Louisa du Toit Omnibus 9. Louisa du Toit
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Louisa du Toit Omnibus 9 - Louisa du Toit страница 22
Dormehl het reggemaak vir Katrien se besoek. Gras gesny.
Voordat hy aanklop, bly hy stil op die oorrankte stoep staan. Die voordeur is oop en binne sing iemand. Seker tog nie Katrien nie? Die stemmetjie klink jonk en onvas, sonder enige pretensie van kwaliteit. ’n Kitaar doen die begeleiding, ook heel eenvoudig.
Tog bly hy staan om te luister, omdat daar iets onuitspreeklik nostalgies is in die FAK-liedjie wat hy uit die sangperiode in sy skooldae onthou: “Sy was ’n deel van daardie somer, ek was ’n eensaam digter, dromer …”
Jonathan Bergman bly staan en luister. Hoeveel versies het dit dan? Die kind, as dit ’n kind is, se uitspraak is duidelik soos ’n klok: “Want nuwe somers kom en keer, maar daardie een kom nimmermeer.”
Die liedjie kry ’n gedraenheid wat vir Jonathan beetpak hier waar hy soos ’n standbeeld op die voorstoep staan. ’n Onlogiese blydskap vat in hom pos: Die meisie, Katrien, is nie alleen met Dormehl nie. Sy kinders, seker. Is mos glo ’n wewenaar. Lekker losloper, nè?
Die lied het opgehou, die kitaarklanke twôing dood tussen daar en hier. Geselsende stemme klink op. ’n Innerlike aanmaning dat hy liewer moet omdraai kom in Jonathan op. Dan, asof hy hom moet oorwin, lig hy sy hand en klop.
Dis ’n seun wat oopmaak, groot gebou, skugter.
“Is jou pa … is meneer Dormehl hier?”
“Ja, kom maar in, oom.”
Oom. Dis ’n nuwe een, maar Jonathan sluk dit. Hy onthou hoe kwesbaar ’n seun in hierdie stembreekstadium is, hoe maklik hy afgejak kan voel. Die weerloosheid ten spyte van manhaftigheid.
Dis die jare waarvan gesê word: Ek weet nie wat die seun makeer nie. Vir my was daar nog minder begrip as normaalweg, onthou Jonathan vlugtig toe hy in die vreemde, kort gang agter die seun aanstap. Want Janmaans was so besig om sy eie woelige lewe deur die maalstrome te loods. Maalstrome. Dis mos die gedagte wat hy gekry het na sy aankoms hier op Isaacsdam; dat hy, menende om in kalm waters te verkeer, ongemerk ’n maalstroom binnegedryf het.
Hy voel dit nou sterker. ’n Soort stroomversnelling, ongemerk, maar onmiskenbaar. Jy voel dat jy sterker gesleur word, maar dis gek om na vasgrypplek te soek, omdat alles ten slotte tog verbeelding kan wees.
In die woonkamer wat ook eetkamer vorm, staan hy ’n bietjie ontredderd waar die seun hom laat wag. Dormehl is nie op die oomblik in die vertrek nie. Langs die klavier is die dogter, die een wat gesing het, want sy blaai juis deur die dik bundel, skynbaar op soek na iets anders. Dormehl kan gerus genoeg vryheid aan sy dogter gee om meer moderne musiek te ontdek. Volgens die toestand van die boek moet dit ’n erfstuk van haar grootjie wees.
Dormehl kan ook sy dogter beter laat aantrek. Poniestert en bont wasrokkie. Of soek hy juis vir haar ’n moeder, daarom dat hy haar só vertoon?
Want in ’n diep stoel sit Katrien Tosen. Haar moderne bril pas haar vanaand selfs beter as die vorige keer. Haar hare is los en skoon, en sag lê die bloese teen haar sleutelbeen. Dis vir hom die mooiste plek aan ’n vrou, omdat hy weet dis waar ’n pols klop. Hy is bly dat sy eenvoudig hoewel treffend aangetrek het, dat sy nie ’n uitsonderlike uitrusting uitgesoek het nie.
Sy lyk so gewoon, asof hierdie sittery in Dormehl se huis sommer niks is nie. Maar die tafel is gedek met kerse. Dieselfde ou liefdespel as elders. Staar die dieptes van mekaar se oë binne in die gloed van die kers, nie ’n gebruikskers nie, maar een vir atmosfeer. Nadat die kinders na hulle kamers verkas het.
“Naand,” sê Katrien Tosen. As sy verras is oor sy binnekoms, verberg sy dit goed. Dalk speel sy buitendien goed toneel. Kyk hoe koel was sy daardie eerste middag in die winkel, terwyl Dormehl toe later beweer dat sy hewig ontsteld was.
“Goeienaand. Ek is jammer, dit lyk vir my ek maak inbreuk. Maar ek wou meneer Dormehl graag ’n paar oomblikke sien.”
“Hy sal nou hier wees,” sê Katrien, asof sy reeds die vrou van die huis is.
En inderdaad volg Gileam kort op haar woorde. Hy kom die vertrek binne met ’n skinkbord waarop daar ’n bottel wyn en ’n paar glase is. Nie ’n smaakvol ingeboude kroeg nie, sommer ’n skinkbord met die nodige.
’n Verbasende ding gebeur in Jonathan: Hy, wat in die Nothnagel-wêreld so gewoond geraak het aan ’n drankie as aan ’n snyerspak, voel ’n skielike weersin toe die man met die skinkbord binnekom. Die konnotasie is direk en pynlik: Janmaans … Dirkie … trane … skottelgoedwater. Vinnige trek in die nag.
Ek moes my nie tydelik losgemaak het van my latere lewenswyse nie, dink hy vinnig, nog voordat Dormehl kan praat. Los van my verlede, moet ek iewers vas wees, en dit was ek by Jeannie, tuis in ’n wêreld wat ek om my gevou het soos ’n nuwe kleed. Nou is ek nêrens vas nie, en ek sweef in ’n niemandsland rond.
“Goeienaand,” sê Dormehl met afwagting in sy kykers. “Wou jy my gesien het?”
“Ja. Net ’n oomblik.”
“Kom dan sommer uit stoep toe.”
En so, met sy arm in ’n boog in die lug agter Jonathan, lei hy die besoeker terug na waar hy vandaan gekom het: die buitedeur. Dis die grofste ontvangs wat Jonathan nog geniet het sedert hy ’n wêreld betree het waar gesindhede agter fyn maniere verberg lê.
“Ek is nie aan stoepkonferensies gewoond nie,” sê hy ysig toe hulle buite kom waar ’n allenige kriek verskrik sy rasperlied staak.
“En ek is nie gewoond aan indringers op groot oomblikke in my lewe nie, Bergman.”
Wanneer Dormehl uitgevind het dat hy Bergman is en nie Berg nie, is eintlik nie meer ’n vraag nie. Hy het immers nie werklik onder ’n skuilnaam hierheen gekom nie. Hy het voorgegee dat hy net binnensmonds praat.
“Kyk, meneer Dormehl, ek moes vanaand kom. Ek vind uit dat jy ’n yslike gekonkel op tou het.”
“Gekonkel? Jy bedoel dat ek spook om daardie terrein te bekom wat ek vir my gemerk het? Jy’t gesê jy kan my nie help nie, jy doen net jou werk. Niks belet my om op my manier te werk te gaan nie. Ek is nie agteraf nie. Ek pla jou net nie. Jy is besig om jou werk te doen, of hoe?”
“Ons is nie seuntjies in ’n speelgoedwinkel nie, Dormehl. Waarom kan jy nie by die reëls inval en ’n ander stuk grond kies nie? Ek is seker met jou geld en invloed sal jy heel eerste kan koop.”
“Dan sien jy die sakie weer ’n keer skeef, my maat. Ek is nie ’n bedorwe kind in ’n speelgoedwinkel nie. Ek mik net baie hoog, dis al. Dit verskaf my geen satisfaksie meer om te koop, of om eienaar van ’n nuwe plaas te wees, of die rykste man in die buurt nie. Ek wil ’n groot ding doen, ’n projek aanpak wat hierdie dorp ’n stoot sal gee tot daar doer. Ek wil nie net maai nie, ek wil ook weer terugploeg. Ek wil ’n nuwe aangesig, ’n nuwe status aan Isaacsdam gee. Dit sal ek doen met Dormehldorp, daar naby die rivier.”
“Ek dog jy sê dis ’n spruit,” onthou Jonathan sarkasties.
“Wat ook al. Het ek jou al gesê dat ek nou ook dink aan ’n plesieroord? Rondawels, ’n voëlpark …” Gileam Dormehl glimlag ’n bietjie simpatiek. “Hoe gaan ek hierdie dinge doen op ’n simpel erfie of twee in die middel van die dorp? Plaas my daar op die rand van die affêre, en die hinterland lê vir my oop. ’n Wildreservaat, dalk selfs die Groot Vyf,” murmel