Ultrasatyn 2 in 1. Elsa Winckler
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Ultrasatyn 2 in 1 - Elsa Winckler страница 7
“Is daar fout?” vra sy. Haar stem is bekommerd en hy kyk opsommend na haar.
“Jammer, ek moes verduidelik het. Ons is op pad na my suster se huis. Ons is amper daar.”
“Oukei, het jou suster ’n probleem?”
Hy jaag by die oprit van ’n groot dubbelverdieping huis in. Druk die knoppie van die afstandbeheer en trap die versneller ongeduldig dieper terwyl die hek oopskuif.
“My nefie is outisties en die oppasser het hulp nodig.”
Onseker klim sy uit nadat hy stilgehou het. Hy du haar liggies in die rigting van die voordeur toe sy huiwer. Toe stap hy vooruit en volg sy hom vinnig.
“Wag hier op die stoep vir my, ek sal jou kom roep wanneer alles onder beheer is.”
Hy verdwyn die huis in en sy bly alleen op die stoep agter. Daar is ’n bankie langs die voordeur en sy gaan daarop sit.
Sy hoor stemme naderkom en staan verlig op. In die voordeur steek sy vas. Hulle kom nie om haar te roep nie, sien sy toe sy na binne loer. Lukas staan met sy rug na haar in die oopplankombuis. Die vrou kan sy nie sien nie, maar sy hoor haar stem. Dis seker die oppasser van wie hy gepraat het. Die kind by hulle skreeu aanhoudend sodat sy nie kan hoor wat gesê word nie. Die krete is histeries en sy stem is al hees van uitputting.
Toe buk Lukas en hy tel die skreeuende, stoeiende seuntjie op. Die kind spartel op ’n manier wat trane na Leila se oë bring. Lukas druk die lyfie ferm teen hom vas en loop teen die trap op terwyl hy paaiend praat. Die kind skreeu net harder.
Leila sluk aan die knop in haar keel.
“Nee! Nee! Ek wil nie … Nee! Nee!” weergalm die noodkrete tot by haar.
Sy word hoendervleis en sy byt op haar lip toe sy weer op die bankie gaan sit. Arme kind. Langsamerhand word die krete sagter. Leila blaas haar asem verlig uit. Sy kyk op toe ’n lang, skraal vrou eindelik by die voordeur uitkom.
Die vrou glimlag vir haar. Moeë lyne keep langs haar oë en mond en dit lyk of sy lanklaas geslaap het. Miskien is dit hoe emosionele uitputting lyk. Haar hare is in ’n lae poniestert agter in haar nek vasgemaak en haar klere is effens gekreukel.
“Lukas sê jy moet solank inkom. Kan ek iets vir jou aanbied om te drink terwyl jy wag?”
“Dankie, en nee dankie, dis nie nodig nie.”
Sy voel vreemd toe sy op ’n leunstoel in die groot woonvertrek gaan sit. Die vertrek en meubels getuig van goeie, duur smaak. Teen die een muur hang twee groot gesinsfoto’s. Die ouerpaar lag vir haar, maar die seuntjie se gesiggie is stroef. Al frons hy, het hy ’n interessante gesiggie en weer kry sy die kind innig jammer. Haar oë gaan na die gesigte van die ouers en herken iets van Lukas in die vrou. Miskien is dit dieselfde grys oë en donker hare.
Sy is nog besig om haar aan die foto’s te verkyk toe Lukas die vertrek binnekom.
“Jammer ek het jou buite gelos, maar as Gustav ontsteld is, is dit beter om die situasie so gou moontlik te probeer ontlont en vir ’n vreemdeling is dit nie altyd aangenaam om te aanskou nie. Hy het ’n hoogs funksionele tipe outisme, maar soms is daar iets klein wat aanleiding tot ’n uitbarsting gee. Volgens die oppasser het hulle blykbaar vandag van die normale roetine afgewyk en vermoed sy dit was die oorsaak.”
“Dis geen probleem nie, doktor Strauss. Ek sou jou gehelp het as ek kon.”
Hy glimlag en kom sit oorkant haar op die koffietafel. Haar hart spring in haar keel toe sy knie teen hare skuur. ’n Oomblik wat vir haar soos ’n ewigheid voel, kyk hy net na haar. Sy kyk nie weg nie, want daar is iets in sy oë wat die bloed warmer deur haar are laat stu.
“Jy is nie meer my student nie, Leila. Vandag was my laaste dag by die universiteit. My naam is Lukas, jy weet dit en ek verkies dat jy my so noem.”
Sy glimlag en verbeel haar sy oë rus net ’n fraksie te lank op haar lippe. Met mening skud sy die nou bekende gedagtes af wat dreig om haar denke oor te neem. Sy wil nie meer net ’n verliefde student wees nie. Dis tyd dat sy haar waardig gedra. En dis tyd dat Lukas weet sy is ’n vrou. “Nou goed, Lukas.”
“Ek sal jou voor ons ry aan Gustav gaan voorstel. Hy is eintlik ’n baie oulike seuntjie en sodra hy jou leer ken en met jou begin gesels, sal jy gou agterkom hy is ’n fassinerende kind. Baie besonders vir sy vierjarige ouderdom. Ons gee hom net nog ’n paar minute om stoom af te blaas.” Daar is ’n sagtheid in sy oë wanneer hy van die kind praat. “Ek gaan hom en natuurlik my suster en swaer mis wanneer ek weer terug in Johannesburg is.”
“Gustav is gelukkig om jou as oom te hê. Ek is seker jy gaan ook gemis word. Die studente sal beslis agterkom jy is nie meer daar nie, dis seker.”
“Die universiteitspos was tydelik. Ek het die fakulteit net vir die jaar gehelp terwyl doktor Vermeulen, wie se pos ek volgestaan het, sy navorsing voltooi. Maar my aandag is nou dringend elders nodig en doktor Vermeulen is gereed om terug te kom. Dit was ’n interessante jaar. Veral voorgraadse studente is ’n vreemde spesie. Min ander werke sorg vir soveel vermaak. Maar die afgelope jaar by die universiteit was nodig. Die rede hoekom ek hierheen gekom het, was om my suster en haar gesin by te staan.”
“Waar is jou suster dan?”
“Uitstedig in verband met werk en haar vlug land eers seweuur vanaand. Haar man is ’n chirurg en die oppasser sê hy het laat weet hy is nog in die teater en sal eers ná negeuur tuis wees. Naas Gustav se ouers is ek die persoon met wie hy die gemaklikste is. Hulle het ’n jaar en ’n half gelede van Johannesburg hierheen verhuis omdat my swaer se werk dit vereis het. My suster werk steeds vir dieselfde maatskappy, daarom dat sy so baie uitstedig is. Maar dis net tydelik. Dit behoort nou te begin verander.”
“Dit klink na ’n moeilike situasie.”
“Dis soms moeilik. Gustav kom goed klaar met die oppasser, maar sy is nie altyd opgewasse om ’n uitbarsting te hanteer nie, dan moet die sleutelpersone in sy lewe beskikbaar wees. Kom, ek dink ons kan hom nou gaan groet.”
Sy volg hom teen die trap op en wag langs hom toe hy sag aan die halfpad toegetrekte kamerdeur klop voor hy dit versigtig oopstoot.
“Gustav, ek gaan nou inkom. Ek wil jou groet, want ek gaan ry.”
Die seuntjie kyk op van die mat waar hy met ’n hoop karretjies speel. “Cool,” sê hy en Leila weet nie of sy moet glimlag nie.
Lukas tree die kamer voor haar binne. “Kan ek jou voorstel aan my vriendin? Dis Leila.” Hy sit sy hand op haar skouer en die aanraking stuur ’n elektriese golf deur haar ingewande.
Die seuntjie kyk wantrouig na haar en dan weer vinnig terug na Lukas. Toe draai hy sy rug op hulle en speel verder met sy karretjies.
Lukas gaan hurk langs hom en sit sy arm om die seuntjie. Hy gee hom ’n soen teen sy slaap en druk hom teen sy bors vas. “Ek is lief vir jou, groot seun.” Gustav hou aan speel met sy karretjies, maar kyk tog op na Lukas om te wys hy het gehoor.
Buite by die viertrek maak Lukas die deur vir haar oop. Hy bly staan langs haar deur nadat sy ingeklim het. Sy kan hom ruik en sy kan voel hoe sy die drade van haar selfbeheersing begin verloor. Die moue van sy ligblou hemp is tot by sy elmboë opgerol en spiere speel oor sy voorarms terwyl hy die raamwerk van die deur bokant