Goedheid en guns. Jenna-Leigh February
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Goedheid en guns - Jenna-Leigh February страница 5
Is die swirlkous dat net vir mense op ’n sekere vlak bedoel? Stereotipering op sy beste. Die boksies darem waarin ander ons plaas en waarin ons ander plaas.
Vir sommige gaan dit oor die feit dat jy ’n swirlkous dra; vir ander gaan dit oor die soort motor waarmee jy ry, die buurt waar jy bly, die taal wat jy praat of hóé jy dié taal praat.
Soms gebruik ons egter die boksies waarin ander ons sit om weg te kruip. As dít is hoe ander my sien, is dit seker hoe ek regtig is, dink ons. Erger nog, dan is dit seker hoe ek bedoel is om te wees. Een, twee, drie, word boksies gerieflike wegkruipplekke, verskonings vir luiheid en vestings van vrees. Voor ons ons kom kry, vanuit die gemaksone van ons klein boksie, steek ander s’n ons dwars in die krop.
* * *
Ek het skool ná graad 8 gelos om matriek deur die pos te doen. Graad 9, 10 en 11 sommer heeltemal geskip. Ek was vas oortuig ek kon dit doen, en ek het. Baie mense het my egter toe, op grond van hulle persepsies, in ’n boksie gesit. Die meisie met die potensiaal wat haar toekoms so weggooi. Selfs ’n paar onderwysers het my heftig gekritiseer.
Die storie het my ore bereik dat ek kwansuis swanger is en dís hoekom ek die skool gelos het. ’n Jaar of twee later het ek en my laatlam-boetie in die dorp rondgeloop. Hy is twaalf jaar jonger as ek. My ma het hom spesiaal van die Here afgebid en sy het so ’n mooi getuienis van hoe die Here hom én sy naam vir haar gegee het en als.
’n Laerskoolvriend het hardop laat hoor: “Jenna-Leigh, jou kind is darem nou groot!” Ek het probeer verduidelik en is voor almal uitgejou. “Die hele wêreld weet, so vir wat hou jy jou so lekker?” Ek was toe nog jonk en, anders as vandag, so onseker van myself. Ek het seergemaak en verneder gevoel. Die opinies van mense het toe nog vir my meer saak gemaak as die opinie van God.
So dink ons ons ken die stories agter mense se spreekwoordelike swirlkouse. Dít wat hulle in ons oë kleiner en nietiger, meer onnosel en minder geskik, as ons en ander mense maak. Wurmpie-like, soos iemand wat ek ken, sou sê. Die dinge wat hulle uitsluit uit ons kringe en wat maak dat hulle tog nie ons beroep, ons buurt, ons velkleur, ons uitspraak, ons tyd, ons respek, ons vlak van lewe of ons sukses verdien of waardig is nie.
So al asof ons God is en alles wat ons is en het nie nét uit genade is nie, besluit ons wie hoort waar en wie nie. Wie kwalifiseer vir wat en wie nie. Soms tree ons op asof ons doer bo was toe God die res hier onder gemaak het. Ek ken mense wat dit doen. Ek het dit self gedoen. Ek betrap my af en toe dat ek dit nou nog wil-wil doen.
Ons verbeel ons dat Hy wat uit liefde vir die hele wêreld gesterf het saam met ons minagtend op die spul doer anderkant neersien. En dit terwyl Hy, so wil dit voorkom, ons diekant persoonlik onderrig het in die kriteria vir menswees en vir waardigheid.
Kom ons bemoedig mekaar en word ’n slag eerlik.
Ek en jy is nie met kliptafels bergaf gestuur nie. God se vereistes en kriteria vir waardigheid was nie daarop uitgekerf nie. Hy en ons was nie alleen daar en die ander doer anderkant nie. Al wat ons weet, is wat sy Woord ons leer. En wat sy Woord ons leer, is wat noodsaaklik is. Die Here bo alles en ons naaste soos onsself.
As ek oor iets móét toyi-toyi, laat my toyi-toyi lieflik wees en laat dit loflik wees. Laat die plakkate uitroep: “Jesus lewe!” Hý besluit en Hý regeer … en basta met die res. Wie my join, join my én my swirlkous. Hy het ons gemaak en ons is Syne!
Krities en kras besluit ons sommerso oor mense se toekoms en hulle vlak in die lewe. Gits, ons hoef nie eens hulle hart te ken of hulle niere te toets of in die verborgene te kan sien nie, want ons is cool en connected. Ons kyk sommer net so (die vinger klap) na die kous op hulle kop, die klere aan hulle lyf en die huis waarin hulle bly. Ons luister na die “ô” in hulle “ô” en die “ê” in hulle “ê” en ons kan hulle klassifiseer. Net so (en weereens klap die vinger). Ons is “net so”-mense, ons twee. Ons is instant, kits. Gou om te oordeel; stadig om te begryp.
Hel, pêl, wat praat jy?! Ons weeg, klassifiseer en bevind sommer onsself.
Net so dink ons soms niks van wie ons is nie en alles van wie ander is. Of ons dink alles van onsself en niks van ander nie. Daar’s ’n eenvoudige waarheid wat ek dink ons te gou vergeet: om ander te seën moet ons self geseënd wees.
Seëninge het nog nooit in goeters opgesluit gelê nie. Dit lê oop en bloot in die Een wat seën. Vir die hele wêreld om te sien. Ek en jy sien nie, vir die doodeenvoudige rede dat ons weier om te sien.
Die goeie Herder dek ’n tafel; minus Hom bly almal onversorg en onversadig. Herderloos en rigtingloos strompel ons van die een papbak na die ander. Verruil ons die een stukkende stoel vir die ander, die een harde lêplek vir die ander. Ons probeer alles in ons soeke na die een ding wat pas.
Die laaste woorde wat my ouma Driena op haar sterfbed vir ons gesê het, was dat ons te hard probeer. Dis wat sy gesê het. Niks minder nie en niks meer nie.
En dis presies wat dit is. Go, Ouma! Ons probeer dié ding en ons probeer dáái ding, juis omdat ons nie weet nie. Ons ken nie die antwoord nie. Pleks dat ons stilsit en hoor. Christus, die Woord. Hy is die antwoord. Hy weet.
Daar is so dikwels hierdie leë ruimte in ons lewe en ons doen ons bes om dit met aardse goeters te vul. Met mense. Met alles behalwe die Waarheid, om die waarheid te sê. Dit het ek in my jong lewe uitgevind. In plaas van probéér, moet ons Christus toelaat om die waarheid in ons lewe te spreek en dóén wat ook al in ons lewe nodig is om te doen. Dit wat Hy doen, doen Hy die eerste keer reg. One shot, soos ons kleintyd gesê het.
Ek het nodig om gelei te word. Dit het ek ontdek. Ek het nodig om deur die Waarheid gelei te word.
’n Rukkie gelede het hulle in ’n tydskrifonderhoud vir my gevra waar ek my selfvertroue kry. Ek kry dit uit Psalm 139:17. “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!” Wat nodig is, is dat ek my gedagtes oor myself in pas kry met God se gedagtes oor my. My selfvertroue stam uit die wete dat Hy my herder is. Die guns van die Here agtervolg my en sy seën rus op my.
Hy het my gemaak; ek is sy idee. Die feit dat ek op die aarde is, is sy idee. Dit wat ek doen, was sy idee. Daarvoor het Hy my spesifiek en spesiaal toegerus. Hy koester magtige gedagtes oor my. Wat waar is van een van ons in die koninkryk van God, is waar van ons almal. Dis ’n waarheid waaraan ek vasklou.
In hierdie gees sit ek my swirlkous vanaand weer op my kop. Miskien doen jy dieselfde, wat jou spreekwoordelike swirlkous ook al is. Miskien borsel jy jou skewe tande of klim jy in jou flenter kar. Dalk ploeter jy deur jou halfpadhuwelik. Draai jou swaarverdiende sente sewe maal om.
Hoe dit ook al sy, ons doen dit met die wete dat dít nie bepaal wie ons is of wie ons vorentoe kan wees nie. God is genadig. God is goed. Wat Hy van ons sê, is waar. Ongeag wat agter en onder my swirlkous skuil, sal ek altyd die opsie hê om keuses uit te oefen. Op enige oomblik en in enige situasie kan ek besluit om vir Hom te leef. Om die lewe wat Hy vir my bestem het hier op aarde uit te leef. Die oomblik dat ek dit vir Hom sê, word Hy my herder. Goedheid en guns sal my volg. Dag een, dag twee, dag drie.
Al die dae van my lewe.
Ek sal in die huis van die Here bly.
Tot in lengte van dae.
Hoofstuk 2
My skapie