Sarah du Pisanie Omnibus 11. Sarah du Pisanie
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 11 - Sarah du Pisanie страница 21
“Ons … ruim alles weer op,” probeer hy ongemaklik aan Adolf verduidelik. “Frau Hannie is bly as ons die aand self kos maak. Dan kan sy ’n bietjie tyd by haar eie gesin deurbring …” Gustav stotter soos ’n vryersklong en Adolf kry hom uit sy hart uit jammer.
Adolf glimlag gerusstellend met hom en kyk dan smekend na Christa. “Ek het vandag nog niks geëet nie. Hier … hier is nie dalk iets oor nie?” vra hy vriendelik en kry skaam vir die verbaasde uitdrukking op Christa en Gustav se gesigte.
“Daar is nog, maar dit is al koud. U kan daar binne wag dan maak ek gou vir u iets anders,” stotter sy.
“Nee, dit is goed genoeg!” Adolf wag nie vir hulle om hom weer teë te gaan nie maar gaan sit by die tafel. Gustav se oë is groot soos papborde. Hy kry eerste lewe en gaan haal gou vir Adolf skoon eetgerei.
Christa skep vir hom van die orige pasta en souskluitjies in en Adolf smeer solank vir hom ’n sny brood met dik botter op, waarvan hy groot happe vat. Christa kan sien dat hy óf hierdie eenvoudige maal terdeë geniet óf dood is van die honger.
“Sit asseblief!” Adolf beduie na die stoel. “Ek kan nie so opkyk nie.”
Sy gaan sit ongemaklik eenkant en teken met haar vinger patroontjies op die tafeldoek. Uit die opwasplek is dit net die geklingel van skottelgoed wat hoorbaar is.
“Ons is klaar, Mutti … e … Fräulein. Ek sal die kinders laat bad,” rapporteer Gustav en Christa kan die verligting in sy stem hoor dat hulle uit die kombuis kan wegkom.
Daar heers ’n doodse stilte wanneer die kinders uit is en dit is net die geskraap van eetgerei wat hoorbaar is. Hy hou sy bord uit vir nog van die souskluitjies en Christa se hart swel van trots as sy sy bord weer vol skep.
“Waar is Bernard?” vra Adolf onverwags.
“Hy … e … hy voel nie gesond nie en ek het gesê hy kan maar vroeg gaan lê.” Christa ontwyk sy oë en sy besef dat sy al weer by sy reëlings ingemeng het.
“Wie kyk dan saans na die seuns?” vra Adolf en frons liggies.
“Ek gaan loer in as hulle klaar gebad het. Bernard is oud, baron,” maak sy vinnig verskoning. “Ek doen dit graag, dit is nie moeite nie.”
Hy lewer nie kommentaar daarop nie maar eet eers klaar en vee dan tydsaam sy mond met die servet af. Daar is ’n glinstering in sy oë as hy uiteindelik reageer. “Dit was baie lekker, dankie, Mutti.”
Sy loer vinnig na hom. In die verlede sou sy geweet het dat hy die aanspreekvorm nie goedkeur nie, maar vanaand is hy so anders dat sy heeltemal verward is.
“Hulle … hulle mis ’n moeder. Dit … dit kan tog nie kwaad doen nie, kan dit? Ek meen, dit is nie dat hulle dink ek is hulle moeder nie. Dit is net vir hulle lekker om die woordjie weer te kan sê. Hulle toon tog steeds die nodige respek.”
Hy kyk stil na haar en daardie snaakse, amper hartseer trek is weer in sy oë. Dit maak haar verleë en ongemaklik.
“Ek het ook nie gedink dat hulle jou nié respekteer nie. Ek … ek het eintlik niks daarmee bedoel nie,” antwoord hy en sug liggies as hy opstaan.
9
“Fräulein …?” Bernard staan in die deur. “Die baron wil jou in sy studeerkamer spreek.”
Christa kyk verbaas na Bernard en trek haar wenkbroue vraend op. Aan die uitdrukking op sy gesig kan sy sien hy is net so in die duister soos sy.
“Maar dit is al halfnege?” Christa staan op en trek haar rok reg en kam haar hare.
“Ek weet, Fräulein, maar hy kry darem ook nie gedurende die dag tyd om iets met jou te bespreek nie. Jy is die hele dag met die kinders besig.” Bernard voel dat hulle darem regverdig teenoor Adolf moet wees.
Haar hart klop wild as sy met die gang afstap. Sy is deesdae nes ’n bakvissie as hy in die nabyheid is. Haar lippe is droog en haar hart spring in haar keel en sy sien allerhande vergesigte as hy met daardie ernstige blou oë na haar kyk. Deesdae wil sy haar verbeel dat sy oë ’n teerheid uitstraal en dat hy ook glad nie meer so kwaai is met die kinders nie. Sy het hom al betrap dat hy half verlangend na die kinders staar … asof hy graag met hulle wil vriende wees, maar sy besef dat dit sommer haar hart is wat parte met haar speel.
Maar hy is beslis anders deesdae. Sy kan dit nie meer aan haarself ontken nie. Die eerste aand ná hy teruggekom het, het hulle soos gewoonlik in die eetkamer geëet. Toe hy klaar gedank het, het die kinders egter bly sit asof hulle dit vooraf afgespreek het. Hulle het smekend na haar gekyk. Sy weet dit gaan nie net oor die stukkie uit die Bybel wat sy voorlees nie, maar ook die lekker samehorigheid en om saam te kan sing.
Adolf het vraend na die kinders en toe na haar gekyk. Christa het bloedrooi gebloos en saggies in Gustav se oor gefluister: “Ek sal vir julle in die kamer kom lees.”
Gustav het vinnig na die ander gekyk en toe die moed bymekaar geskraap en na Adolf gedraai. “Sal baron omgee as Mutti vir ons aandgodsdiens hou?” Hy het dadelik weer voor hom op die tafel gekyk en hom voorberei om nee as antwoord te hoor.
Adolf het sy kop onbegrypend geskud omdat dit soveel moed moes verg om hom so ’n eenvoudige ding te vra. “Nee, glad nie, doen dit gerus,” het hy vriendelik ingestem en na Christa gekyk.
Toe Gustav die Bybel voor haar wou neersit, het sy dit vinnig in sy hande teruggedruk en gesê: “Gee dit vir die baron. Hy is die hoof van hierdie familie.” Sy het veiligheidshalwe nie in sy rigting gekyk nie. Adolf was beslis ongemaklik en het eers stotterend begin lees totdat die woorde tot hom deurgedring en dit bekend op sy tong kom lê het. Sy mooi stem het rustig op almal ingewerk. Toe hy klaar is, het hy ’n kort maar opregte gebed gebid en toe half skaam vir hulle gegrinnik. “Sing kan ek nie … een van julle sal dit moet insit. Mutti?” het hy tergend na haar kant toe gevra.
Die loflied in haar hart was op haar lippe. Teen die tweede versie het hy ook ingeval. Effe van die noot af, maar dit het heerlik saamgevloei en hulle tot ’n eenheid gebind.
Sy het onderlangs na hulle gekyk … haar twaalf manne! Die vreemde gedagte het trots in haar binneste nesgeskop en haar die laaste akkoorde laat uitjubel.
Voor die studeerkamerdeur vee sy die klammigheid van haar hande aan haar heupe af. Die senuweeagtigheid is weer terug in haar knieë as sy op sy bevel die deur oopstoot.
Hy is nie agter sy lessenaar nie en haar oë soek deur die vertrek. Hy sit op die rusbank en voor hom op die koffietafel is ’n skinkbord met ’n pot koffie en twee koppies.
“Kom sit … kom drink saam met my koffie.” Hy lig hom effens op totdat sy sit en beduie na die skinkbord. “Sal jy vir ons inskink?” Haar hande bewe liggies as sy syne vir hom aangee.
“U wou my sien, baron,” sê sy en wens haarself geluk dat haar stem so normaal klink.
“Wel, ja … eintlik is ek vreeslik verleë.” Sy kyk vraend na hom en sien dat hy werklik verleë is, selfs skaam.
“Ek voel gemeen om so iets van jou te vra. Jy doen alreeds tien mense se werk. Jy … jy kan nie dalk tik nie?”
Christa glimlag breed en die groen oë vonkel ondeund. “Ja, toevallig kan ek. Ek