Goedheid en guns. Jenna-Leigh February
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Goedheid en guns - Jenna-Leigh February страница 6
As 9-jarige in standerd 1 het ek my skooljare in Worcester by die laerskool onder in die straat begin. Die skool was letterlik ’n klipgooi van ons huis af.
Die leuse van die skool waar ek sub A en sub B voltooi het, was “Reik al hoër”, as ek reg onthou. Op die skoolbanke van my nuwe skool met die leuse “Mik hoog” is die fondasie van my skoolopleiding verder gelê. Hier was ek op die ou end hoofdogter, altyd een van die toppresteerders. Hier het ek van my talente begin ontdek. Vandag nog sal ek grappenderwys vir my ma vra: “Is daar iets wat ek nie kan doen nie?” Ek kan wel nie ’n ordentlike eier bak nie. Dit weet ek darem!
Op laerskool het ek egter alles probeer en in alles my beste gegee. Dit is nou maar eenmaal hoe ek aanmekaargesit is. Veelsydig. En daarvoor is ek Goddank bly. Ek was een jaar tot Sportvrou van die Jaar by my laerskool, glo dit of nie! As ek nie nou nog die trofee gehad het nie, sou ek dit vandag dalk self nie geglo het nie. Ek het sport gedoen omdat dit vir my lekker was, maar ek was beslis nie wat ek as ’n “uitblinker” op sportgebied sou bestempel nie.
In die een jaar wat ek op die hoërskoolbanke deurgebring het, het ’n onderwyseres by die laerskool uitgevind van alles waarby ek as groentjie (al weer) by die hoërskool betrokke was. Leerderraad, skoolkoerant, noem maar op. Toe my ma eendag by die laerskool aankom, het dié onderwyseres haar voorgekeer en vurig berispe. “Moenie toelaat dat (Jenna-Leigh) so alles doen nie.”
Ek is waar ek vandag in my loopbaan, my lewe en my wandel met God is omdat ek grootgemaak is met die wete dat voortreflikheid nie die uitsondering is nie, maar God se norm vir my. Met Hom aan my sy en met sy goedheid en guns wat my oral heen volg, is geen droom vir my te groot en geen ideaal onbereikbaar nie. Mik hoog. Reik al hoër. En laat die res aan die Here oor.
* * *
As tiener op hoërskool in Worcester was daar ’n tyd toe ek die verkeerde vriende gekies en die verkeerde keuses gemaak het. Ek het vír my vriende en my keuses gekies en teen my ouers se gesag en streng, maar gesonde huisreëls in opstand gekom. Danksy die genade van die Here het alles op die ou end vir my ten goede meegewerk. Ek besef egter dat dinge nie noodwendig vir alle tieners wat die pad ’n tyd byster raak so goed soos vir my afloop nie.
Soos baie tieners voor en na my sal getuig, het ek nie toe altyd mooi geweet of ek kom of gaan nie. Wanneer ek moes sit en wanneer ek moes staan nie. Dis veral moeilik om jou plek in die wêreld te vind as die wêreld in jou kop ’n warboel is.
My ouma Driena is oorlede toe ek op hoërskool was. Ons, ek en ouma Driena, het ’n “sielskonneksie” gehad wat vir my moeilik is om in woorde te beskryf. Haar weggaan het my laat voel asof ek stoksielalleen in die wêreld oorgebly het. Skielik was daar hierdie groot leemte in my lewe, in my wese. Ek het nie geweet waarmee om dit te vul nie. Eers later het ek besef God is al Een wat daardie leemte kan vul. Nie eens die een mens op aarde vir wie ons die heel liefste is, kan sy plek in ons lewe inneem nie. Hy wil Nommer Een in ons hart en lewe wees. As sy Woord dit in soveel woorde vir ons sê, is dit omdat Hy dit regtig bedoel. Dit het ek veel later eers werklik begin verstaan.
As hoërskoolmeisie het ek van God geweet. Soos Job het ek op hoorsê van Hom gehoor en Hom op ’n manier geken. My manier. Daar was egter nie sprake van ’n brandende persoonlike verhouding met Hom nie. Ek het Hom nie geken op die vlak of die manier wat Hy (en ek, sonder dat ek dit besef het) dit begeer het nie. My oё het Hom nog nie self gesien nie. Nie soos my oё Hom kon sien nie …
In my gemeenskap het ek ’n spreekwoord gehoor wat sê: “Jy gaan nie op jou ma en pa of ouma en oupa se tjaps hemel toe nie.” Elke kind, tiener en grootmens se lewe hier op aarde het God se stempel van goedkeuring nodig. Sy aanbeveling. Ons kan nie onsself aanbeveel nie. Ander mense kan ons nie voor Hom aanbeveel nie. Dit leer die Woord ons.
Ons kan nie voor God gaan staan en redeneer nie: “My ma, pa, ouma en oupa, Here, het U op aarde geken.” God het nie stief- of kleinkinders nie. Hy het eie kinders. Geestelik gebore uit die Gees. Wedergebore kinders, soos Nikodemus moes leer.
Dis iets wat ek moes aanvaar. Die Here ken dié wat Syne is. Hy besluit self en alleen en op sy eie wie sy eie is. “Gaan weg van My af, vervloektes!” is wat sommige mense eendag sal hoor. Hard, maar waar. Ek sidder as ek daaraan dink.
“Regter van die hele aarde,” het Abraham Hom genoem. Hy sit op die troon en Hy besluit. Hy stel aan en Hy stel af. Hy keur goed en Hy keur af. Hy is die Pottebakker en ons is die klei. Sy verordeninge geld. “Dit is jou eie saak as jy verlore gaan,” het ons kleintyd gesing.
My ma het my en my boetie van kleins af grootgemaak met die wete dat die geestelike ryk, die ryk waar God, die engele en ons geliefdes by Hom is, net so werklik soos die sigbare ryk is. God is hier én daar. Net so werklik hier én daar, het ons geleer. Vir ons om oor die geestelike ryk te praat en te dink, is gevolglik net so natuurlik soos om oor die sigbare ryk te dink en te praat. Jare later is dit steeds een van die lesse wat baiemaal tot my redding kom. Wanneer ek met God ’n gesprek kan hê waar ek Hom hoor antwoord; wanneer ek drome of visioene kry. Wanneer ek verlore ronddwaal en nie weet watter rigting om volgende in te slaan nie. Dan sal God baiekeer leiding of antwoorde gee. Ek het geleer om sensitief te wees vir sy stem en my lewe van binne uit te leef, gelei deur die Heilige Gees. Daarvoor is ek oneindig dankbaar.
Soos ek gesê het, het ek die skool verlaat toe ek 15 was, deeltyds verder studeer en op 17 reeds werk as joernalis en my eie woonstel gehad. Ek het myself onderhou.
Daar was egter ’n tydperk tussenin dat ek die pad heeltemal byster geraak en te vroeg en te hardkoppig my eie rigting ingeslaan het. Nee was in daardie stadium nie vir my ’n antwoord nie. Soos my ma later sou sê: Daardie tyd was kort, maar intens. Dit is na aanleiding van daardie tydperk in my lewe, en die lesse wat ek weens wederstrewigheid en ongehoorsaamheid moes leer en ly, dat my ma my ’n tydjie terug ’n SMS kon stuur: “Probeer altyd onthou, jy is in Worcester vir Johannesburg voorberei.”
Wat sy daarmee bedoel het, is dat sommige foute wat ons in hierdie lewe maak en sommige lesse wat ons leer en ly, so pynlik en intens is dat dit nie vir ons nodig behoort te wees om dit te herhaal nie. Een keer behoort genoeg te wees vir ons om die boodskap te kry.
Selfs nog voordat ek die leemte in my hart met ’n ander mens probeer vul en ’n gevoel van tuishoort in ’n voortydige huwelik gaan soek het, was daar ’n tyd dat ek te vroeg “weg” wou wees, op my eie.
Tussen 16 en 17 het ek verlore geraak. Die vroulike weergawe, so het dit in daardie stadium vir my gevoel, van die verlore seun. God het iemand eenkeer daaraan herinner dat Hy, soos die pa in die gelykenis van die verlore seun, die affected father is. Die Vader agtergelaat en geraak deur die doen en late van sy kind. Die Een wat nie afsydig of onaangeraak of losgemaak van sy kinders staan nie. Hy is die Vader omdat Hy kinders het. Hy is ons Vader omdat ons sy kinders is. Wat ons doen, raak Hom. Ons doen en late gaan Hom aan.
In daardie stadium van my lewe het ek die nag en die wêreld ingevaar, op soek na God én myself. Aan die weghardloop vir die gevoel van op my eie, allenig, wees. Vandag besef ek God het daardie tyd in my lewe sonder my medewete tot my voordeel gebruik. Om my vroeg-vroeg reeds voor te berei vir die uitdagings van my lewe in Johannesburg. Hier waar ek jonk-jonk en soos my vinger alleen my merk vir Hom moet maak. Op watter groot of klein skaal ook al.
As ek nie my Vader daar op die platteland, in die relatiewe veiligheid van my tuisomgewing en die baie mense wat my geken en vir my gebid het, self ontdek het nie, sou die stad my heel ingesluk en stukkend uitgespoeg het. Dit is hoe ek vandag daaroor voel, en daarvan getuig my optrede op daardie heel eerste Saterdag toe ek die stad waar ek nou woon en werk, binnegery het.
Die heel