Sarah du Pisanie Omnibus 11. Sarah du Pisanie
Чтение книги онлайн.
Читать онлайн книгу Sarah du Pisanie Omnibus 11 - Sarah du Pisanie страница 23
Christa het lus om te huil. Die arme, eensame mens wat met sy hartseer en haat almal in sy lewe verstoot het en nou nie weet hoe om toenadering te soek nie.
Sy glimlag met hom. “Dan maak ons dit ’n vaste reëling. Elke Vrydag- en Saterdagaand. Dan kan Hannie daardie aande afkry.” Sy draai vinnig om sodat hy nie die trane in haar oë moet sien nie en stap weg. Adolf kyk haar stil met ’n half verwarde uitdrukking op sy gesig agterna.
Hannie soen sommer vir Christa wanneer sy vir haar van die nuwe reëlings kom vertel. “Ag, dankie, Christa, kind. Daar is ’n hoendergereg wat jy net in die oond kan steek. In die spens is appelterte vir die kinders.” Sy haal haar voorskoot af en stap agterdeur toe.
“Jy bederf die kinders, Hannie!” Christa probeer kwaai klink, maar Hannie kan die goedkeuring in haar stem hoor.
“Hulle is so dierbaar! Arme ou Udo’tjie is altyd honger!” verweer sy haar met ’n laggie.
Christa gaan roep die seuns bymekaar. Party studeer en die ander oefen in die musiekkamer. “Ons gaan vanaand konsert hou! Gustav, jy moet alles reël. Ná ete in die sitkamer.” Die kinders koek om haar saam. Hulle lag en beraam planne en die opgewondenheid is tasbaar in die lug.
“Ons maak weer self kos ook.” Christa lag as die kinders hardop juig. “Ons mag nou elke Vrydag- en Saterdagaand self kos maak.”
Die kinders se uitgelatenheid in die kombuis is dié aand effe meer gedemp maar niks minder intens nie. Niemand verwag dat Adolf homself so sal verneder om ’n deel van hierdie pret te wil wees nie.
Peter, wat die room vir die appelterte moet klop, smeer ’n streep room op Klaus se bolip sodat dit soos ’n yslike dik wit snor lyk.
“Peter!” raas Christa. “Jy is so stil en jy doen die meeste kattekwaad!” Peter klop egter ywerig aan die room asof dit nie met hom is wat daar geraas word nie. Klaus vee die room met sy vinger af en lek dit met ’n klap van sy lippe af.
“Is julle klaar tafel gedek?” vra Christa oor haar skouer. Heinz skud die groot tafeldoek uit en hou dit oop soos ’n bulvegter se mantel en Carel laat hom nie twee keer nooi nie. Hy storm in die oop tafeldoek in, met sy hande soos horings teen sy kop.
“Carel en Niko!” raas Christa.
“Wat maak ek?” vra Niko onskuldig hier agter haar.
Christa loer eers weer vinnig oor haar skouer en lag dan. “As Carel kwaad doen, is jy gewoonlik ook by.” Niko neem geen aanstoot nie, skuif net nader aan haar en loer in die kastrol terwyl hy behaaglik in die lug snuif.
Adolf staan doodstil in die deur. Hy wil ook deel van hierdie plesier wees. Hulle lyk so gesellig en huislik, so gelukkig bymekaar dat dit hier binne-in hom dofweg pyn.
“Mutti, kan ek die bak uitlek?” Klaus het die bak waarin die room geklop was, gekonfiskeer.
“Nee, die bak is myne …” kla Kurt.
“Vir wat?” Klaus hou die bak buite Kurt se bereik.
“Ag, Klausie, gee maar vir hom die bak, hy is tog klein …” sê Christa, maar toe sy opkyk, sien sy die selfvoldane uitdrukking op Kurt se gesig, wat haar vinnig van besluit laat verander. “Sit die bak op die tafel neer dan kan al twee van julle dit uitlek.”
Bernard kom by die agterdeur in en Adolf wat nog steeds diep in die skemerte staan, verstom hom aan die vrypostigheid waarmee die kinders hom bejeën. “Jy kon mos maar die aand afgevat het, Bernard,” sê Christa. “Ons het mos vir jou gesê ons maak vanaand self kos. Ons eet sommer in die kombuis.”
“Ja, die kinders het vir my gesê, maar die baron sal tog nie hier eet nie. Ek sal hom daar binne moet bedien.”
Christa kyk vinnig na Bernard. Adolf kan aan die uitdrukking op haar gesig sien dat sy nooit daaraan gedink het nie en dit vlei hom in ’n mate. “Ek sal hom gaan vra of hy nie saam met ons hier wil eet nie. Gaan rus jy maar, Bernard. Hoe voel die ou been?”
“Seer, Christa, kind, baie seer! Die rumatiek vreet my nou op,” kla hy somber.
Die seuns kom drom om hom saam en Gustav vryf Bernard tussen sy blaaie waar die ou spiere knopperig saamtrek. Heinz kom vat die eetgerei uit Bernard se hande uit. “Ek sal gou vir die baron binne gaan dek. Ons sal hom sommer self bedien.”
“Gmf!” snork Bernard verontwaardig. “Sal ek nou een van julle daarmee vertrou? Julle is glads te onmoontlik!”
“Haai, Bernard!” protesteer hulle luidkeels en kastig vreeslik verontwaardig.
Adolf stoot die deur wyer oop en kom in. Daar is ’n warm gevoel in sy binneste. Sy het aangebied om hom te vra om saam met hulle te eet, juig sy hart.
“Is ek betyds vir ete? Ek weet nie presies hoe laat word etes in die kombuis voorgesit nie,” sê hy sedig.
Christa se hart gaan so wild te kere dat sy nie eers aan iets kan dink om te sê nie. Sy het lus en soen vir Stefan as hy heel natuurlik reageer. “Ons gaan nou eet, baron. Maar ’n ou moet skottelgoed was as jy hier binne wil eet.”
Adolf kyk eers verbaas na die kind en dan gooi hy sy kop agteroor en lag skaterend. Christa en die ander kinders kyk half verdwaas na hom en dan begin hulle rukkerig saamlag.
Heinz gaan dek nog ’n plek en Bernard vryf aan sy seer skouer. “Wel, baie dankie … dan gaan lê ek maar weer,” groet hy en stap mank-mank deur toe.
“Ons sal vir jou kos bring, Bernard,” bied Stefan besorg aan en Jurgen knik instemmend. Adolf kyk na die liefdevolle hande wat vir Bernard tot by die deur help. Hulle is werklik dierbare kinders. Dit word vir hom elke dag duideliker dat ou Bernard op sy eie manier vir ’n lang, lang tyd hulle enigste anker was.
Christa beland langs Adolf waar hy aan die kop van die tafel inskuif en na sy hartlike lagbui is dit asof die kinders ook minder gespanne is. Goeie maniere is so ’n deel van hierdie kinders se opvoeding dat nie een van hulle dit eers oorweeg om luidrugtig of lawaaierig te wees nie. Dit word dus net ’n heerlike, ontspanne ete.
Udo hou sy bord vir die derde keer uit vir nog ’n stukkie appeltert. Christa maak hierdie porsie kleiner en vryf liefderik oor sy wang. Adolf hou ewe astrant sy bord ook uit vir nog ’n stukkie en knipoog ondeund vir Udo as sy porsie groter is.
“Baron hoef nie regtig skottelgoed te was nie,” sê Klaus as hulle opstaan. “Ons sal self was. Mutti kan ook maar daar binne gaan sit.”
Gustav gooi die koffiekan wat op die klaargedekte skinkbordjie staan, vol, en hou die skinkbord na Adolf uit. Hy neem dit by hom asof hy dit elke dag doen en glimlag vir Christa. “Nou toe, kom. ’n Mens kry nie elke dag so ’n aanbod nie.” Hy staan terug sodat sy eerste by die deur kan uitgaan. Christa voel of sy op ’n sagte wit wolk loop. Die geluk in haar word so oorweldigend dat dit haar hele wese vul.
Die kinders borrel oor van opgewondenheid oor die konsert en Christa lig vir Adolf oor die res van die aand se program in as hulle die sitkamer binnestap. Hy knik tevrede, sit die skinkbord neer en gaan sit diep agteroor in ’n gemakstoel, soos ’n ou getroude man, en wag dat sy hom moet bedien.
Die seuns was die skottelgoed in ’n rekordtyd en dit is skaars ’n halfuur later dat hulle,