Sarah du Pisanie Omnibus 11. Sarah du Pisanie
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 11 - Sarah du Pisanie страница 22
“Ek sal dit met graagte doen,” bied sy aan, en hoekom daar so ’n skielike opgewondenheid in haar binneste is, kan sy nie verklaar nie.
“Gaan dit nie te veel vir jou wees nie? Jy is dan nog saans besig met die seuns ook,” vra hy.
“Nee wat, ek gaan loer net so halftien by hulle in om seker te maak hulle is in die bed en dat hulle ligte af is.”
“Dit kan ek doen,” bied hy joviaal aan. Christa wil protesteer want die seuns sal niks daarvan hou as hy hulle moet kom nagsê nie. Sy glimlag stilletjies. Dit het sommer vanself so gekom dat sy hulle saans almal nag soen. Maar sy swyg liewer wyslik. Hy lyk deesdae dikwels soos ’n hondjie wat verwag om getroetel te word en dan ’n skop op die maag kry.
“Wil u hê ek moet sommer nou begin?” vra sy en hoop van harte dat dit dringende werk is. Dit is baie, baie lekker om so naby aan hom te wees in die intieme atmosfeer van die studeerkamer.
“Is dit nie nou al te laat nie?”
Christa hoor egter die hoop en verwagting in sy stem. “Nee, wat, glad nie. Ek gaan slaap nie voor elfuur nie. Dit is maar eensaam so sonder geselskap,” sê sy sonder om te dink en bloos bloedrooi as hy instemmend knik.
“Ja … ja, ek weet wat jy bedoel,” sê hy met ’n skewe laggie.
Christa ervaar skielik ’n begeerte om hom, soos die seuns, vas te hou en ’n soentjie op sy voorkop te druk. Hy lyk so eensaam en alleen. Sy het darem die seuns om mee te gesels, maar niemand soek hom ooit op nie.
Adolf redeneer nie verder nie en aanvaar dankbaar haar aanbod. Hy gaan haal ’n pak papiere en wys haar waar die tikmasjien is. Dit is ellelange verslae oor al hul besighede in Suidwes-Afrika en Christa sug van verligting as sy dadelik besef dat dit weke se werk is.
Haar vingers is maar stram aan die begin maar algaande gaan dit beter. Sy raak heeltemal verdiep in die werk en is net vaagweg van Adolf hier skuins agter haar bewus.
Halftien staan Adolf op. “Wat moet ek alles doen? Moet ek net kyk of hulle almal in die bed is en die lig afsit?”
Christa kyk glimlaggend op na hom en dit maak iets teers in hom wakker … iets wat hy gedink het nie meer in sy lewe bestaan nie.
“Vra vir Kurtie of hy by die toilet was en vir Udo of hy sy tande geborsel het,” sê sy met ’n ondeunde vonkel in haar oë. Hy grinnik en stap uit. Christa druk met haar hand op haar bors. Sy is bang haar hart spring by haar keel uit. Dit was so ’n natuurlike gesprek, soos tussen ou vriende, dink sy.
Sy onderdruk die vreemde opgewondenheid in haar met mening. Hy weet wie sy is en dink niks van haar nie … hoe op aarde sy so simpel kon wees om op hom te gaan staan en verlief raak, kan sy glad nie verstaan nie. Dit is iets wat sy wortels en tak sal moet uitroei voordat dit saadskiet, besluit sy vasbeslote.
As Adolf terugkom, is daar weer daardie ondeunde vonkel in sy oë. “Kurt was by die toilet maar Udo het nie sy tande geborsel nie.” Christa grinnik en knik terwyl haar vingers steeds oor die toetse gly.
“Ek … e … ek dink jy moet maar gaan inloer. Hulle is nou heeltemal ontwrig omdat jy nie daar was nie. Hulle dink seker ek het jou ’n pak slae gegee of weggejaag …” Sy hoor weer die vreemde hartseer in sy stem, maar die ongeloof oor sy woorde oorheers haar rasionele denke. Sy staan dus vinnig op en stap by die deur uit sodat sy hom nie oopmond sal aangaap nie.
’n Mens sal dink sy is uit die dode opgewek so bly is die kinders om haar te sien. Hulle kom drom om haar saam en almal praat gelyk, en Christa weet dat nie een van hulle die moed gehad het om Adolf te vra waar sy is nie.
Sy verduidelik vinnig en hulle gaan kruip tevrede terug in die bed. Daar is egter ’n groot dankbaarheid in haar hart. Hulle het net tyd nodig. Hy sal nog die kinders se liefde wen. Dit was net hy wat sy houding moes verander. Sy moet meer moeite doen om hom en die kinders bymekaar uit te bring, besluit sy.
Hulle werk in stilte voort tot amper elfuur maar dan staan Adolf beslis op. “Jy moet gaan slaap … Mutti!”
Christa bloos bloedrooi. “Ek kan nog ’n rukkie aangaan. Ek gee nie om nie.”
“Ja, maar ek gee om. Ek kan nie bekostig dat jy môre vaal en vaak lyk nie. Daardie klomp manne van jou het niks nodig om jou om hulle pinkie te draai nie. Hulle sal toeslaan sodra hulle sien dat jy moeg en afgerem is.” Sy weet hy terg haar en haar hart klop swaar aan hierdie ongevraagde liefde wat haar so stil-stil bekruip het.
Christa kan die volgende dag nie wag dat dit moet aand word sodat sy weer saam met hom in die studeerkamer kan gaan werk nie.
Hulle werk stil-stil saam en op die kop halftien staan hy op en stap uit. Wanneer hy terugkom, is daar ’n skewe glimlaggie om sy mond en die blou oë dans van ondeundheid.
“Udo se tande is geborsel, maar Kurt was nie by die toilet nie. Gustav het toestemming gevra om nog te leer in die klaskamer.”
Christa glimlag en kan aan niks dink om te sê nie. As hy haar met daardie mooi blou oë van hom aankyk, slaan haar hart skoon bollemakiesie.
“Ek het hom toestemming gegee. Is dit reg so?” vra hy. Sy knik en die kuiltjie in haar wang laat haar jonk en onskuldig lyk.
Die week vlieg verby en die kinders is tog kriewelrig omdat sy nie meer saans vir hulle kom nag sê nie. Vanaand is dit Vrydagaand en dan mag hulle ’n bietjie later opbly. Die kinders loer afwagtend na haar en Hannie. Sy weet hulle wil weer self kos maak vanaand.
Sy skraap dus al haar moed bymekaar. Sy sal Adolf vra of hulle nie maar vanaand iets saam met die kinders kan doen nie. Net na middagete gaan klop sy aan sy deur. Hy kyk op en daar is sowaar ’n bly liggie in sy oë as hy haar in die deur sien staan.
“Baron … ek wil vir u ’n guns vra. Dit is Vrydag.”
Sy gesig val effens maar dadelik glimlag hy bemoedigend. “Nee, dit is alles in die haak, jy hoef nie vanaand te kom tik nie.”
“Dit is nie dít nie, baron. Dit is die seuns! Hier is nie ander afleiding vir hulle nie. Kan … kan ons nie vanaand iets doen wat hulle kan besig hou nie? Speletjies of … of ’n konsert? En … mag ons maar vanaand weer self kos maak. Hulle geniet dit so en dan kan Hannie ook tyd met haar gesin deurbring.” Sy rammel alles af voordat haar moed haar weer begewe.
Hy frons liggies en dadelik is die senuweeagtigheid terug in Christa se binneste. Sy frommel die sakdoekie in haar hande op. “As … as u nie wil nie, dan is dit reg.” Sy draai om en wil uitgaan, maar hy staan vinnig op en loop om die lessenaar.
“Moet nie altyd maak asof ek julle alles misgun nie!” Hy klink vies en Christa kyk verbaas na hom. “Natuurlik kan julle self kos maak. Ek wil net nie hê ons moet jou so oorlaai nie. Ek kan nog personeel aanstel.”
“Nee!” Christa keer vinnig. “Dit … dit is glad nie moeite nie. Ons geniet dit! Veral die seuns, hulle help so fluks.”
“Ja, ek het gesien, die aand toe ek van Swakopmund af teruggekom het. Hulle was so vrolik en uitbundig.” Daar is ’n verlange in sy stem wat sy nie kan ignoreer nie.
Christa verloor skielik al haar vrees vir hom en sit haar hand ingedagte op sy arm. “Hulle is skaam vir jou, dis al. Hulle bars skoon uit hulle nate uit …