Goedheid en guns. Jenna-Leigh February

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Goedheid en guns - Jenna-Leigh February страница 3

Goedheid en guns - Jenna-Leigh February

Скачать книгу

gebly. Twee van my ooms het destyds nog studeer en net vakansietye huis toe gekom. Dan het hulle om die beurt baie mooi na my gekyk wanneer ek van die kleuterskool af huis toe gekom het. Ek onthou die dae toe ek altyd in die middae saam met een van die ooms moes sit en tennis kyk. Hy het my ook gereeld winkel toe gestuur om my eie middagete te gaan koop. Kaas-en-uie-tjips, Fanta en brood.

      Soms het ek by my ma gekla omdat die ooms elke middag net eiers bak. Klaagliedere van Jeremia ten spyt, was ek tussen al die grootmense eintlik vreeslik bederf. Wanneer die ooms vakansietye van die kollege af huis toe gekom het, was daar altyd iets vir my. Legkaarte, leesboeke, teddiebere, lekkers, noem maar op.

      Een van my ma se kollegas het eendag vir my ’n ou sleutelbord van ’n rekenaar gestuur. Onbewus van die feit dat ’n sleutelbord nie naastenby ’n rekenaar is nie, het ek vir die volgende jaar of wat alte lekker biblioteek-biblioteek en winkel-winkel gespeel. Waar kinders vandag met skootrekenaars en slimfone grootword, was dié sleutelbord die beste stukkie tegnologie wat ek in my jong lewe gesien het.

      Ek het dit ook altyd vreeslik geniet om na stories van die grootmense se kindertyd te luister. Toe my ouma nog geleef het, het sy ons eendag vertel hoe sy en haar broers ’n baie ernstige gesprek gehad het.

      “Wat is sonde?” was die vraag. Só het die groot bespiegeling begin. Ek dink dis dit. Nee, man, dis dat. Totdat hulle uiteindelik konsensus bereik het.

      Sonde is wanneer jy eers ’n liedjie sing, menende een wat in ’n disko sou speel, en direk daarna ’n gesang, menende ’n lied wat in die kerk gesing word.

      Disko en kerk. Solank jy dié twee net nie meng nie, is jy safe.

Kalena.jpg

      Op my ma se skoot. Die ooms het my toe nog “Kalena” genoem.

      My ma, wat duidelik nie oor sonde geworry het toe sy ’n dogtertjie was nie, was kleintyd vreeslik astrant.

      “Moenie met my teëpraat nie!” het Oupa eendag fermer as gewoonlik vermaan. Verdrietig het sy haar lot by haar broers, jonger as sy, gaan bekla.

      Die een wat geluister en soort van omgegee het, het sy mening kort en saaklik gelug. “Van wanneer af kan ’n mens koffie en tee praat?” en toe verder gespeel.

      Dis ook my ma wat kleintyd driftig met die kerkmense saamgesing het: “Ouma moet, ouma moet as die dywel woet!” sonder om te weet wat sy sing. Hou maar moed as die duiwel woed.

      As grootmens verbeel ’n mens jou alte maklik jy het nog altyd elke liewe ding geken en nog nooit nodig gehad om te leer nie.

      * * *

      Hier is die storie wat ek seker weer eendag vir my kleinkinders sal vertel. Feit. Nie fiksie nie.

      Toe ek ’n kleuter in Bonnievale was, het die kinders by die kleuterskool eendag van “skoolbank” gepraat. Oor wat dit is en so aan. Stil-stil het ek na die gesprek geluister en kort voor lank agtergekom “skoolbank” is nie iets waarop jy sit, soos ek eers gedink het nie. “Skool bank” is iets wat jy dóén. Wie sou dit nou kon raai?

      Jy maak asof jy skool toe gaan, maar dan gaan speel jy iewers anders en gaan huis toe wanneer die ander kinders uit die skool kom.

      Net daar besluit ek om dit die volgende dag te probeer.

      Die volgende oggend laat ek my maats alleen vooruit skool toe stap. ’n Entjie van die huis af, net om die draai, bly ek langs die pad sit. Ek eet my skoolbroodjie op en vir die volgende paar minute sit ek net …

      Dis nie baie fun nie, dink ek gou.

      My eerste skoolbanksessie was duidelik nie so mooi beplan nie. Ek begin toe daar in die pad aan die kinders by die skool en die ooms by die huis dink. Die ooms en die huis wen.

      Huilend van senuwees en die onvermoë om my vroeë tuiskoms lieg-lieg te verklaar, kom ek by die huis aan. Doodbang om op myself te klik.

      ’n Klompie jare gelede het ek my ma vir die eerste keer vertel dat ek kleuterskool gebank het. En dit toe darem van my hart af gekry.

      Min het ek as kleuter geweet ek sou in die toekoms as jongmens nog baie op my eie dwaal en verdwaal … en terugkom. Al was dit met trane in my oë en al het ek soms nie die moed gehad om te sê waar ek was nie … terugkom sou ek altyd terugkom.

      Dit is grootliks te danke aan die feit dat God van kleins af ’n integrale deel van my lewe is. Vanaf die tyd toe ons as gesin in my ouma se kombuis die Here met stem en kitaar geloof het en die Woord op plase rondom Bonnievale verkondig het.

      Dit was die dae toe ek as vierjarige kliphard vanaf my kansel – my ouma se agterstoep – vir die bure gepreek het. Met my groot Kinderbybel onder my arm en baie ernstig het ek gepreek dat hulle hulle hart vir die Here moet gee. Alles dinge wat ek in die kerk gehoor het.

      Ver onderkant my ouma se huis was daar ’n ander huis. Daar het ’n antie gebly wat vandat ek kan onthou aan drank verslaaf was. Op die agterstoep het ek haar naam genoem, my woorde in die rigting van haar huis gestuur en vir haar gebid. Nie sy of die ander bure het geluister nie; dit was net die speel-speel dinge van ’n kind.

      Toe sy jare daarna haar hart vir die Here gee, was dit een van die buurt se grootste wonderwerke. Ek sê nie dit was as gevolg van my preke of my bidsessies nie; ek sê maar net. Bid en preek kan nie skade doen nie.

      * * *

      Klein-klein het ek al geweet ek wil eendag met mense praat. Dit voel nou soms vir my ek het net die stoep vir die TV verruil.

      Op twee en ’n half het ek eendag my kop om die kamerdeur gesteek en my teenwoordigheid vir die eerste keer luidkeels in Engels aangekondig. “What djoe dwieng, Mom?” Sedertdien was ek nog nooit bang vir Engels nie. Krom of skeef, praat sal ek hom praat.

      Dit klink dalk na ’n simpel ding om te sê, maar ek kan nie genoeg beklemtoon hoe verras ek keer op keer staan dat God my in my moedertaal gebruik of dat ek in my taal kan werk nie. Ek kan nie glo dat ek as Afrikaanse meisie soveel aanvaarding, liefde en ondersteuning van die publiek ontvang nie. In my kop het ek my nog altyd verbeel ek is Engels omdat ek so tuis voel in die taal, so dikwels daarin dink en my so gemaklik daarin kan uitdruk.

      Ek stem saam met my ma se onlangse stelling dat een mens onmoontlik alles kan weet en dat God soms doelbewus nie dinge vir ons vooruit wys nie. Juis omdat Hy ons en ander mense in hierdie lewe wil verras. Sy het dit gesê terwyl ons gepraat het oor haar antwoord op ’n kleintydvraag van my. Jare gelede wou ek by haar weet of sy dink ek het ’n mooi stem. “Ek weet nie. Dit klink vir my normaal,” het sy geantwoord. So eerlik moontlik, blykbaar. Bang om te vinnig ja te sê en dan wil ek eendag loop sing sonder dat ek kan noot hou of iets.

      ’n Klinkklare bewys dan … nie een van ons weet werklik alles nie.

      Wat ’n wonder! Ons en ander mense bly altyd verras deur die dinge wat God in die stilligheid vir ons beplan. Daar is altyd dinge wat vars en nuut en onverklaarbaar cool vir ons is. Soos die feit dat ek vandag op ’n publieke platform in Afrikaans kan werk.

      Soms steek God dinge vir ons weg om ons skok, teleurstelling en seer te vroeg in ons lewe te spaar. Ander kere draai Hy dinge soos peperduur geskenkies in misterie toe. Die dag dat ons dit oopmaak, verlustig Hy Hom in die uitdrukking op ons gesig wanneer ons kinderlik besef: Drome word tóg waar! Al is dié ek wat leef die hele tyd midde-in my besige lewe vasgevang, is

Скачать книгу