Louisa du Toit Omnibus 9. Louisa du Toit

Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 9 - Louisa du Toit страница 21

Louisa du Toit Omnibus 9 - Louisa du Toit

Скачать книгу

sê Jonathan verbaas en dink: Dan was Katrien Tosen reg in haar vermoede. Sy ken omtrent haar dorp se mense soos die palm van haar hand. Dis vir hom haas ondenkbaar, gewoond soos hy is aan troppe mense wat heeldag in die betonoerwoud teen andere skuur sonder om mekaar een maal reg in die oë te kyk. “Oom, hy is seker maar ’n treurige hoteleienaar as hy hom sommer laat wegpraat van klandisie af.” Want hy is taamlik seker dat oom Koos wolhaarstories opgedis het.

      “Nee, maar vrugtetyd eet hy uit my hand uit, jong. Hy kry mandjies vol hier uit my agtertuin.”

      “Ek dog oom hou niks van ’n hotel nie?”

      “Nee, niks. Maar van Jaap Genis hou ek. ’n Seun van die dorp.”

      “Hoekom is oom-hulle so goed vir my?” wil Jonathan ongemaklik weet. Hy ken geen vorige geleentheid waar iemand as ’t ware tougetrek het om sy teenwoordigheid in die huis nie. Hy, wat so te sê huisloos is. Die woonstel wat hy huur en bewoon, kwalifiseer nie as ’n tuiste nie. ’n Tuiste is immers ’n plek waar harte vir jou klop en ore die klank van jou voetstappe afwag.

      “Ag, ek en die tannie is ook maar alleen,” sê Koos Coetzee. “Miskien is dit omdat jy so baie soos oorle’ Janmaans lyk, wie weet?”

      Hy sê dit weer eens net te argeloos, sodat dit ’n rilling met Jonathan se ruggraat af. Wat weet Koos Coetzee, of wat vermoed hy? Het hulle al sy regte van uitgevind? Waarom is hy so direk in sy optrede en waarom laai hy elke woord so swaar met betekenis?

      Ek is besimpeld, maan Jonathan hom toe hy later in die koel agtertuin ronddwaal. Hy sit op ’n walletjie wat netjies rondom ’n perskeboom opgewerk is. Die stukkie inligting wat hy kwytgeraak het, behoort ’n natuurlike dood te sterf in Katrien Tosen se gemoed, en hy sal sy taak hier afhandel en teruggaan na Jeannie toe. Hy sal haar onskadelike spot verduur oor die “uitdrogingskursus” waarop hy was, en alles sal wees soos voorheen.

      Hy het gister met Jeannie gepraat en dit was ’n lekker gesprek. Tog, die oomblik toe die kontak beëindig is, het hy ver van haar af gevoel, afgesonderd, enkel.

      Hy is nog besig om peinsend sy opsies te oorweeg, toe Malie hom foon toe roep. Dis jong Theunissen, die tegniese assistent, wat met hom wil praat.

      “Meneer Bergman, ek voel so ’n bietjie omgekrap. Gileam Dormehl het allerhande idees in die raadslede se koppe geprop.”

      “Oor daardie storie van hom? Belaglik. Hy kan nie sy sin kry nie.”

      “Juis. Maar die man het ’n geweldige invloed hier. Daar is nie een mens op Isaacsdam wie se arm hy nie op ’n manier kan draai nie.”

      “Ek sal môre sorg dat ek hom te siene kry.”

      “Ja, liewer. Ek is ook ingevoerde bloed hier op Isaacsdam, en van sy gekonkel hou ek niks.”

      Toe Jonathan klaar gepraat het, sit hy die gehoorbuis nadenkend terug. Dan besluit hy: Ek gaan hom vanaand sien. Hy wil mos juis vanaand met Katrien Tosen handjies vashou.

      Daar groei ’n soort drif uit hierdie besluit, ’n verbetenheid. Hy sal hulle nie toelaat om ongehinderd in mekaar se geselskap te verkeer nie. Hy gaan die nes uitmekaar skop, dis wat. Dit sal vir Gileam Dormehl leer om koning te kraai.

      “Ek moet netnou ’n bietjie uitgaan,” sê hy vir tant Malie waar sy op die agterstoep haar dierkinders versorg.

      “Weet meneer wat?” vertel Malie hom met bessiebruin ogies. “Meneer het dieselfde van as wat ek gehad het, regtigwaar. Toe die mens op die telefoon praat en na meneer Bergman vra … reken, ek dag nog altyd dis Berg. Heiden, Koos,” roep sy heerlik bly toe sy die stampende voetstappe van buite af hoor inkom. “Koos, ek sê, ons is besig om agter die kap van die byl te kom. Dis nooit Berg wat die meneer is nie, dis Bergman. Dieselfde as my nooiensvan. Dan móét hy familie van Janmaans wees.”

      “Ag, Malie, moet tog nie so op loop sit nie,” sê Koos ongeduldig, sodat haar volmaangesig meteens verduister. “Uit miljoene gesigte en vanne moet party soms eenders wees.”

      “Maar …” Haar postuurtjie swel sigbaar uit van erns.

      “Basta nou,” maak Koos sy vrou stil. “Jy neul en neul aanmekaar, en jy hoor die man sê hy’t g’n familie nie. Jy dryf hom uit hotel toe, dis wat jy doen.” Sy asem stoot met driftige teue deur sy neus, terwyl die wenkbroue tale praat. “Wie wil nou ook familie van daardie Janmaans wees,” mompel hy verlaas agterna.

      “Ja, Koos,” prewel sy skoon oorbluf. Maar toe sy wegstap, hoor Jonathan haar snuif en hy sien die voorskoot se punt oë toe gaan.

      Wat doen ek? vra hy hom af. Ek het hier aangekom om hierdie eenvoudige mense ongelukkig te maak, terwyl hulle tot dusver sigbaar nie aan dwarstrek gewoond was nie.

      Hy huil in sy hart. Sal hy nie onthou hoe dit voel as die vrou in die huis ongelukkig is nie? O, sal hy nie? Want Dirkie van Janmaans, die vrou wat sy moeder was, het dikwels met haar rugkant na die wêreld gehuil, haar voorkant na ’n bak vol vuil skottelgoed of wasgoed. Hy onthou die sjokkesjok van die ou wasmasjien wat nie meer ’n deksel gehad het nie.

      Ek wil nie onthou nie, veg hy verbete teen homself terwyl hy in die badkamer met die skilferende mure skeer. Die spieël is nie alte skoon nie en maak sy beeld dof. ’n Gevoel van futiliteit oorval hom, sodat hy sy arms kragteloos langs sy sye laat sak.

      En hy weet ook meteens waarom hy soos ’n stormram na Dormehl se huis wil gaan: Dis om vir Katrien Tosen te sien. Al sou hy nou vir Jeannie kon sien, hy durf nooit teenoor haar ontboesem nie. Hulle sal hom uit die nes werp. By Nothnagels is net plek vir rasegtes, vir die sterkes wat reeds getoon het dat hulle kan oorleef.

      ’n Gedagte tref hom, sinneloos maar nie onmoontlik nie. Sê nou net dat Senior juis vir hom, Jonathan Bergman, hierheen gestuur het om hom op die proef te stel? Dat hy weet van die leuens oor familie, dat hy ’n kans soek om die masker af te ruk? Dis tog onmoontlik. Hoe sou Senior van die Coetzees geweet het, van die familieband? Het hy, Jonathan, self gedagtes in Senior se kop geprop toe hy gretig blyk om hierheen te kom?

      Belaglik. Dis ’n doodgewone stuk roetinewerk hier op Isaacsdam, nie ’n spioenasie-intrige nie. Hy is paranoïes noudat sy verlede hom inhaal. Hy wens net dat hy hierdie Koos Coetzee kan peil. Hy is bykans honderd persent seker dat die man die waarheid van die familieskap weet. Waarom dan het hy sy vrou so driftig die swye opgelê?

      Jonathan trek hom lig aan. Hy besef teen hierdie tyd dat ’n pak klere eerder die uitsondering as die reël op Isaacsdam is. En die aand is nogal soel, vreemd windloos na die aanhoudende gespook van die suidooster. Noudat die natuur stiller is, gewaar hy die storm binne-in hom, en dis erger as om net jou ruie hare deurmekaar gepluk te vind.

      Terwyl hy in sy motor klim en deur die verstillende dorp ry, weet hy dat hy nie die regte ding doen nie. Maar die drang wat hom voortdryf, is sterker as hyself.

      Dis nie moeilik om Dormehl se huis te vind nie. Dis, soos oom Koos hom beduie het, die laaste huis regs op pad gholfbaan toe. ’n Ou huis, so vind hy, maar een wat seker goed en gerieflik ingeleef is. In die nuwe uitbreiding wil Dormehl skynbaar ’n soort paleis oprig, aan sy praat te oordeel.

      Om Katrien mee te vang, hmf. Of het hy haar reeds gevang? Sy sê mos sulke wonderlike dinge van hom. Maar noudat Jonathan reg daaroor nadink, was dit slegs uitinge van bewondering en nie van toegeneentheid nie. Aan die ander kant sal sy seker nie haar hart sommer oopvlek vir enigeen om te sien wat daarin aangaan nie.

      Die

Скачать книгу