koffie gemaak het, beteken nie jy het my kombuis oorgeneem nie.”
“Presies.” Sy staan eenkant sodat hy die pan kan uithaal en by die stoof kan kom.
“Wil jy eiers hê?” vra hy.
“Nee dankie.”
“Iets anders?”
“Nee dankie.”
Hy gooi botter in die pan en staan en kyk hoe dit smelt. “Jy moet ’n onbenydenswaardige lewe hê,” merk hy op. “Nooit seker van ’n dak oor jou kop nie.”
“Dis darem nie so erg nie.”
Hy breek die eiers in die pan. “Nee, seker nie. Met jou vermoë om elke mens se sleutelposisie op te som, kry jy altyd ’n onbewoonde plek waar jy intrek.”
Sy gee ’n onbevange laggie. “Dis ’n nuwe betekenis van die woord sleutelposisie. Normaalweg beteken dit die posisie wat ’n sekere mens in ’n organisasie of gemeenskap beklee. Maar soos jy dit gebruik, gee jy die letterlike betekenis terug aan die term.”
Hy staar na haar en spring toe die eiers skielik te kwaai begin sis. “Wel,” sê hy. “Ja.”
Sy begin laaie ooptrek, kry die messe en vurke en sit dit vir hom op die toonbank reg. “Hier, trek sommer die hoë stoeltjie nader, dan kan jy hier eet.”
“Dankie, ek weet waar om te eet.”
Sy maak die broodblik oop en haal twee snye uit. “Ek vind jou handigheid verrassend, ja, maar ek dink tog dis ’n goeie plan as jy die stoofplaat afskakel. Hy gloei al rooi en die pan is reeds eenkant geskuif. Jy wil nie onnodig elektrisiteit mors nie.”
Hy maak sy oë toe en wag vir die roosterbrood om uit te spring.
Hoofstuk 3
Terwyl hy eet, stap sy terug na die woonkamer en verskyn met ’n paar delikate swart steweltjies. Sy gaan sit plat op die vloer, trek die eerste een aan en begin dit toeryg.
“Kan ek jou by die werk aflaai?” vra hy ná hy sy mond afgevee en ’n tweede beker koffie geskink het.
“Nee dankie. Ek haal sommer die bus.”
“Dis nie nodig nie, daar is genoeg tyd om jou eers af te laai.”
“Ek hou van die bus.”
“Dis koud buite,” sê hy ergerlik. “My huis het ondervloerse verhitting, mens kan jou verbeel dis nog somer en ek sien nie dat jy ’n jas of baadjie by jou het nie.”
“Nee,” stem sy saam. Haar tweede stewel is ook nou vasgeryg en sy staan op, skud haar rok reg en druk die kragie plat.
“Maar ek verkies nietemin die bus. Dis rustig.”
“Nes jy wil,” sê hy.
“Ek is nie een van jou meisies nie,” sê sy tegemoetkomend. “Jy hoef nie galant te probeer wees nie.”
Hy suig sy asem in. “Ek begin meteens verstaan waarom Sandra jou so dikwels en sonder gewetenswroeging uit die woonstel boender,” sê hy in ’n ysige stem. “Dit kan nie maklik wees om ’n huis met jou te deel nie.”
“Dis oor ons ma’s,” sê sy.
“Julle ma’s?”
“Hulle was beste vriendinne op skool. Is dit trouens nog steeds. Het gevoel dis die beste dat hulle dogters ’n woonstel deel.”
“Maar het nie in ag geneem die hemelsbreë verskil tussen genoemde dogters nie?” vra hy effens geamuseerd.
“O nee, ons kom baie goed klaar.” Sy vee haar hare uit haar gesig. “Maar jy is reg, ek dink ek moet vir my ’n motor koop.” Haar oë kyk in die verte. “Miskien kan ek dit sommer vandag gaan doen in my etensuur.”
Hy weerhou homself daarvan om hardop te lag. “Hoekom nie? Wat van teetyd?”