Ultrasatyn 2 in 1. Elsa Winckler
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ultrasatyn 2 in 1 - Elsa Winckler страница 6
“Ek weet nie wat gebeur het nie, maar iets het verkeerd geloop met laas week se toets.” Sy weet dit klink flou, maar dis die beste wat sy nou op kort kennisgewing kan opdis.
Hy bly nog na haar kyk en reik dan na sy tas, haal ’n stapel antwoordstelle daaruit en begin daardeur blaai. “Hier is jou toets.” Hy kyk eers daarna, stoot dit dan oor die lessenaar na haar. “Hierdie punt is beswaarlik iets om jou oor te bekommer.”
Bekoor kyk sy na sy hande. Die punt boaan die toets pla haar nie in die minste nie.
“Is dit al, Leila?”
Haar oë vlieg op toe hy haar naam sê en sy knik woordeloos.
“Nou maar goed. Dan is dit afgehandel.” Hy staan op agter die lessenaar en sy volg sy voorbeeld.
By die deur kyk sy op na hom. “Dankie, en ek is jammer ek het gepla.”
Hy knik liggies. Sy hand sluit om haar arm toe sy verby hom wil stap. Die onpersoonlike aanraking is genoeg om ’n veldbrand in haar te ontketen. Dit skok deur haar en toe sy in sy oë kyk, weet sy hy weet wat haar reaksie op hom is. Haar tepels verhard onder die dun materiaal van die toppie. Sy oë gly net ’n vlietende, onbewaakte sekonde laer voor hy in haar oë kyk. Sy is nie seker wat hy opgemerk het nie.
“Wat is jou toekomsplanne, Leila?” Daar is weer ’n grinterigheid in sy stem. Sy lippe vorm haar naam asof hy dit elke dag sê en ’n warmte kom lê in haar lyf.
“Nog niks spesifieks nie. Ek het gedink om my CV solank aan ’n paar personeelagentskappe in Johannesburg te stuur.”
Hy knik. “Ek sluit my klasse vandag af. Dit is dus my laaste dag op kantoor. Ek ontruim die plek vanmiddag. Jy was eintlik gelukkig om my nog hier te kry. Ek moet nou gaan, my eerste klas begin oor ’n paar minute, maar as jy belangstel in die kontakbesonderhede van ’n maatskappy wat ’n paar internskapposte beskikbaar het, kom spreek my vyfuur.”
“Dankie, ek sal beslis hier wees.”
Die wind swiep deur haar hare toe sy terug huis toe jaag. Die bande van haar Golf sing oor die teer. Sy gaan hom weer sien. Weer sien. Weer sien. Oor en oor weergalm die deuntjie in haar kop.
Hemel, hoe dom was sy nie? Hoe kon sy ooit gedink het Nadia Jonker weet waarvan sy praat?
En hoe kon sy ooit gedink het dat sý, Leila Viviers, iets so ondeurdag, so sonder inhibisie sou kon deurvoer? Lukas sou haar summier uit sy kantoor gegooi het. Sy twyfel of hy iemand vir bandelose seks is. Hy is nie soos haar eks nie. Of is alle mans eenders? Seks sou haar in elk geval niks in die sak gebring het nie. Want sy wil meer van hom hê.
O ja, haar lyf smag na hom op elke moontlike vlak. Haar hormone is ’n diep, onbekende oseaan waarin sy kan verdrink as sy nie versigtig is nie. Dit het sy vanoggend duidelik besef.
Die dag rek tot ’n ewigheid. Haar boeke lê onaangeraak op haar lessenaar. Genadiglik is haar skripsie reeds voltooi. Al kon sy teen haar eie tempo daaraan gewerk het, het Lukas haar en die ander twee meestergraadstudente gedryf om hulle werk klaar te maak. Die resultaat is dat sy nou baie verlig is dat sy haar nie daaroor ook hoef te bekommer nie. Sy skryf oor drie modules eksamen. Dis die finale drie spykers wat sy in die beleggingbestuur-kis slaan.
’n Paar keer draai sy voor die spieël om ’n uitrusting te bekyk. Vanmiddag wil sy nie soos ’n gewone student lyk nie. Sy moet soos ’n vrou lyk wat ’n man kan verlei. Nie een met kort rokkies en lae halse nie. Eerder soos ’n vrou wat tuis voel in haar vel en klere omdat sy weet wie sy is. Die tipe vrou wat Lukas Strauss se aandag sal trek omdat sy klas het. Nie omdat sy haar op ’n skinkbord vir hom aanbied nie.
Sy is besig om haar lang hare droog te blaas toe Karla laatmiddag op haar bed neerval. “Wat is die geleentheid?”
Leila skakel die haardroër af en trek haar grimeersakkie nader. “Ek gaan Lukas Strauss oor inligting vir ’n moontlike pos spreek.”
“In dié outfit?”
“Ek kan sekerlik nie in ’n kortbroek en plakkies gaan nie. Die man sal my huis toe stuur om te gaan grootword. Dis vir werk, suster.”
Leila draai voor die spieël teen die muur. Die roomkleurige linnebroek val sag tot by haar enkels. Die blou halternektoppie beklemtoon die kleur van haar oë en wys haar skraal skouers perfek af. Sy het moeite gedoen met haar ooggrimering en sy bekyk haar handewerk tevrede. Sy wil seker maak hy onthou haar oë vir die res van sy lewe. Vanmiddag gaan sy nie om Lukas Strauss met haar lyf te verlei nie, sy gaan om ’n indruk op hom te maak wat hy nooit sal vergeet nie.
Die dag waarop hy sy laaste asem uitblaas, moet hy haar oë en hopelik die res van haar nog voor sy geestesoog sien.
Karla sit skielik regop en kyk met meer aandag na Leila. “Nogal werk, nè? Nou hoekom trek hy jou so voor?”
“Ek word nie voorgetrek nie. Hy het die inligting seker ook vir die ander twee M-studente gegee. Vandag is blykbaar sy laaste dag hier op kampus.”
Karla fluit saggies. “Lucky devil. Ek sou ook in ’n outfit wat iets in hom roer gegaan het as ons ’n one-on-one gehad het. Maar nou ja, lyk my die geluksgodin is aan jou kant. Dit is gewone sterflinge nie beskore nie.”
“Ek moet nou gaan. Sien jou later.” Van pure opgewondenheid gee sy Karla sommer ’n klapsoen op haar wang.
Dis nou eers halfvyf, maar dalk is hy vroeër terug op kantoor, besluit sy toe sy na die fakulteit ry. As hy nog nie daar is nie, sal sy wag.
Die fakulteit is stil. Sy parkeer haar motor reg voor die ingang. Kyk vir oulaas in die truspieël voor sy uitklim en na die groot deure stap.
By die ingang word sy byna onderstebo geloop. Sy steier agteruit. Lukas se aktetas val op die grond toe hy na haar gryp. Sy warm aanraking doop haar lyf onmiddellik weer in erotiese afwagting.
Hy los haar en tel sy aktetas op. Toe kyk hy in haar oë en is sy verheug dat hy langer kyk as wat nodig is. “Leila. Middag.”
Sy glimlag skalks. “Hallo, doktor Strauss. Jammer ek is effens vroeg. Is jy op pad uit?”
Hy maak sy oë toe en vryf deur sy hare. Dit laat sy hare effens deurmekaar staan en sy wens sy kon haar vingers daardeur trek. Hy begin aanstap. “Ek het skoon vergeet. Daar is ’n krisis en ek is op pad om dit te gaan hanteer.”
Sy volg hom tot in die helder sonlig. Toe sy voor hom staan, gly sy donkergrys oë onbeskaamd oor haar en genoegdoening tintel oor haar vel.
Haar hare val oor haar skouer toe sy haar kop liggies skud.
“Klim in.” Hy beduie na die enigste ander voertuig wat ’n entjie verder voor die fakulteit geparkeer staan. “Ek is haastig. Ons kan praat terwyl ek ry.”
“Is jy seker? Ek wil nie in jou pad wees nie.”
“Dit sal hopelik nie lank duur om die probleem op te los nie.”
Sonder om daaroor te dink klim sy langs hom in die passasiersitplek van die silwerkleurige viertrek in.
Hy wag dat sy haar sitplekgordel vasmaak voor hy met ’n vaart wegtrek. Hulle praat nie. Hy jaag asof daar tien duiwels agter hom is. Ongemerk hou sy aan die sitplek vas.